Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Duitsland en Frankryk tree op teen regses

In minstens twee Europese lande raak die geduld met regs-populistiese groepe op.

Leopold Scholtz

In Duitsland het die “Bundesamt für Verfassungsschutz” (Federale Kantoor vir die Beskerming van die Grondwet, die ekwivalent van die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap) formeel besluit om die ekstreemregse party Alternatief vir Duitsland (AfD) dop te hou. En in Frankryk het die regering aangekondig dat die Génération Identitaire, ’n openlik fascistiese groep, verbied word.

Weens die Duitse geskiedenis, deurtrek van outoritêre en totalitêre aspekte, is dit natuurlik die optrede teen die AfD wat die aandag trek.

Ná die einde van die half-outoritêre keiserryk in 1918 het die land ’n dapper demokratiese grondwet gekry. Dié dokument het gelyke toegang tot die politiek gewaarborg, sonder om een rigting bo ’n ander te bevoordeel.

Dit het die Nazi’s egter in staat gestel om die Groot Depressie van 1929 uit te buit, die mag in 1933 te gryp en die demokrasie af te skaf. Daaruit het die grondwetskrywers van 1949 ’n belangrike les geleer: Die grondwet moes nie bloot neutraal teenoor die keuse tussen ’n liberale veelpartydemokrasie (plus die regstaat) of ’n diktatuur staan nie; hy moes aktief kant vir eersgenoemde kies.

Regs-ekstremistiese groepe kom ook in ander Europese lande voor.

Dit is dié keuse, wat uitdruklik in die huidige grondwet ingebed is, wat dit moontlik maak om die AfD amptelik dop te hou en mettertyd moontlik selfs te verbied. ’n Onlangse peiling van die Bertelsmann-stigting het byvoorbeeld getoon dat 29% van AfD-ondersteuners uitgesproke regs-ekstremistiese en diktatoriale oortuigings het, teenoor die 2% tot 6% by ander partye. Dis waar dat die AfD geen monolitiese eenheid is nie. Die grootste mate van ekstremisme kom voor in die ses deelstate wat tot 1990 deel was van die kommunistiese Oos-Duitse diktatuur, terwyl dié in die ou Wes-Duitsland duidelik gematigder is.

Die Duitsers is nog betreklik terughoudend.

Die Franse laat waai, maar dis ook ’n feit dat die Génération Identitaire aansienlik meer ekstremisties as die AfD is. Daar het die regering die beweging “die gewapende vleuel van rassisme en vreemdelinghaat” genoem. Die beweging beweer dat hy sowat 4 000 lede het, en dat hy glo veg teen misdaad, die Islamisering van die land en anti-wit-rassisme.

Daar moet ’n onderskeid getref word tussen die Génération Identitaire en die regs-populistiese party Front National met Marine le Pen as leier. In 2011 het Le Pen ’n party van haar pa, Jean-Marie, geërf, wat gevaarlik naby aan die Génération Identitaire gesien kon word, maar in ’n koerswysiging het sy daarvan ’n relatief gematig-regse groep gemaak.

Regs-ekstremistiese groepe kom ook in ander Europese lande voor. Maar nêrens vorm hulle ’n werklike gevaar vir die demokrasie nie, en dus word daar – voorlopig – ook nie teen hulle opgetree nie.

  • Dr. Scholtz is ’n skrywer en onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.