Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Duiwel dreig om los te kom op vergadering
Annemarie van der Walt

Vandeesweek kry ons toe ’n hele handvol nuwe plekname by in die Oos-Kaap, tongknopers de leste een vir ons nie-Xhosa-sprekendes, en ’n mens sal weer maande lank moet seker maak van die spelling van Gqeberha (Port Elizabeth) voordat jy dit durf neerpen.

Onse bergdorp het ook desjare ’n naamsverandering ondergaan van Duiwelskantoor na Kaapsche Hoop. Wie die plek aanvanklik en kort ná die ontdekking van goud in die geweste in die 1870’s na die baas van die warmplek se offies genoem het, is bloot ’n vae raaiskoot.

Dit is ook maar net oorlewering dat Paul Kruger­ die een was wat aan M.W. Pretorius die opdrag gegee het om dié onheilige naam te verander. Miskien was dit die landskap wat herinner aan dié om Kaappunt wanneer die mis van Simonstad ingewaai kom, wat die naamgewer die Kaap laat bysleep het. En die “hoop” sou vrywel wees op rykdom in die goudvelde.

Wat nie voorsien is nie, is die verwarring wat meer as ’n eeu later voortduur wanneer jy jou in ’n dorp in Mpumalanga bevind met so ’n pleknaam. Vele van ons berginwoners moes al selfs aan Nelspruiters, kwalik 30 km verder, verduidelik waarom ons uit ’n doerste ander provinsie die daaglikse inkopies kom doen.

Nou is daar slegs nog ’n rotsformasie met ’n diep en ietwat ontoeganklike spelonk wat as Duiwelskantoor bekend staan. Ons lap nie sommer uit presies waar dit is op die roete na die eskarp nie, want dis so ’n bietjie van ons persoonlike wegkruipplek. Tja, die ironie daarvan . . .

So ’n samekoms van ’n spulletjie “square pegs in round holes” lei gewoonlik tot sports, dit is ’n gegewe.

Die enigste ander tye wat ek wonder of ons nie maar die ou naam moet laat herlewe nie, is op die jaarlikse dorpsvergadering.

Klokslag wanneer die kennisgewing van so ’n vergadering onder die voordeur ingeskuiwe word, is my gevoel een van ligte opwinding en ’n skeut angstige afwagting. So ’n samekoms van ’n spulletjie “square pegs in round holes” lei gewoonlik tot sports, dit is ’n gegewe. En wanneer dit gaan oor grondwetlike sake – of eerder die gebrek aan ’n toepaslike dorpsgrondwet soos tans – kan die sowat 150 permanente siele as 149 te veel geag word.

Vanjaar was daar ’n paar slim skuiwe. Die vergadering is in ’n gastehuis se eetsaal gehou waar die gaste stiptelik 19:00 wil aansit, dus is die langasems kortgeknip; en ’n buitestander is aangewys as voorsitter en arbiter. Tog is die staatmakers soos altyd in gelid: oom Bitterals lei soos altyd tevore die klaagkoor, die goedhartige mev. Ster maan soos elke jaar die lot van ons tot verdraagsaamheid en die liewe oom Goedhart se opsomming van die gebeure is langer as ’n Nagmaal-preek. Opvallend is die nuwe intrekkers se stilswyende verwarring, maar dié word later in die nabetragtingsessie in die kuierkroeg woordryk ontwar.

Gee die duiwel maar wat hom toekom, dag ek met die huis toe loop in beurtkragduisternis, dis asof die afgelope jaar se pandemiese uitdagings ons dorpenaars tog beywer het vir vrede tussen die bure. Die hoop beskaam nie.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Gqeberha  |  Xhosa  |  Plekname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.