Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Duitse ‘jammer’: Debat vat vlam
Gert van der Westhuizen, Netwerk24: Stemme-redakteur.

Duitsland se onlangse erkenning dat hy volksmoord gepleeg het op die Herero- en Nama-mense tydens sy koloniale besetting van Namibië, het weer debatte laat opvlam oor die nalatenskap van kolonialisme.

Daar word onder meer bespiegel oor of ander voormalige koloniale moondhede Duitsland se voorbeeld gaan volg deur verskoning te vra vir wandade van die verlede en om vergoeding te betaal aan die nasate van mense wat onder die wandade van hul voorvaders gely het. Voormalige koloniale moondhede soos Frankryk en België word in dié verband genoem. ’n Mens kan ook dink aan die vergrype van Japan in China en Korea in moderne tye wat selfs vir sommige Nazi-waarnemers te erg was.

Maar dit is veral Brittanje wat in die beskuldigdebank staan.

As Brittanje die Duitse voorbeeld volg, sal hy ’n spesiale staatsdepartement op die been moet bring om aandag aan die wandade en nalatenskap van kolonialisme te gee.

Die bloedspoor van Britse koloniale vergrype loop nie net oor Afrika en Asië heen nie, maar ook in wat al sy agterplaas genoem is: Ierland.

Die bloedspoor van Britse koloniale vergrype loop nie net oor Afrika en Asië heen nie, maar ook in wat al sy agterplaas genoem is: Ierland.

’n Biblioteek vol boeke is al geskryf oor Brittanje se wandade in Ierland: die hongersnood van die 19de eeu waarin ’n geskatte 1 miljoen mense dood is en opstande teen die gewelddadige Britse besetting wat wreed onderdruk is deur onder meer die teregstelling van Ierse leiers.

Boonop kom getuienis steeds aan die lig van onskuldige mense wat in voorvalle soos dié op ’n bloedige Sondag in Derry in 1972 doodgeskiet is; getuienis wat die owerhede volgens sommige mense steeds onder die mat probeer invee.

In Indië is die hongersnood van 1943 in Bengale, waarin tussen 2 miljoen en 3 miljoen mense omgekom het, steeds nie vergete nie. Die skuld daarvoor word voor die deur van die Britse koloniale regering van destyds gelê.

Winston Churchill, Britse premier van destyds, word van aandadigheid daaraan beskuldig omdat sy regering onder meer voedselvoorrade wat die nood kon verlig het, doelbewus na ander dele van die Britse Ryk gekanaliseer het.

In Brittanje het sommige groepe en historici hulself al voor die Black Lives Matter-veldtog daarvoor begin beywer dat die Britte van vandag hul koloniale verlede in die oë kyk en dit konfronteer sonder om doekies om te draai.

In die teenoorgestelde kamp is daar egter Tory-jingo’s soos Jacob Rees-Mogg, wat die geskiedenis op onwetenskaplike wyse anders probeer inkleur. Daar is ook dié wat sê ’n verskoning sal nie veel beteken nie.

Tog het sosiale wetenskaplikes al bewys trauma word van een geslag na ’n ander oorgedra en dat verskonings soos dié van Duitsland nie net sal help om die menswaardigheid van die slagoffers van koloniale vergrype te herstel nie, maar ook dié van hul nasate.

Dit is ’n sentiment waarmee baie nasate van die slagoffers van Britse kolonialisme tydens die Anglo-Boereoorlog hulself sal kan vereenselwig.

Oor hul smart en trauma tydens en ná dié oorlog is daar al net so baie geskryf soos oor die smart en trauma van die ander slagoffers van kolonialisme.

Stemme het al baie uit dié geledere opgegaan, en gaan nou weer op, dat Brittanje om verskoning moet vra vir sy oorlog van meer as ’n eeu gelede.

Dit is net jammer dat baie van dieselfde mense nie deur die Duitse voorbeeld oortuig sal word om opreg jammer te sê vir hul aandadigheid aan apartheid nie – ’n onmenslike stelsel met talle elemente van kolonialisme wat skaars drie dekades gelede eers amptelik tot ’n einde gekom het.

Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.

Meer oor:  Volksmoord  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.