Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Een virus se gevolge vir twee presidente

Dit is nog vroeë dae in die korona-krisis, maar nou reeds het dit uiteenlopende gevolge vir verskillende staatshoofde. Voor die uitbreek van die krisis was pres. Cyril Ramaphosa besig om al hoe geleideliker ’n greep op die interne dinamika van die ANC te kry, maar hopeloos te stadig om vinniger by sinvolle oplossings vir sy groot uitdagings – die openbare ondernemings soos Eskom en die SAL – uit te kom.

Barnard Beukman

Pres. Donald Trump van Amerika was op sy eie golf. Hy het geweet die Demokrate het te min stemme om hom deur ’n staat van beskuldiging te ontslaan en die ekonomie het steeds gedy. En hy was op sy beste om oor sy selfopgestelde lys van eie prestasies te spog en ander in hoogs beledigende taal te takel. Selfs lojaliste uit sy binnekring is afgedank as hulle durf verskil het.

Toe kom daar ’n groot krisis. Iets wat ’n politikus tot groot hoogtes kan aangryp om te wys dit is waarvoor hy daar is –staatsmanskap. John F. Kennedy met die Kubaanse missielkrisis en Winston Churchill met die Tweede Wêreldoorlog het hulself só gevestig.

Maar Trump het skielik uiters ongemaklik, bleek en lomp voorgekom. Sy teenstrydighede het skielik soos ’n seer oog uitgestaan en senior amptenare en selfs kabinetslede moes hom gereeld­ ná aankondigings repudieer. Hy het vasgekeer en uit plek gelyk om ’n draaiboek te bestuur waarvan hy die inhoud nie voortdurend kon aanpas en manipuleer nie. En maar net bewys wat lankal vermoed word: Hy is nie ’n waardegedrewe mens of leier nie. Vir so ’n week of twee het dit gewerk om hom met behulp van Mike Pence, sy visepresident, aan ’n kort leiband te hou. Maar nou verklaar hy dat hy die kerke Paasnaweek volgepak wil sien.

Ramaphosa het die gaping soos ’n Springbok-senter gevat en die verbeelding aangegryp met besielende en weldeurdagte leierskap. Hy het hom laat lei deur ’n koalisie van sakeleiers, sinvolle raadgewers en virus- en ander mediese kenners. Vir eens was die Staliniste op die agtergrond. Dit is die Cyril wat almal lank reeds wou sien.

Tog lê die ware toetse nog voor – veral as die ANC-afgetakelde gesondheidstruktuur en ander dienste onder reusedruk gaan kom. Dit is een ding om fietsryers in hegtenis te neem wat midde-in die inperking rondry, maar wat van die chaos in veral swart townships? Die land gaan saam met Ramaphosa moet kophou as infeksies en die sterftesyfer onvermydelik styg in die volgende paar dae. Daar word wêreldwyd gepraat van ’n moontlike “tweede vlaag” van infeksies, misdadige plundertogte en die internet wat in duie kan stort. En hier, die inperking wat verleng kan word. Hopelik gebeur al die dinge nie, maar indien wel, gaan die ware staatsmanne onderskei word.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.