Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Duidelikheid oor grond is wat SA verdien
Llewellyn Prince

’n Mens kan net hoop dat die ANC nog hierdie week duidelikheid oor sy posisie rondom die onteiening van grond sonder vergoeding sal gee.

Die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) – die hoogste besluitnemingsgesag van die party tussen nasionale konferensies – het gister steeds in Pretoria oor belangrike besluite, onder meer ook die veelbesproke grondonteiening sonder vergoeding, vergader.

Dit is die eerste NUK-vergadering sedert die ANC verlede naweek op sy grondberaad besluit het om deur te druk met grondonteiening ingevolge art. 25 van die Grondwet, en om dit in die hof te toets of die Grondwet grondonteiening sonder vergoeding onder sekere omstandighede wel toelaat.

Hierdie rigting wat die ANC nou inslaan, strook egter nie met die resolusie op die ANC se 54ste na­sionale konferensie in Desember in Nasrec, waar afgevaardigdes dit duidelik gemaak het dat grond sonder vergoeding onteien moet word, finish en klaar.

In plaas van duidelikheid het die ANC-grondberaad egter net meer verwarring oor hierdie hoogs emosionele kwessie geskep.

In plaas van duidelikheid het die ANC-grondberaad egter net meer verwarring oor hierdie hoogs emosionele kwessie geskep.

En daardie verwarring kon duidelik gesien word toe die EFF-leier, Julius Malema, wat homself beskou as die selfaangestelde orkestreerder van grondgrype, verlede week aan pres. Cyril Ramaphosa gedurende die presidensie en die president se begrotingsrede in die parlement gesê het dit is duidelik dat die ANC nie grond sonder vergoeding gaan ont­eien nie. “Ons mense moet voortgaan om grond te beset. Die grond behoort aan ons!” het Malema aan Ramaphosa geskreeu kort voor hy en EFF-LP’s weens wangedrag versoek is om die Nasionale Vergadering te verlaat.

Selfs Mmusi Maimane, DA-leier, het ook in die debat op die verwarring in die ANC gefokus toe hy die party se “totale ommekeer om die Grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak” verwelkom het.

Dit is tyd dat die ANC sy ware posisie oor grondonteiening bekend maak.

“Die ANC sê hy beplan nou om dit binne die huidige grondwetlike raamwerk te doen. Dit is ’n baie betekenisvolle afwyking van die taal wat die president die laaste maande gebruik het,” het Maimane gesê.

Aan die ander kant is die parlement self al slaggereed om teen die begin van volgende maand met sy openbare sittings oor grondonteiening voort te gaan.

Tussen al dié verwarring deur oor wat die werklike toedrag van sake is, is dit egter tyd dat die ANC sy ware posisie oor grondonteiening bekend maak.

Dis net nie meer goed genoeg vir Ramaphosa om te verkondig dat dit wel sal gebeur, maar dat die ekonomie, landbousektor en voedselsekerheid nie skade berokken moet word nie.

Laasgenoemde is egter presies wat onteiening van grond sonder vergoeding kan en sal doen. Die onsekerheid wat tans oor die kwessie, veral in die landbousektor, heers, kan net nog verdere skade aanrig.

Dus kan Ramaphosa en die ANC nie bekostig om langer te sloer nie. Dit is in belang van Suid-Afrika en ál sy mense dat die ANC eens en vir altyd duidelikheid hieroor gee.

  • Prince is Netwerk24 se parlementêre verslaggewer.
Meer oor:  Nuk  |  Grond  |  Grondonteiening  |  Anc  |  Sa  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.