Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Een saak, soveel wat daarop rus

Oudpres. Jacob Zuma het verlede Vrydag uiteindelik gekry wat hy al meer as ’n dekade lank voor pleit: Sy dag in die hof om te antwoord op aanklagte van korrupsie wat verband hou met Suid-Afrika se omstrede multimiljardrand-wapentransaksie in die 1990’s.

Hoewel Zuma by elke moontlike geleentheid gesê het hy sien uit na sy dag in die hof, het hy oor die jare heen alles in die stryd gewerp om dit af te weer.

’n Volbank regters van die hooggeregshof in Pietermaritzburg het verlede Vrydag eenparig Zuma se aansoek om sy vervolging permanent te staak met koste van die hand gewys. Dit kan hom tot R16 miljoen kos. Dit het ook die weg gebaan vir ’n verhoor wat waarskynlik baie lank gaan duur.

Die saak teen Zuma is in 2006 deur wyle regter Herbert Msimang, destydse regter-president van KwaZulu-Natal, van die rol geskrap, maar is die volgende jaar weer deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ingestel.

Die saak het sedertdien baie draaie in die land se howe geloop, insluitend die hoogste hof van appèl in Bloemfontein.

Zuma se familie is ontstoke oor die jongste gebeure. Hulle sien Vrydag se uitspraak as ’n sameswering tussen die regstelsel en Zuma se politieke teenstanders. Sy seun Edward het aan die media gesê sy pa is steeds ’n slagoffer van apartheid en het sy pa se vervolging vergelyk met dié in apartheid (Zuma het tien jaar op Robbeneiland deurgebring weens oortredings van die destydse veiligheidswette).

Daar kan geen twyfel wees nie dat Zuma se vervolging onbeholpe en by tye selfs komies was. Dit is moeilik om tred te hou met al die kere dat die howe genader is met die saak en daaroor beslis het, soms ten gunste van Zuma, soms teen hom.

Die huidige saak teen hom is ’n groot uitdaging vir adv. Shamila Batohi, nuwe hoof van die NVG. Haar aanstelling deur pres. Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar is wyd verwelkom, maar die laaste tyd het kommer toegeneem oor die stadige pas waarteen sy haar voete vind. Sy sou waarskynlik enige ander saak verkies het om haar eerste noemenswaardige merk te maak.

’n Skuldigbevinding teen Zuma sal in alle waarskynlikheid lei tot opstandigheid onder sy volgelinge.

Dis ’n politiek gelaaide saak wat erge openbare emosies ontketen – in die volle gloed van die politieke kollig. Die uitkoms van die Zuma-saak sal bepalend wees vir haar loopbaan as nasionale direkteur van openbare vervolging.

Zuma het rede om ’n skuldigbevinding te vrees. Onthou, Schabir Shaik, sy voormalige finansiële raadgewer, is in ’n verwante saak skuldig bevind en vir 15 jaar tronk toe gestuur.

Hoewel Shaik tronkstraf ontduik het op twyfelagtige mediese gronde, sal Zuma alte bewus wees van wat sy vonnis kan wees as hy skuldig bevind word.

’n Skuldigbevinding teen Zuma sal in alle waarskynlikheid lei tot opstandigheid onder sy volgelinge.

Zuma het al gewys dat hy in sulke gevalle nie ’n vinger sal verroer om sy volgelinge in bedwang te hou nie. Inteendeel, dit kan gesê word dat hy geneig is om hulle in hul kwaad te stook.

’n Oorwinning vir Zuma sal uitdagings vir die regering en die ANC inhou. Wen hy, sal Zuma sy diepgesetelde vermoede van ’n sameswering teen hom met gesag kan propageer, iets wat sy volgelinge met ’n passie sal verkondig. Vir die ANC sal die uitdaging wees om te keer dat sy interne politieke situasie nie verder uitmekaarval nie.

Dit sal ook die posisie van die anti- Ramaphosa-faksie in die party versterk. Vir die regering sal die uitdaging wees om te verseker die openbare orde bly behoue. Maar ook dit hou groot politieke risiko’s in.

Een ding is seker: Die saak teen Jacob Zuma sal wenners en verloorders oplewer, wat ook al die uitspraak.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.