Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Druk op vroue groot in ’n tyd van inperking

In ’n artikel vir The Conversa­tion ’n week gelede voer die politieke wetenskaplike prof. Steven Friedman aan dat, anders as wat ons graag wil glo, pandemies nie noodwendig mense oor die klas- en rasgrense verenig nie. 

Ons sou graag wou dink dat dit ons bewus maak van ons gedeelde kwesbaarheid, maar inteendeel, pandemies lê juis ons verdeeldhede pynlik bloot. En as daar ooit ’n tyd was dat die middelklas tot die besef kom dat die ongelykhede in ons samelewing ons almal in gevaar stel, is dit nou.

Want so onaangenaam as wat dit is om nou daaroor te dink en te praat, besef almal terdeë dat die sistemiese armoede wat die laaste paar eeue in ons land en in vele ander postkoloniale samelewings opgebou het, daarvoor verantwoordelik is dat ons nou so kwesbaar is. 

Wat ons ook in hierdie tyd besef, is hoe verweef ons lewens is en hoe afhanklik ons van mekaar is. Want die virus het dalk die land op ’n vliegtuig ingekom, maar ons almal se vrees is dat hy via ’n minibustaxi ongekende verwoesting gaan saai – en ons almal weet die skakel tussen vliegtuig en taxi lê in ons middelklas-huishoudings.

Wat hierdie krisis ook verder blootlê, buiten vir rasse-ongelykheid, is voortslepende geslagsongelykheid en hoe kwesbaar die vordering is wat vroue die laaste paar dekades gemaak het.

Dit is nie bloot ’n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. 

Ek behoort aan ’n Facebook-groep waar oorwegend Amerikaanse akademiese ma’s raad en ondersteuning uitruil. En tans sien ’n mens deurgaans die refrein: Met universiteite en skole wat gesluit word, word daar van hulle verwag om eensklaps met skreeuende kinders op die agtergrond al hul kursusse aanlyn te migreer – en dan ook tuisonderrig aan hul spruite te gee. Die druk om tegelyk heeltydse ouer, werker en onderwyser te wees, is enorm.

Hier in Suid-Afrika sien ek dit onder werkende ma’s, wat daarvan afhanklik is dat ander vroue, en by name swart werkersklasvroue, na hul kinders omsien sodat hulle professionele beroepe kan beoefen. Want vir ’n vrou om te presteer, moet daar steeds ’n ander vrou wees om die tradisioneel vroulike take te verrig. 

In daardie opsig het die samelewing nie getransformeer nie – die versorgingstaak is net van een groep vroue na ’n ander groep verskuif. 

Twee van my vriendinne is dokters met klein kinders en hulle moes naarstiglik hul huiswerkers oorreed om gedurende die staat van inperking by hulle te bly. 

Die werk wat hulle verrig, is van kritieke belang – ons het nou elke dokter bitter nodig. Maar daar is geen sprake dat die regering oppasserdienste verskaf aan dokters met kinders nie en dus is die swart vroue wat hul kinders oppas net so kritiek van belang.

Wat my eie situasie betref: Historici het ook ’n belangrike rol om te vervul. 

Dit was die mediese historici wat kon wys op die lesse van vorige pandemies en vernaam die Spaanse Griep van 1918, waarmee die grootste vergelykings te tref is. 

Die navorsing van die historikus prof. Howard Phillips, wat sy hele akademiese loopbaan gewy­ het aan die impak van die Spaanse Griep op Suid-Afrika, is in hierdie tyd van groot waarde. 

Maar op ’n persoonlike vlak is my man betrokke by die aandelebeurs, wat moet oopbly om ons ekonomie aan die gang te hou en is hy nou amptelik ’n lid van die kritieke korps.  

Dus staan die historikus vir die oomblik terug en ek gaan die volgende paar weke, en moontlik maande, tegemoet as die ma en primêre versorger van ’n kleuter. 

  • Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. 
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Druk  |  Vroue  |  Saterdag Brandpunt  |  Lindie Koorts  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.