Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Duur les van twee groot oorloë aan die vervaag
’n Skare in Whitehall, Londen, vier om 11:00 op 11 November 1918 die einde van die Eerste Wêreldoorlog.Foto: GETTY IMAGES

Vir verreweg die meeste Suid-Afrikaners is die Eerste (en Tweede) Wêreldoorlog iets waaroor hulle dalk in geskiedenisboeke lees, maar wat baie ver weg is. Twee persoonlike ervarings het egter by my tuisgebring dat die konflik nie bloot in boeke voorkom nie, maar ongelooflike gevolge vir miljoene mense van vlees en bloed gehad het.

Op 11 November 2008 was ek teenwoordig toe die uitbreek van die oorlog gedenk is in Ieper, die Vlaamse dorp waar sommige van die bloedigste veldslae van die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind het.

Ek het onder die Menenpoort gestaan, die monument waarop die name van sowat 55 000 soldate gebeitel is – soldate van wie geen stoflike oorskot gevind is nie. Die ander honderdduisende gesneuweldes word verteenwoordig deur rye en rye wit kruise in die militêre begraafplase wat hulle byna eindeloos uitstrek.

Dit was ’n tipiese Europese herfsdag, koud en reënerig. Dit was asof die natuur by die aanskoue van soveel intense lyding en verdriet self nie sy trane kon bedwing nie.

Op die een muur van die poort het ek bekende name gesien. Name soos J.F. de Villiers, E.G. de Wet, J.A.G. Theron en J.O. Weber.

Wie was hulle? Het hul ouers en familie hulle gemis?

Die tweede geleentheid was op 13 Julie 2013 in die begraafplaas Tyne Cot, net buite die naburige dorp Passendale, waar die slagting ewe groot was. Dit was by die begrafnis van die oorskotte van drie onbekende Suid-Afrikaanse soldate wat in ’n Duitse bombardement in 1917 in hul loopgraaf getref en deur die ontploffing begrawe is.

Hul name staan waarskynlik ook in die Menenpoort, maar niemand weet wie hulle is nie.

Hul oorskotte is pas in 2011 deur werkers ontdek en op grond van hul uniformknope as Suid-Afrikaners geïdentifiseer. Dis onder die aandag van die Suid-Afrikaanse ambassade in Brussel gebring, wat toe vir die begrafnis gesorg het.

Wie was die drie? Wat was hul drome? Het hulle gely, of is hulle onmiddellik dood?

Wie was die drie? Wat was hul drome? Het hulle gely, of is hulle onmiddellik dood?

Die mense na wie hier verwys is, was tipies van miljoene soldate oor Europa heen van wie in die jare 1914-’18 veel meer geëis is as wat die menslike gees kon gee. En die eise het gekom van politici en generaals ver agter die front, wat niks besef het van die modder, koue, stank, verveling en doodsvrees wat die gewone soldate moes deurmaak nie.

Die Eerste Wêreldoorlog was ’n stryd waarin die generaals elke voorskrif van militêre gesonde verstand by die venster uitgesmyt het. Ná ’n aanvanklike beweeglike fase, wat egter slegs enkele maande geduur het, het die oorlog verstar tot ’n loopgraafstryd met onbeweeglike linies wat mekaar in ’n ystergreep vasgehou het.

Die een massale frontaanval ná die ander op ’n goed gefortifiseerde en voorbereide vyand was die gevolg. Die soldate moes deur rye doringdraad beur terwyl die vyandelike masjiengewere en artillerie hulle in rye afmaai.

Die verliessyfers was dus verbysterend – byna 10 miljoen soldate het in die oorlog gesterf. Dis ’n syfer wat die menslike verstand byna nie kan bevat nie.

Maar ook as jy die oorlog meer op ’n makrovlak bekyk, is die skade wat hy aangerig het, onmeetlik. Dit was niks minder nie as die einde van Europa se onskuld, die eerste oorlog wat op industriële skaal gevoer is.

Tussen 1870-’71 (die Frans-Pruisiese Oorlog waartydens die Duitse state tot ’n keiserryk verenig is) en 1914 het Europa ’n ongekende era van vrede, politieke stabiliteit, ekonomiese voorspoed en tegnologiese vooruitgang beleef. Dis alles deur die oorlog aan skerwe geslaan.

Drie keiserryke – dié van Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Rusland – het geval. Die ekonomiese voorspoed is deur ekonomiese krisisse vervang; die politieke stabiliteit deur onstabiliteit.

In Rusland het Wladimir Lenin se kommuniste ’n skrikbewind en bedreiging vir die internasionale orde geskep wat pas met die uiteenval van die Sowjetunie in 1991 finaal ten einde geloop het.

In Duitsland het die diepe vernedering van die nederlaag en die ekonomiese krisis die voedingsbodem geword vir die bewindsoorname van Adolf Hitler in 1933.

Dit sou die einde van alle lewe op aarde beteken het.

Aangesien Hitler – anders as die situasie in 1914 – baie doelbewus op oorlog afgestuur het, was die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog al in 1933 onvermydelik. Hitler, ’n tipiese populis wat sy eie en sy land se vermoëns mateloos oorskat het, het Duitsland in die ergste vuurstorm en verwoesting sedert die Dertigjarige Oorlog in die 17de eeu ingelei. Duitsland was die verloorder, maar eintlik het die hele Europa saam met hom verloor.

Die vasteland het sy oorheersende posisie kwytgeraak ten gunste van Amerika en die Sowjetunie, wat die volgende vier dekades soos skerpioene om mekaar gedans en verskeie kere byna-byna in ’n kernoorlog ingesuig is.

Dit sou die einde van alle lewe op aarde beteken het. Dit sou ’n konflik gewees het wat 1914-’18 na ’n kindertuinpartyjie laat lyk het. Dis nie dat die skadelike gevolge van die Eerste Wêreldoorlog onvermydelik was nie.

Op die Geallieerde vredesonderhandelinge in Parys in 1918-’19 was daar veral twee afgevaardigdes wat verder gedink het as wat hul neus lank was en wat wou voorkom dat Duitsland deur ’n alte erge vernedering sou bly brand om wraak te neem.

Hulle was die Suid-Afrikaners, genls. Louis Botha en veral Jan Smuts. As ’n mens Smuts se korrespondensie in dié tyd lees, kan jy nie anders nie as om onder die indruk te kom van sy diepe insig in die geskiedenis en die politiek.

’n Mens sou dink dat die twee oorloë die mensdom ’n les geleer het.

Maar Botha en Smuts het slegs die klein Unie van Suid-Afrika verteenwoordig. Veral die Franse premier, Georges Clemenceau, wou Duitsland volledig ontmantel.

Hitler en die Tweede Wêreldoorlog was die gevolg. En daardie oorlog se menslike ellende het selfs dié van 1914-’18 laat verbleek. Waar die sterfgevalle in die Eerste Wêreldoorlog oorweldigend dié van soldate was, het 50-55 miljoen burgerlikes in 1939-’45 gesterf (teenoor 21-25 miljoen soldate).

Hoe ’n mens die saak dus ook al wil bekyk, verreweg die meeste probleme van die 20ste eeu is aan die rol gebring deur die katastrofe van die Eerste Wêreldoorlog. ’n Mens sou dink dat die twee oorloë die mensdom ’n les geleer het. En dit hét, maar helaas is die les besig om weg te sink in die wêreld se kollektiewe geheue.

Die wêreld word, nes tussen die twee wêreldoorloë, steeds onstabieler. En waar die internasionale politiek steeds meer oorheers word deur politici wat impulsief optree, hou ’n mens jou hart vas.

Scholtz is ’n onafhanklike politieke kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Oorlog  |  Eerste Wêreldoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.