Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eerlikes in ANC moet opstaan
06 September 2018
Gert Coetzee

Nieu-Seeland se premier, Jacinda Ardern, loop onder heftige kritiek oor “vermorste belastinggeld” deur. Haar ligte mistykie is dat die afsonderlike vlug vir haar staatsbesoek aan die Stille Oseaan-eilande tussen R500 000 en R1 miljoen kos. Weens baba- verpligtinge tuis wil sy nie langer as een dag weg wees nie.

In die konteks van Suid-Afrika se bodemlose put vir die verduistering van staatsgeld: Ardern steel nie die geld nie; dit ís vir ’n amptelike besoek om Kiwi-verhoudinge met hul bure te bou, en die reis is nie bo die jaarlikse begroting nie. Vanuit ons korrupsievoos land kom die heftige stelling teen geldmorsery as ’n vars bries oor.

Dis waar. Watter politikus of amptenaar is soveel geld per dag werd?

Buiten in Suid-Afrika waar die amptelike vermorsing van miljarde rande kleingeld is. ’n Span amptenare piekel per vliegtuig na Kaapstad waar hulle in ’n duur hotel bly. Weens geite of laksheid word die sessie van die parlementêre portefeuljekomitee afgestel. Almal het darem gevlieg, gebly en geëet – in Hendrik Schoeman-taal.

Meneer Voormalige Nommer Een, alias “Die Ou Man”, is jy skelm? En het jy gesteel? Ja of nee? Einde van storie.

Verlede week moes die Vrystaatse departement van gesondheid verskyn voor die Nasionale Raad van Provinsies se oorsigkomitee wat Rommelstad toe gevlieg het. Weens vrees dat hulle vir verdwene miljoene by die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks moes pa staan, was die betrokkenes afwesig. Hulle word gedagvaar om te verskyn, maar die geld is vermors. Ryk en lekker.

Nieu-Seeland se standpunt gee afstandelike perspektief aan die duur ondersoeke na staatskorrupsie in Suid-Afrika. ’n Kommissie van ondersoek na korrupsie in die kommissie van ondersoek na korrupsie inkluis.

Gegewe die aard van die woord “korrupsie” is die eenvoudige vraag: Meneer Voormalige Nommer Een, alias “Die Ou Man”, is jy skelm? En het jy gesteel? Ja of nee? Einde van storie.

Korrupsie beteken sleg, omkoopbaar en bedorwe. Wat maak dat jy vatbaar is vir diefstal in al sy sluipformate. Vir elke prostituut is daar ’n koppelaar.

Nie net neem jy wederregtelik iets wat nie aan jou behoort nie, maar jy misbruik jou pos of mag om voordele te beding wat jou nie toekom nie. As jy nie gelyke waarde bied vir die salaris wat jy verdien nie, is dit ook steel.

Soos “dood” kan dit nie net halfpad wees nie. Jy is korrup. Of jy is nie.

Van korrupsie lyk Bloemfontein en die Vrystaat en Noord-Kaapse dorpe soos wat hulle lyk. As die belastinggeld goed en reg bestee is en amptenare en politici doen wat hulle moes, sou die teendeel blyk. Sonder korruptes was daar nie opgehoopte vullis, stromende riool, slaggate of welige onkruid nie.

Dat die ANC ’n integriteitskomitee en die parlement ’n etiekkomitee het, dui op “integriteit” en “etiek” in die sin dat jy net nie uitgevang moet word nie.

As jy uitgevang word, wend jy staatsgeld aan om ’n web van oëverblindery te spin. En trek die een vertragingstruuk op die ander.

Vincent Smith, ANC-LP, het eers in die staande komitee oor openbare rekeninge gedien. Sy verweer oor sy “lening” van bykans R700 000 van die omstrede Bosasa is dit is vir universiteitsgeld vir sy dogter. Regtig?

Sou Bosasa die geld voorskiet as hy nie juis dié pos beklee het nie? As ’n LP werklik geld nodig het, hoekom dit nie by die bank leen nie?

Is daar eniges in die ANC wat heel en sonder SEB-voordele vir die elite vlekloos in buitery staan? Aan die wenner ’n eksemplaar van Paul Hoffman se nuwe boek Confronting the Corrupt.

Al wyse hoe korrupsie in Suid-

Afrika gekeer gaan word, is as die ANC skeur.

Die partylede wat werklik teen die euwel gekant is, moet wegbreek en saam met enersdenkendes, dalk die DA, ’n “skoon” party, hopelik met ’n oorgrote meerderheid, vestig. Wat is die kans?

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Korrupsie  |  Staatsbesteding  |  Politici  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.