Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eenheids-praatjies in ANC agterbaks en gevaarlik

Die oproepe om eenheid voor die verkiesing van die nuwe ANC-leier kan veroorsaak dat die mense se keuse nie meer saak maak nie. Dit is hoe en waar ’n diktatorskap begin, skryf Mashupye Herbert Maserumule.

David Mabuza, premier van Mpumalanga, is ’n groot voorstander van eenheid in die ANC. Foto: Adele du Toit

Suid-Afrika is in die greep van angs en afwagting op die veelbesproke 54ste ANC-verkiesingskonferensie wat om die draai is. Die land se nege provinsies het reeds hul verkose leiers uit hul takke vir die ANC se presidensiële wedloop gekonsolideer. Maar die vraag oor wie die pyp gaan rook, bly moeilik om te beantwoord soos wat ’n kop-aan-kop-scenario hom begin uitspeel.

Die konferensie het baie belangrike implikasies vir die land se toekoms: Die president van die ANC word die president van Suid-Afrika. Wie ook al die ANC lei, bepaal watter soort leier die land sal kry en watter trajek die beleid sal inslaan.

Pres. Jacob Zuma is nou al byna ’n dekade die president van die ANC en die land. Sy termyn word gekenmerk deur opeenvolgende skandale, waarvan sommige gelei het tot pogings om sy kop te laat rol.

Mabuza het dinge gekompliseer met sy versoek vir 'n stem vir eenheid.

Al dié pogings is gefnuik. Hy het die land bestuur terwyl die ANC se verkiesingsvooruitsigte al hoe swakker begin lyk het, internasionale graderingsagentskappe Suid-Afrika afgegradeer het en bewerings dat hy sy bondgenote laat aanstel het in posisies waarin hulle toegelaat is om staatstenders en selfs regeringsaanstellings te manipuleer.

Oor ’n paar dae sal hy nie meer die president van die ANC wees nie. Wie sal waarskynlik by hom oorneem? Die voorlopers is Cyril Ramaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma.

Die premier van Mpumalanga, David Mabuza, het dinge gekompliseer. Hy het gevra vir ’n stem vir eenheid, en het voorgestel dat geen spesifieke kandidaat gesteun word nie, behalwe as hulle oor eenheid saamstem.

Mabuza maak voorspellings onmoontlik

Mabuza se oproep maak voorspellings oor die konferensie onmoontlik omdat sy provinsie ná KwaZulu-Natal die tweede grootste getal lede het.

Ek glo dat die “eenheids”-narratief ’n oplossing probeer veins vir iets wat nie opsigself ’n probleem is nie, maar ’n manifestasie daarvan. “Leierskap deur konsensus” – wat die “eenheids”-narratief wil hê die uitkoms van die verkiesingskonferensie moet wees – beknoei interne organisatoriese demokrasie.

Die absurditeit is dat indien dit toegelaat word, kan dit muteer tot ’n politieke stelsel waarin die mense se keuse nie meer tel nie, terwyl die leierskap eenvoudig voorgeskryf word. Dit is hoe en waar ’n diktatorskap begin.

Cyril Ramaphosa se werk as ANC-leier sal bemoeilik word as hy gedwing word om ’n eenheidskandidaat sy adjunk te maak. Foto: Deon Raath

Takke in Mpumalanga het reeds gestem. Die telbord wys dat 223 die eenheidsbenadering steun. Volgens die ANC se verkiesingsproses sal dit benader word asof dié takke buite stemming bly.

Maar Mabuza se kaskenades maak nie van hom ’n koningmaker nie en dit wys nie dat hy die kuns van randlopery vervolmaak het nie. Indien hy enigiets daarmee bereik het, het hierdie plan sy posisie in die presidensiële wedloop verswak omdat sy provinsie nie eenparig agter hierdie maneuver staan nie.

In elk geval, wat is die “eenheid” wat Mabuza sê hy hartstogtelik nastreef? Gaan dit werklik daaroor om die ANC te verenig? Hoekom rym dit nie met die veldtog van Zwele Mkhize – een van die ander presidensiële kandidate – wat op dieselfde beginsel gebou is nie? Hoe hou dit verband met die ANC se “Through the Eye of the Needle”-verslag, waarin die eienskappe van die party se leierskap omskryf word?

Gesprek oor eenheid slaan bal mis

Hoekom vind dit hoofsaaklik byval by diegene wat die politiek van die lys vervolmaak het wat hul posisies in die party en die staat bepaal; diegene met ’n wolk wat oor hul koppe hang? Hoe gaan dit in elk geval in die presidensiële resies manifesteer? Gaan dit die vorm van skerp onderhandeling aanneem?

Indien wel, hoe verskil dit van Zuma se opmerkings aan die einde van die ANC se vyfde beleidskonferensie, dat wie ook al die presidentskapstryd van die party verloor, outomaties adjunkpresident moet word?

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Cyril Ramaphosa se vernaamste teenstander in die wedloop om die ANC se presidentskap. Foto: Gallo Images

Is dit nie almal uitvindsels met dieselfde logika, wat in wese magsdelingsooreenkomste soek wat oor die politieke elites gaan wat mekaar probeer akkommodeer in leierskapsposisies nie? Die narratief van eenheid is ’n fasade. Indien enigiets institusionaliseer dit die fenomeen wat dit probeer verwyder uit die ANC: die politiek van lyste.

Mededinging vir leierskapsposisies is deel van die politieke proses. Dit word slegs ’n probleem wanneer dit deur lyste besoedel word wat ’n funksie van twis binne die party is.

Die gesprek oor “eenheid” en “leierskap deur konsensus” slaan die bal mis. Dit lei die aandag af van die feit dat die ANC aan die wegkwyn is. Die wedywering om die leierskap van die ANC gaan eintlik oor die nabyheid van staatshulpbronne. Dit gaan nie daaroor dat die ANC se waardes herstel moet word nie.

Soos die Amerikaanse senator William L. Marcy dit gestel het: “To the victor belongs the spoils.”

Ramaphosa praat hard hierteen. Hy draai nie doekies om nie. Gedurende sy veldtog het hy die status quo deurlopend gekritiseer en het ondubbelsinnig standpunt teen korrupsie ingeneem.

Wat ontstellend is, is dat die 'eenheids'-narratief maklik ’n strik kan wees om Ramaphosa se leierskap te verlam as hy wen.

Dit is ’n goeie begin vir die ANC se vrymaking. Hy dring daarop aan dat ’n kommissie van ondersoek na staatskaping in die lewe geroep word, soos wat in die openbare beskermer se verslag voorgestel word. Dit impliseer Zuma en die koterie waaruit sy oligargie bestaan. Dis ’n skuif wat mense kwaad gemaak het en mense verontrus het wat beskerm is van vervolging omdat hulle na bewering onregmatige winste uit die staat gemaak het.

Wat ontstellend is, is dat die “eenheids”-narratief maklik ’n strik kan wees om Ramaphosa se leierskap te verlam as hy wen. Hy sal dan binne die konsensus-leierskapsreëlings gevange wees en dit nie vir hom moontlik maak om diegene te vervolg wat na bewering die staatskoffers leeggesteel het nie.

Die ander moontlikheid is dat dit gebruik sal word om diegene met ’n sin vir etiek te koöpteer in die geselskap van diegene wat eties gekompromitteer is sodat hulle almal dieselfde lyk.

Tog, indien die vrae rondom die oproep om “eenheid beantwoord word, is dit belangrik om te onthou wanneer die etiese bouwerk ineenstort, word die samelewing die slagoffer van die leierskap van skurke.

* Maserumule is ’n professor in openbare sake aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie.

*Dié artikel is oorspronklik in The Conversation gepubliseer. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.