Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eet minder of geen vleis en red só die aarde

Die klimaat verander teen ’n ongekende tempo en bedreig talle aspekte van ons wêreld. Ons verstaan nie die gevolge vir ons welstand ten opsigte van ons water, kos en natuurlike sisteme ten volle nie en dit is angswekkend.

Die oplossings vir komplekse probleme is meestal ewe ingewikkeld.

Nicola Kuhn.

Maar in hierdie geval lyk die oplossing eenvoudiger, want elkeen van ons kan ’n bydrae daartoe lewer.

Die mag is in ons hande . . . of eerder op ons borde.

’n Onlangse studie deur navorsers van die Oxford Martin School het bestaande feite gekonsolideer dat ’n verskuiwing na ’n veganistiese of vegetariese dieet kweekhuisgasvrystellings met twee derdes kan verminder.

Dit sal ons pogings om klimaatsverandering hok te slaan in ’n groot mate beïnvloed. Die studie toon voorts dat heelwat minder vleis en heelwat meer groente mense baie gesonder sal maak.

Die laer kalorie-inname sal vetsugvlakke laat daal en kan tot 8 miljoen lewens teen 2050 red.

So ’n dieet sal voorts ekonomiese sin maak, met jaarlikse gesondheidsverwante besparings van $700 miljard tot $1 000 miljard, asook ’n besparing van $1 500 miljard deurdat klimaatsverwante onkoste vermy word.

Benewens dié voordele sal ons nie meer soveel diere hoef te slag nie. Hoekom raak ons dan nie almal veganiste of vegetariërs nie?

Ofskoon die veganiste en vegetariërs in Suid-Afrika toeneem, steun die onderskeie kulture steeds swaar op vleis in hul dieet. Die herlewing van die Banting-dieet in die vorm van Tim Noakes se Real Meal Revolution het ons koolstofvoetspoor beslis geen guns bewys nie.

Mense hou van die smaak van vleis en sukkel om die versoeking van byvoorbeeld ’n spitbraai of biltong te weerstaan.

Die oplossing is tweeledig: Verminder en vervang.

Verminder die hoeveelheid vleis wat jy eet, sonder om dit heeltemal uit te sny.

Die woord “fleksitariër” beskryf mense wat hierdie benadering volg en is in 2014 in die Oxford English Dictionary opgeneem.

Dit is ’n heeltemal haalbare opsie vir mense wat hul vleisafhanklikheid wil verklein, maar nie kans sien om dit heeltemal uit te sny nie.

Plantgebaseerde opsies kan ook help om voedselverwante kweekhuisgasvrystellings te verminder. Hierdie opsies het die reputasie dat dit smaakloos is of ’n eienaardige tekstuur het.

Maar die mark het die laaste jare gegroei en die gehalte van die ander opsies het ook.

Benewens die tradisionele tofoe is plant- en fungusgebaseerde voedselopsies smaakliker en veelsydiger, asook goedkoper as vleis.

Die Amerikaanse maatskappy Impossible Foods het ’n stap verder gegaan deur vleisselle in laboratoriums te kweek om hamburgerfrikkadelle met presies dieselfde smaak en tekstuur as regte vleis te skep.

Beter koskeuses sal eenvoudiger raak soos wat die plantgebaseerde mark groei en restaurante meer alternatiewe aanbied.

Dalk sal hierdie land se vleismal-nasie dan hul ingesteldheid verander. Dit kan ook beteken om hoender of volstruis (met minder vrystellings) bo rooivleis te kies.

  • Ons het werklik die mag om ’n verskil te maak as ons kies om bewustelike verbruikers te word. Kuhn is ’n PhD-student aan die Universiteit van Oxford. Sy bestudeer die reaksie van plantegroei op klimaatsverandering.
Meer oor:  Kos  |  Water  |  Aarde  |  Klimaat  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.