Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Echbert Boezak: ‘Wayde maak my trots om bruin te is’

Vir lank is bruin mense dikwels as lui dronklappe, dwelmslawe en bendelede uitgebeeld. Wayde van Niekerk het dít nou verander, skryf Echbert Boezak. 

Echbert Boezak

Ek dink ek was nege jaar oud toe my oorlede pa en my dominee-broer my eendag in ons huis in die Paarl behoorlik oor die kole gehaal het.

Ek het in ’n Afrikaans-opstel na ons familie as “kleurlinge” verwys. “Jy gebruik nie weer daai woord nie!” het my pa gebulder. “Wat is ’n kleurling?” het my broer gevra en die vraag toe self beantwoord: “Dis ’n gemaakte ding wat Verwoerd en sy hoop narre geskep het.” My pa het bygevoeg: “Hierdie wit mense dink in elk geval net ons steel, drink en steek mes.”

Die atleet Wayde van Niekerk se ongelooflike goue medalje in die 400 m vir mans by die Olimpiese Spele in Rio en die gevolglike storm op sosiale media het my laat terugdink aan die lewensles wat my pa en broer my geleer het.

Die hutsmerk #Colouredexcellence het wye reaksie ontlok met talle bruin mense – of sogenaamde kleurlinge – wat Van Niekerk se verstommende vertoning hul eie wou maak. “Dis nou ’n voorbeeld van wat kleurlinge kan vermag,” het iemand in Engels getwiet. “Hy’s ’n outjie vannie Kraaifontein en het kleurlinge weer trots gemaak,” was nog ’n twiet.

Sommige van ons swart en wit landgenote was nie so ingenome nie. “Hoekom word ras nou weer ingebring?” het mense gevra. “Hoekom praat mense van kleurlinge? Ons is almal Suid-Afrikaners.” Iemand het ook gesê die term kleurling is ’n apartheidsterm en Wayde is “eintlik swart”. En só het die Twitter-oorlog oor ons nuutste Wêreldrekord-houer vir ure gewoed.

Die reaksie uit die bruin gemeenskap is seker nie verrassend nie. Vir jare het die media bruin mense as lui dronklappe, dwelmslawe en bendelede uitgebeeld. As jy die stereotipe verder sou neem, het weinig van hulle voortande en is hulle, ondanks hul armoede, altyd vrolik.

As daar mense is wat hulself 'kleurlinge' wil noem, kan hulle.

Maar skielik is daar hernude hoop. ’n Jong atleet van Kraaifontein, met ’n ma wat weens apartheid self nie op die hoogste vlak kon deelneem nie, het bewys dat jou omstandighede nie saakmaak nie; dat waar jy vandaan kom, nie ’n struikelblok behoort te wees nie; dat om bruin of “kleurling” te wees nie iets is om oor skaam te wees nie. Hier is ’n rolmodel op wie almal kan trots wees. En daar is ander baanbrekers ook.

Bruin rolmodelle begin deesdae ál hoe meer na vore tree en hulle is gemaklik met wie hulle is. Hulle laat hulle nie definieer deur ander nie en is reg om hul stempel op hul gemeenskappe af te druk.

Voorbeelde is die komediante Nicholas, Jason en Donovan Goliath en hul bestuurder-suster Kate. Hulle laat hulle tans geld in die mededingende wêreld van Suid-Afrikaanse komedie en het ook verskeie sakebelange. Só is daar ook Liesl Laurie van Eldorado Park wat in 2015 as Mej. Suid Afrika gekroon is. Wat van aktrises soos Vinette Ebrahim en ander wat bewys het dat hulle op die hoogste vlak kan presteer? En die voormalige Springbok-vleuel en huidige SuperSport-aanbieder Ashwin Willemse, wat nou al vir jare ’n rolmodel vir die mense van Caledon in die Wes-Kaap is.

Hierdie mense is almal onverskrokke en onbeskaamd oor wie hulle is.

Dít is dalk juis die wonderlike geskenk van die Nuwe Suid-Afrika: dat ’n atleet soos Wayde van Niekerk ons almal kon wys dat jy enige struikelblok kan oorkom, en dat rolmodelle en inspirasie uit enige oord kan kom.

Ek het ook tot die slotsom gekom dat ’n mens nie ander se identiteit namens hulle moet bepaal of moet definieer nie. As daar mense is wat hulself “kleurlinge” wil noem, kan hulle. Niemand het meer die reg om aan ander voor te skryf wie hulle moet wees en wat hulle hulself moet noem nie.

Dankie, Wayde van Niekerk, vir jou uitsonderlike prestasie en dat jy ons as Suid-Afrikaners laat introspeksie doen oor ons eie identiteit.

En vir almal in die bruin gemeenskap wat met Wayde identifiseer en hulle met hom wil assosieer: “Awêh, ma se kinners! Saloet!”

* Echbert Boezak is ’n sportjoernalis, radio-omroeper en televisieaanbieder.

Meer oor:  Brasilië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.