Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eerste dag by die werk en jy is 64 jaar oud
Dana Snyman

Vroegoggend is hy wakker. Die son skyn deur die skeur in die gordyn tot op die tafel by die deur waarop die tweeplaatstofie en ’n paar ander goed staan. ’n Kastrol en ’n blikkie Ricoffy. ’n Sakkie suiker. ’n Blikbord en sy blou koffiebeker.

Hy skakel die radio op die stoel voor die bed aan en kom regop. Sy rug voel goed.

Hy was sy gesig en borsel sy tande sonder om na homself in die spieël bokant die wasbak te kyk en trek die swart broek en wit langmouhemp aan wat hy by Pep gekoop het.

Hulle sal glo vir hom ’n baadjie, ’n hoed en ’n knuppel gee.

Hy kook water in die kastrol en maak vir hom koffie in sy beker. Dad, staan op die beker, bokant ’n rooi hart – ’n geskenk uit sy jare op Vanderbijl. Die beker en die geraamde foto langs die radio op die stoel is al wat hy nog uit daardie tyd het. Hulle vier laggend op Uvongo se strand, hy met ’n glas in die hand.

Hoe het hy nie al gewens hy kan daardie glas op die foto uit sy hand uit kry.

Hy skep vier lepels suiker by sy koffie met die plastieklepeltjie wat hy op die sypaadjie opgetel het. Dit behoort beter te gaan van vandag af. Die kamer kon hy met sy allpay-geld betaal, en die mense van die kerk het gehelp met die bed en ander goed.

Die vrou by wie hy die kamer huur se hondjie blaf toe hy by die hekkie uitgaan.

Iets van lank gelede kom na hom terug terwyl hy stap na die sentrum wat bokant die huise se dakke uitsteek. Hoe hy ’n hanswors was in hul skoolkonsert en hoe bang hy was om op die verhoog te gaan.

Wanneer hy iets voor mense moet doen, gaan hy aan die bewe­.

Hy gaan staan naby Edgars en kyk na sy skaduwee wat voor hom uitstrek.

Die ander wag al in hul swart broeke en wit hemde voor die Baas se kantoortjie agter die sentrum. Een is van Ghana af. Dis ook sý eerste dag.

Die Baas laat hulle voor hom aantree. Twee het gister weer ’n vrou se foon gegryp, sê die Baas. Hulle moet hulle probeer vang as hulle nie gewapen is nie.

Hy weet nie of hy op 64 nog kan hardloop nie. Hy gee vir die Baas sy twintig rand, en die Baas skryf sy naam op die lys en sê die blok by die Edgars-ingang is syne en gee vir hom sy baadjie en goed.

By die hekke ry karre in. Hy gaan staan naby Edgars en kyk na sy skaduwee wat voor hom uitstrek. Die hoed. Die knuppel. Toe hy ’n hanswors in die skoolkonsert was, het hulle vir hom ’n plastiekneus gegee.

Naby hom hou die eerste kar stil. ’n Vrou klim uit. “Kan’k maar ’n ogie hou,” sê hy, maar sy hoor hom nie. Sy stap na die ingang toe. Hy wonder of sy weet hy het ’n huis gehad, en ’n kantoor, en ’n motor.

Nog een hou stil. Hy stap nader. Hy sal dalk later ’n Grandpa moet kry vir sy rug.

Dit gaan vandag 32 word, het hulle oor die radio gesê.

Meer oor:  Menings  |  Dana Snyman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.