Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eerder voortsukkel as oorgawe aan diewe

In my vorige bydrae tot dié rubriek, op 14 Desember, het ek onder meer geskryf:

“Selfs die beste ontleders het nie ’n idee van die felheid van die interne aanslag deur die oorblywende staatskapers nie. Hulle daal selfs tot op die vlak om die president se TV-boodskap met die verkeerde een om te ruil.

“En hou maar dop. Hoe nouer die vervolgingstrop om hulle trek, hoe desperater en gevaarliker gaan hulle word.”

En 2020 het skaars begin of ons bevind onsself klaarblyklik kniediep in ten minste ’n oefenstormlopie vanuit die ANC in pres. Cyril Ramaphosa se rigting om sy krag te toets.

  • Die Eskom-narratief het gehelp om die etiket van algehele hopeloosheid duidelik om Ramaphosa en diegene soos Pravin Gordhan se nek te hang. En die amperse Bell Pottinger II-veldtog verloop heel goed: Skep ’n skaakmat vir enige besluitneming intern en blokkeer enige inisiatiewe van CR;) Kry die boodskap uit die man kan nie besluite neem nie en dus is probleme soos Eskom en swak dienslewering sy skuld; en) Só word die sindroom geskep alles is eindelik die gevolg van sy besluiteloosheid en al is hy ’n “goeie ou”, kort ons eerder iemand wat besluite kan neem.
Barnard Beukman

Dié strategie word uiteraard goed aangehelp deur die toenemend ernstige gevolge van swak landsbestuur op Jan en alleman – of dit nou beurtkrag is, te min plek in skole, slaggate in paaie, rioolvuil in riviere of waterpype wat meermale leeg is.

En CR se “slakkegang-konsultasie in kringe” – om vanuit sy binnekring aan te haal – sterk die stormlopers se saak verder.

Tydsberekening Tydsberekening in die politiek bly kritiek en dit gaan interessant wees om te sien of die stormlopers s’n in dié geval reg is. Is dit nie dalk te vroeg nie en moes hulle nie gewag het om nader aan belangrike konferensies van die ANC te kom nie?

Moontlik het hulle gereken die stemming is gunstig en daar is ook dinge wat hulle druk – die Zondo-ondersoek en moontlike vervolgings. Die Valke se oefenlopie met die inhegtenisneming van Bongani Bongo, voormalige intelligensieminister en Zuma-meeloper, is deur hulle as waarskuwingskote ervaar.

Ook sal ingrypende veranderinge by staatsondernemings, soos die SAL en Eskom, die herorganiserende groep staatska­pers om Ace Magashule en moontlik selfs adj.pres. David Mabuza laat voel hul selfverrykingskanaal droog op.

Sonder die werk wat hulle aan onproduktiewe stemvee kan verskaf, begin hul magsbasis verkrummel. En veral die verlies aan beheer oor die toekenning van miljarde rande se kontrakte aan elite-kamerade en familielede bring mag in die gedrang.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, hul een belangrike pion, se posisie as openbare beskermer is ook toenemend onder skoot. So alles in ag genome het hulle moontlik gemeen nou is die tyd om hul greep te verstewig. En waarskynlik is die plan vir eers ’n verdere verswakking van Ramaphosa en dat hy bloot die gesig van die ANC bly.

Twee hofsake Die interne spanning en twis word ook verhoog deur toenemende druk op die ANC weens swak dienslewering.

Die Mpungose- tradisionele raad, bygestaan deur ander organisasies in die Nkungumathe-gebied in die Nkandla-distrik in KwaZulu-Natal, het middel verlede jaar stil-stil ’n belangrike hofsaak gewen. Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het in hul guns beslis in die saak teen die provinsiale regering wat laasgenoemde verplig om ’n hoërskool­ te bou. Die hof het in kort beslis beloftes in dié verband maak skuld en gelas dat die begroting aangepas word sodat die skool in 2021 kan begin.

In die Oos-Kaap het die hooggeregshof die Makana-munisipaliteit onder administrasie geplaas ná ’n aansoek deur die Unemployed People’s Movement en ander weens “die versuim om water- en sanitasiedienste te lewer en die ernstige verwaarlosing van infrastruktuur”.

Dus is dit nie net meer stedelinge en burgerlike organisasies, soos Outa en AfriForum, en belangegroepe soos Freedom Under Law en die Helen Suzman-stigting wat ingryp nie. Die platteland het ook begin ontwaak – die laaste vesting van die ANC.

Waar laat dit Ramaphosa? Waaroor die anti-Ramaphosa- juigbende die heeltyd swyg, is betekenisvol. Wat gaan die gevolg van sy ontseteling meebring? En wie erf Tuynhuys?

Die staatskapers terug in die saal en die voltrekking van die ingeplofde, mislukte staat? Of ’n nabootsing van die Asiatiese tiermodel met aanvanklik vinnige outokratiese dienslewering en beter groei onder Mabuza, maar met ’n geleideliker dreinering van bronne agterlangs? Nog meer besigheid vir Magnus Heystek, beleggingsmous in negatiewe sentiment, wat die media aanval as hulle iets positiefs oor Rama­phosa durf skryf?

’n Magtelose president sonder rigting is allermins wat die land nou kan bekostig. En of Tito “Twieto” Mboweni, minister van finansies, se alleenstryd om die rasionele derde weg die wolwe by die deur gaan weghou, is ’n goeie vraag.

Maar as daar enige kans is dat die beleidsbeweegrede van die Ramaphosa-kamp uiteindelik kan wen, dan eerder nog voortsukkel soos nou as oorgawe aan die staatskapers.

As Afrika dan “nie vir sissies is nie”, moet diegene wat nie die ruggraat het om te veg om wat reg is nie maar waai.

Met of sonder Ramaphosa is daar nog heelwat om voor vas te byt.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.