Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eensaamheid en verdriet op Oujaarsdag
Dana Snyman

Elke jaar probeer jy moedig om van Oujaarsdag ’n vrolike dag te maak.

Jy gaan die oggend maar weer winkels toe en koop nóg kos, nóg drank, nóg braaihout. Of jy bespreek vir julle plek in ’n restaurant. Of jy is deel van ’n plan om die nuwe jaar iewers op ’n stadsplein saam met ’n klomp ander mense te gaan inwag.

’n Mens leef net een keer, redeneer jy, jy kan nie die Oujaarsaand by die huis sit nie. Jy wil nie oud voor jou tyd wees nie.

Maar vroegoggend al kom ’n vae gevoel van verdriet in jou los. Jy sal daar tussen die ander mense wees, nie regtig lus vir gesels nie; en wanneer jy die slag iets sê, klink jou eie woorde vir jou oneg en hol.

Teen die aand se kant begin jy na stilte soek. Jy sê dit vir niemand nie, maar party kom dit tog agter.

Teen die aand se kant begin jy na stilte soek. Jy sê dit vir niemand nie, maar party kom dit tog agter.

“Is jy orraait?” sal een vra. “Ek’s honderd persent,” sal jy dan jok, en daar tussen die ander by die vleisbraaivuur gaan staan, glas teen die bors.

Of jy sal daar tussen die ander mense in die restaurant sit en wag vir die nuwe jaar om te kom en wonder: Dis dan alles lekker hierdie, alles baie gesellig, maar hoekom voel ek so eensaam?

Rondom jou sal party praat oor die jaar wat verby is: Zuma en die sukkelende Springbokke, die waterkrisis in die Kaap; en is dit nie hartseer vir hierdie een of daardie een se dood nie? Hoe kort is die ou lewe nie. Skink nog ’n dop. Draai harder die musiek.

Maar die gesprek sal gou terugdraai na die toekoms toe.

Of miskien sal iemand, een van die oues, begin gesels oor die Oujaarsdae wat verby is: Hoe daar op Hartenbos of Margate of Groenrivier gekamp is.

Hoe die konsertina en kitare uitgehaal is, en meel op die vloer gestrooi is, en hoe daar gedans is tot die son opkom.

’n Ander een sal dalk vertel hoe almal op ’n Oujaarsaand die middernagdiens in die Moederkerk bygewoon het.

Hoe Dominee dan net voor twaalf die name gelees het van al die gemeentelede wat in die jaar oorlede is, hoe die klok dan 12 keer geslaan het, en hoe almal dan saam die “Onse Vader” gesing het.

Maar die gesprek sal gou terugdraai na die toekoms toe.

In die nuwe jaar wil jy fiks word, gewig verloor, op Boer soek ’n vrou verskyn, Zanzibar toe gaan, meer geld maak.

Iewers sal iemand dalk klappers skiet, en daar sal nóg musiek wees, en kort voor twaalf sal jy die sekondes na die nuwe jaar saam met die ander staan en aftel: “Tien! Nege! . . . Drie! Twee! Een!”

Jy sal mense omhels, en hulle sal jou omhels, en mooi wense sal jou selfoon knaend laat piep, vuurwerke sal dalk die lug in suis – rooi en blou en geel.

Maar jy sal knaend bly wonder: Gaan ek aanstaande jaar hierdie tyd nog hier wees, gaan ek nog leef?

Meer oor:  Dana Snyman  |  Sterfte  |  Oujaarsdag  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.