Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eerder ’n graad of ’n ruggraat?
Johann Maarman

Dit is spitsverkeer in die DA met al die omstredenheid wat die party die afgelope twee weke agtervolg.

Die eerste kwessie wat politieke modder op die DA-kleed laat spat het, was die een waar ’n voormalige DA-leier nog ’n oud-DA-leier as ’n eksperiment bestempel het. ’n Eksperiment wat kwansuis misluk het.

Tony Leon, wat as die primus inter pares (die eerste onder gelykes) in liberale politiek beskou word, het Mmusi Maimane bestempel as ’n eksperiment in die DA wat gefaal het. Dit kom nou van iemand wat ook maar gespartel het as DA-leier en wat ook nie te waffers gevaar het by die stembus toe hy DA-leier was nie. Die werklike groot ommeswaai vir die DA het gekom toe Helen Zille die leier van die DA geword het en die DA deur sy eie politieke klankgrens laat breek het.

Die verwysing na Maimane as ’n “eksperiment” is doodgewoon ’n hou onder die gordel. Onthou, dit is Leon en sy keiharde liberaliste wat in een van sy verkiesingsfoefies besluit het om vroulike onderklere aan wasgoedlyne op die Kaapse Vlakte te hang. Hoekom het hy nie vroulike onderklere in wit woonbuurte gaan hang nie? As ’n mens wil praat van ’n eksperiment wat skouspelagtig verkeerd geloop het, dan is dit nou dié ene. En dit het op Leon se wagbeurt gebeur.

Dit het iemand soos Zille gekos om die kalf uit die put te probeer kry toe sy tot die openbare diskoers toegetree het en daarop gewys het dat sý eerder as ’n eksperiment gesien kan word toe sy Kaapstadse burgemeester geword het, wat ’n brose koalisie aan die gang moes hou.

Zille het ook na haarself as ’n eksperiment verwys toe sy die DA se hoof­leier geword het. Soos sy self uitwys, was dit ’n eksperiment wat kon misluk het. Gelukkig het dit nie en sy het die DA tot ongekende politieke hoogtes gelei.

Maar dit daar gelaat.

Die afgelope week is die DA geruk toe daar berig is dat Bonginkosi Madikizela, een van die party se kroonprinse, nie oor ’n BCom-graad beskik het soos sy CV aandui nie.

Die afgelope week is die DA geruk toe daar berig is dat Bonginkosi Madikizela, een van die party se kroonprinse, nie oor ’n BCom-graad beskik het soos sy CV aandui nie.

Madikizela kan dit nie as ’n blote fout bestempel of ’n gebrek aan oorsig nie, want hy het ’n klomp jare gehad om die “mistykie” reg te stel. Wat hy nie gedoen het nie. Madikizela moet pa staan vir sy oneerlikheid, want met dieselfde maatband waarmee ander gemeet word – veral sy ANC-opponente – moet hy nou gemeet word.

Die tydsberekening om Madikizela se kwalifikasies aan die groot klok te hang, kom nadat hy hom as kandidaat vir die amp van Kaapstadse burgemeester beskikbaar gestel het. Steek daar dalk waarheid in die gesegde dat een hond ’n ander in die politiek eet?

Ook is die gifpyle geskiet na Natasha Mazzone, DA-hoofsweep in die parlement, wat ook na bewering sou gekroek het met haar kwalifikasies. Mazzone het haarself in die openbaar verdedig en gesê dat sy nooit voorgegee het sy het ’n regsgraad nie, maar wel ’n regsagtergrond.

Die vraag wat dan nou gevra word, is of dit ’n vereiste is dat politici oor ’n naskoolse kwalifikasie moet beskik? Is ’n LP met ’n graad noodwendig beter as ’n LP met net matriek?

Die antwoord sal van persoon tot persoon verskil, maar waaroor daar wel konsensus behoort te wees, is dat ’n politikus ’n ruggraat behoort te hê. As baie LP’s dit ten minste gehad het, het ons nie vandag met ’n oudpres. Jacob Zuma gesit nie. Of daai politici wat al verby aftree-ouderdom is en lê en snork gedurende parlementêre debatte en wat zero bydrae lewer, maar meer as R1 miljoen (byvoordele uitgesluit) van belastingbetalers se geld verdien.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Graad  |  Bedrog  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.