Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Druk help nuwe landskap skep
Alida Kok
Alida Kok

Vandeesweek het die hooggeregshof in Johannesburg beslis dat dele van die Rica-wet “ongeldig” en “ongrondwetlik” is nadat die mediagroep amaBhungane in 2017 ’n hofaansoek by ingedien het wat die grondwetlikheid van Rica bevraagteken.

Die hofuitspraak sluit die beslissing in dat massa-meeluistering en -onderskepping van kommunikasie onwettig en ongeldig is. Rica bepaal onder meer dat iemand wat ’n simkaart koop, ’n bewys van identiteit en ’n woonadres moet verskaf.

Hierdie is die eerste groot uitdaging in ’n Suid-Afrikaanse hof van hedendaagse regeringspraktyk om gebruik te maak van massa-meeluistering en -onderskepping van kommunikasie. Dit kan gesien word as ’n poging deur die burgerlike samelewing om vryheid te beskerm en redelike deursigtigheid in die staat se nasionale veiligheidsbehoeftes te bewerkstellig.

Die hof gee die parlement nou twee jaar om die Rica-wet aan te pas sodat dit binne die bloudruk van die Grondwet val. Intussen moet amaBhungane, soos deur die Grondwet vereis, by die konstitusionele hof aansoek doen om die hooggeregshof se beslissings in die saak te bevestig.

In dieselfde asem moet amaBhungane wel geprys word dat hy homself as waghond die taak toegeëien het om magsvergrype deur die regering in die hof uit te daag.

As ’n onafhanklike nuuskamer en sentrum vir ondersoekende joernalistiek sonder winsbejag wat daaraan toegewy is om “vrye, bekwame media en oop, verantwoordelike, regverdige demokrasie te bevorder”, was amaBhungane genoop om die regering hof toe te neem nadat dit bekend geword het dat een van sy joernaliste, Sam Sole, se kommunikasie onderskep is terwyl hy oudpres. Jacob Zuma ondersoek het.

In dieselfde asem moet amaBhungane wel geprys word dat hy homself as waghond die taak toegeëien het om magsvergrype deur die regering in die hof uit te daag, want die hof het gelas dat die parlement wetgewing (wat in Januarie 2003 in werking getree het) moet aanpas sodat dit grondwetlik is. Hierdie uitspraak en die konkrete gevolge daarvan bring mee dat ’n been van die regering – die wetgewende gesag – moet herbesin, asook dat die invloed van die ministers van justisie en korrektiewe dienste, staatsveiligheid, kommunikasie, verdediging en militêre veterane, asook polisie in die parlement in ’n mate teruggedruk word.

Die fusie tussen die regerende party en die staat, asook van die uitvoerende en wetgewende gesag weens die ANC-meerderheid in die parlement, plaas die onus op die burgerlike samelewing om as teenwig nóg harder te werk om veral die uitvoerende en wetgewende gesag aanspreeklik te hou.

Solank as wat die ANC ’n dominante party bly en ’n meerderheid in die parlement behou, bly die moontlikhede vir werklike politieke verandering en hernuwing buite die parlement in ons burgerlike samelewing. Rolspelers buite die parlement moet die wetgewende gesag (deur die hof) dwing om besluite te neem wat ten gunste van die hele Suid-Afrikaanse samelewing is.

Ons gaan nog lank wag vir die einde van ’n dominante partystelsel. In die lig van die ontoeganklikheid van ANC-partypolitiek vir die meeste Suid-Afrikaners, is daar wel verskeie ander opsies vir mense om invloed op die regering uit te oefen en ’n beter verdeling van mag in die land te bewerkstellig. Die ondersteuning van ’n buite-parlementêre rolspeler wat druk op die parlement plaas, is een so ’n opsie.

Dít, tesame met die toename in minderheidskoalisieregerings op munisipale en provinsiale regeringsvlak, toekomstige meerderheidskoalisieregerings en die ondersteuning van opposisiekoalisies binne en buite die parlement, sal ons politieke landskap stadig maar seker laat verander.

Meer oor:  Alida Kok  |  Politiek  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.