Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Een eindelose avontuur in ’n eindelose jaar
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Dit is ’n simpel, grys, Laeveldse dag met ’n wind wat tol, net soos my gemoed toe ons moet aankondig die Standard Bank Innibos-kunstefees is gekanselleer vir vanjaar.

Vasberade was ons bestuurspan, en seker maar teen ons beterwete, dat die kunstefees wel in Desember gestalte sal kan kry. Maar helaas, die wind bly vanjaar wes waai.

Hoe skraal was hierdie jaar nie aan teaterbesoeke nie, rustige kuiers om musiek en ontmoetings met skrywers by boekbekendstellings.

Ek voel my verneuk.

Toe lees ek die goeie nuus raak van twee herdrukke van Audrey Blignault se boeke Die eindelose avontuur en Mal Hansie en ander verhale (Protea Boekhuis), asook ’n nuut saamgestelde bundel, Met my rooi rok voor jou deur (Tafelberg).

“Jubel” is ’n woord wat ek immer met Audrey vereenselwig, en dit is wat ek doen oor veral die herdruk van Die eindelose avontuur, waarin sy onderhoudend en prikkelend skryf oor die wêreldletterkunde. Talle van die boeke wat onder my gunstelinge tel, het ek gelees danksy hierdie “venster” wat Audrey daarop gebied het.

Dit moet die leser intellektueel, emosioneel en moreel oorrompel; hom aan gevaarlike gedagtes blootstel; hom uitgeput laat steier, soos ná ’n visioen.

En die gunsteling onder al daardie is gewis Kristin Lavransdatter deur die Noorweegse skrywer Sigrid Undset. Dit staan op ’n afsonderlike rak raakvat-ver van my lessenaar, saam met ander hartsboeke: Mahala van Chris Barnard; Die stomme aarde en Kremetartekspedisie deur Wilma Stockenström; die enigmatiese Op soek na generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee; Nicole Krauss se The History of Love; die tydlose The Art of Being uit die pen van Erich Fromm; en die onwaarskynlike The Pursuit of Loneliness: American Culture at Breaking Point van Philip Slater.

Ek haal Die eindelose avontuur van die rak en herlees die voorwoord deur Hennie Aucamp. Hy skryf oor awakeners, daardie verhale wat tot ontwaking en selfontdekking lei, en verklaar dit moet eintlik op twee maniere vertaal word: as “wekkers” en “verwekkers”. “ ’n Boek, wil hy regtig ’n wekker en ’n verwekker wees, moet ’n totale aanslag wees op sy leser. Dit moet die leser intellektueel, emosioneel en moreel oorrompel; hom aan gevaarlike gedagtes blootstel; hom uitgeput laat steier, soos ná ’n visioen.”

Ja, dit het ek al beleef deur boeke te lees, en ook wanneer ’n toneelstuk my op die krop van die maag getref en ure lank daarna in die ban daarvan gehou het: of tektoniese plate geskuif het in ’n mens se belewenis van die menslike toestand soos vertel, uitgebeeld. Daarom is my hart seer oor die verlies van Innibos se kunste-aanbod vanjaar, want in die uithoeke van die land is ons nie geseën met baie daarvan nie.

Daardie oomblikke wat Aucamp in die voorwoord aanhaal uit ’n Nederlandse vertaling van Primo Levi se biografie van sy oorlewing in Auschwitz: “Cultuur kon helpen; niet dikwijls, niet overal, niet iedereen, maar een enkele keer, zeldzaam en kostbaar als een edelsteen, hielp het, en volede je je als het ware zweven . . .”

So ’n avontuur smag ek na in dié skynbaar eindelose jaar.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Innibos  |  Annemarie Van Der Walt  |  Boeke  |  Leser  |  Lees  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.