Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Een dag aan die ander kant van die aarde
Tom Dreyer
Tom Dreyer.

Vindingrykheid bloei wanneer jy werk het om te vermy. Terwyl ’n onaangename stukkie rekenaarprogrammering op my wag, hark ek deur my inboks, verander my woordverwerker se lettertipe, en bedink ’n nuwe stelsel om my lêers te organiseer. Ek swerf deur die kuberruim en vind uit dat tweegevegte nog wettig is in Paraguay, mits albei deelnemers bloedskenkers is.

En dan skiet ’n ewe lukrake vraag my te binne: Wat presies lê aan die ander kant van die aardbol as Suid-Afrika? Ek wend my tot Google Maps en sommer gou staar ek na ’n rooi merker in die Stille Oseaan. Die naaste land, sien ek, is Midway-eiland, daar waar die Amerikaners en Japanners in Junie 1942 slaags geraak het in een van die bekendste seeslae ooit.

Die Japanse invalsplanne is gefnuik omdat die Amerikaners hul kodeboodskappe kon lees, en uiteindelik vier van hul vliegdekskepe seebodem toe kon stuur, in ruil vir een vliegdekskip van hul eie.

Toe ek my geel StreetView-mannetjie aan land trek, is daar geen teken van destyds se drama nie. Midway is ’n uitgestrekte, plat verlatenheid, slegs ’n voet of drie bo seevlak, met klein bossies en verbleikte stukke teer – waarskynlik oorblyfsels van ou aanloopbane.

Maar dit is bowenal ’n landskap van seevoëls, en so ver as wat die oog kan sien, sit of broei of sweef daar albatrosse.

Maar dit is bowenal ’n landskap van seevoëls, en so ver as wat die oog kan sien, sit of broei of sweef daar albatrosse. Die naastes verlaat hul nesholtes om nuuskierig te staar na wie ook al hul stilte versteur. Ander sweef bo die grys dolosse in die vlakwater of bo verkrummelende kaaie.

Ek sleep my geel mannetjie na die volgende merker, Eastern Island Monument. Eers ná ’n taamlike geheen-en- weer tussen die see­voëls kry ek hierdie monument onder oë. Dis seker die mees onbesienswaardige van besienswaardighede, ’n baksteenbouseltjie wat aan iemand se binnebraai herinner.

Maar die inskripsie is roerend, ’n gedenkteken aan maj. Lofton Henderson wat op 4 Junie 1942 van hier af opgestyg het in ’n bomwerper om sonder enige vegvliegtuigbegeleiding ’n Japanse slagskip te gaan aandurf. Hy het die hoogste prys betaal, en ter ere van sy heldedaad is hierdie vliegveld later na hom genoem.

Google wys net een resensie van hierdie plek, met ’n gradering van een uit ’n moontlike vyf sterre, en ’n bewoording wat ’n monumentale geografiese misverstand verraai: “I came all this way to eastern island to see the giant stone heads everyone is talking about and didn’t see anything except for a runway!”

In my geestesoog sien ek hoe ’n verdwaalde stommerik die horison fynkam vir ’n teken van Paaseiland (Easter Island) se reuse-klipbeelde. Maar tevergeefs, so tevergeefs as wat vlieëniers destyds bo hierdie waters gesirkel het op soek na landingsplekke wat reeds onder die golwe verdwyn het.

En meteens wens ek dat ek my dagtaak volledig kan ontsnap en kan plekke ruil met daardie onbeholpe resensent. Dat ek die seebries op my tong kan proe en onder swiepende albatrosskaduwees kan soek na oorblyfsels van daardie heroïese dag.

Ek sal lugafweerkanonne alkant hoor bulder terwyl Japanse Zero-vegters glimmend deur die lugruim skiet en Henderson met lang treë na sy vliegtuig toe draf, gereed om sy plek in die geskiedenis vol te staan.

  • Dreyer is ’n bekroonde skrywer.
Meer oor:  Tom Dreyer  |  Aarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.