Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Druk op media oor waarheid
Johannes Froneman

Die meesterlike John le Carré se boek The Constant Gardener vertel die verhaal van ’n Britse diplomaat se aktivistiese vrou wat vermoor word omdat sy die gekonkel van ’n farmaseutiese maatskappy op die lappe wou bring.

Ná die slot noem die skrywer dat die verhaal fiktief is. Met die tong effe in die kies sê hy die uitgewer se prokureurs het op die nota aangedring.

Nou het dit aan die lig gekom dat ’n groot internasionale agro-chemiese maatskappy ’n afdeling gehad het wat alles moontlik gedoen het om ’n Reuters-joernalis in ’n slegte lig te stel. Haar sonde was dat sy berig het (en ’n boek geskryf het) oor die nadelige gevolge van ’n onkruiddoder wat deur die maatskappy bemark word.

Hofstukke toon selfs dat Google betaal is om negatiewe kommentaar op die boek te bevorder, dus prominent te laat opduik wanneer gebruikers soektogte doen wat met die saak verband hou. Daar is ook druk op Reuters, ’n internasionale nuusagentskap, geplaas om Carey Gillam, die joernalis, liewers van die storie af te haal. Om alles te kroon was daar ’n geskarrel oor navorsers se bande met die maatskappy en die verdoeseling van negatiewe bevindings.

Hier bevestig die werklikheid die fiktiewe verhaal. Die internasionale konglomerate – of dit nou agro-chemiese maatskappye, groot banke of motorvervaardigers is – huisves knaend korrupsie. Hulle verneuk en verdoesel, tot op die hoogste vlak. Daarom moet hulle van tyd tot tyd freneties keer dat hul wandade aan die lig kom.

Ek verdink nie almal van skelmstreke nie, maar het geen twyfel nie dat miljoene wêreldwyd bestee word aan die omkoop van joernaliste. Dit word uiteraard nie blatant gedoen nie. Bruin koeverte vol omkoopnote is darem baie kru, maar het ook al in Suid-Afrika voorgekom.

Die koop van invloed is gewoonlik subtieler. Wel, subtiel as jy naïef is. Want die Engelse spreekwoord sê tereg dat geen gratis middagete ooit gratis is nie. Gunste en gawes kom teen ’n prys. Joernaliste word nie normaalweg omgekoop nie, maar “in staat gestel” om hul werk te doen. Soos met die aanbied van “gratis” reise na eksotiese plekke. Of die “gratis” gebruik van voertuie.

Daarom verklaar etiese publikasies openlik wanneer hulle van gasvryheid gebruik gemaak het. Dit is ’n oranje lig.

Gunste word ook gekoop deur die voer van onskadelike brokkies eksklusiewe nuus.

Gunste word ook gekoop deur die voer van onskadelike brokkies eksklusiewe nuus. Selfs net die saamnooi op ’n vlug sal waarskynlik met toutjies gepaardgaan. Jy kan jou “gratis” plek op die vliegtuig maklik verbeur as jou beriggewing dalk die president ontstel. Selfs ’n uitnodiging na ’n politieke party se konferensie kan ’n uitdaging wees. Hoeveel gasvryheid kan jy aanvaar voordat jou onafhanklikheid gekompromitteer word?

Die plasing van ’n kritiese berig oor rook het my jare gelede ’n teregwysing op die hals gehaal. Weet ek hoeveel papiertjies wat in die plat sigaretboksies kom (of gekom het) word deur ons maatskappy gedruk? Die boodskap was duidelik: Ons skryf nie oor die gevolge van rook nie.

Dink net watter etiese integriteit word van ’n landboujoernalis geverg wanneer miljoene op die spel is? Kortom, hoe skryf ’n joernalis eerlik wanneer ’n groot adverteerder betrokke is?

Met die groot veranderinge in advertensiebesteding het baie publikasies ’n deel van hul eertydse inkomste verloor. Maar dalk wen hulle daarmee ook groter vryheid.

Tog sal druk op allerlei ander maniere op die media uitgeoefen word om die storie te verswyg of aan te pas.

Dit is ’n stryd sonder einde.

  • Froneman is ’n onafhanklike joernalis en ’n afgetrede professor aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Boek  |  Media  |  Waarheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.