Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Een vir een gaan hulle weg

Die Afrikaanse gesegde by die afsterwe van ’n staatmaker dat ’n seder geval het, is ’n raak beskrywing.

Johan van Wyk

As jy wil weet hoekom, gaan kyk na die manjifieke reuse-seders op Vergelegen by Somerset-Wes. Wie moet ons bedank? Willem Adriaan van der Stel.

Hy was korrup en het hom as goewerneur ten koste van die Vryburgers onregmatig verryk, maar elke keer as ek onder daardie bome staan, vergewe ek hom.

Ek weet nie van seders by Bloemfontein nie, maar van baie bloekombome, uitheems en vanweë hul dors­tigheid verbode verklaar, maar ewe indrukwekkend. Hulle mag ongewens wees, maar wys my ’n geharder boom met bruikbare hout wat aan mens en dier koelte en voëls ’n tuiste bied. ’n Boomlose woestyn, dis wat Suid-Afrika sonder bloekoms sal wees.

Van die grootstes met die dikste stamme staan op Waaikraal, by Bainsvlei, waar Alexis du Toit onlangs op 81 oorlede is. Ja, daar word al weer in ons bos gekap. Sal ek hom ’n bloekom noem? Dalk sou hy daarvan gehou het. Hy het heerlike, spierwit bloekomheuning onder hulle gemaak, en houtskool van die wat afgesaag is, maar kanniedoods gebly, uitgeloop en weer groot bome geword het.

Bittereinders, kan jy maar sê. Jare gelede koop ek vir ’n laning ’n klomp kleintjies in konfytblikke by die ou Staatskwekery in Bloemfontein. Enetjie bly oor. Hy het vir maande sonder water in die geroeste blik op die plaaswerf gelê voordat ek hom in ’n kolletjie vlak grond gedruk het. Veertig jaar later is hy ’n reus.

Alexis du Toit se “verhuising na ’n beter oord”, soos die ou predikante graag getroos het, bring ook haas ’n einde aan ’n era waarin sy familie oor baie jare diep boerderyspore getrap het in die in die Vrystaat, wyer Suid-Afrika en selfs die ou Betsjoeanaland en Rhodesië waar hulle ook geboer het. Alexis se vader, Stoffel, die patriarg van die Du Toits – oorspronklik van Hopetown – was op sy dag ’n sogenaamde grondbaron met talle plase onder van sy ses seuns van wie net twee nog leef. Met hul vader aan die hoof is ’n uitgebreide boerdery-en-sakeryk oor jare opgebou.

Hulle gelyke sal nie maklik weer gevind word nie.

In hulle vader se tyd is gesê net drie Bloemfonteiners kan ’n tjek vir ’n miljoen rand – wat destyds groot geld was – uitskryf sonder om vooraf sy bankbestuurder te bel: Stoffel du Toit, die motorhandelaar, Barnie Human en Willem Dreyer, ook ’n grondbaron, sakeman en vader van die beroemde Dreyer-stampwaterboor.

Hulle gelyke sal nie maklik weer gevind word nie.

Soos die lied lui: “One by one their seats were emptied, one by one they went away . . .”

Meer oor:  Johan Van Wyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.