Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eeue en myle se slytasie ten spyt

In ’n onlangse rubriek van Herman Lategan is die werkwoord “slyt” die vertrekpunt vir ’n dartelverhaal.

Die woord beteken om dunner of broser te word deur die skuur en puim van die lewe. Slytasie maak dinge uiteindelik papierdun.

Raar, dink ek toe ek dié treffende stuk lees. Net die vorige dag kom ek en my nuwe leerlingadvokaat die woord in ’n ander gedaante en konteks teë.

Van junior advokate word verwag om sulke nuwelinge onder die vlerk te neem. Een op ’n slag, vir ’n jaar lank, sodat die pupille, soos hulle in die bargoens van die regspleging heet, deur só ’n vakleerlingskap in die nissies en lussies van litigasie onderlê kan word.

Siyanda Sindikolo kom van Sterkspruit in die noordooste van die Oos-Kaap, daar waar ons land en Lesotho teen mekaar aanvly. Sy moedertaal is Xhosa. Min het hý gedink, vertel hy my later skalks, dat hy in sy eerste week by die Johannesburgse balie met keiser Karel V kennis sou maak. En met perkament-Hollands.

Die selfstandige naamwoord ‘sleet’ is aan ‘slyten’ ontleen, wat be­teken ‘om te verbruik’ asook ‘om in klein hoeveelhede te verkoop’.

Karel is immers al op 24 Februarie 1500 gebore. Van 1519 tot 1556 het hy die septer oor die Heilige Romeinse Ryk geswaai. Sedert sy sesde jaar was hy ook die opperheer van die Nederlande.

Én, voeg Siyanda by, dat daardie ontmoetinge as ’t ware in Eswatini – die koninkryk wat voorheen Swaziland geheet het – sou plaasvind.

Dié verhaal vertel iets oor die aard van die reg en oor die koloniale tradisie waarop dit nog in baie, soms onverwagte, opsigte berus.

’n Brevet het op my lessenaar beland met ’n moontlike eis wat in Eswatini gebring moet word – maar wat by eerste oogopslag nogal beleë lyk. Vir ’n regspraktisyn is ’n ou eis dikwels ’n vreesaanjaende ding.

In Suid-Afrika word die kwessie van verjaring deur die Wet op Verjaring gereël. Daardie wet versamel die reëls wat bepaal hoe en wanneer eise verjaar (of regtens tot niet gaan).

In Eswatini is dit verrassend genoeg anders gesteld. Dáár is geen spesifieke wet deur die parlement uitgevaardig wat verjaring netjies en eenvormig reguleer nie. Om die antwoord te vind op die vraag of ’n eis in die niet verdwyn het, moet ’n mens jou op die gemenereg beroep – die korpus regsreëls wat nie in hedendaagse wette vervat is nie, maar wat uit uitsprake en ou bronne bestaan.

Op 22 Februarie 1907 het die Romeins-Hollandse gemenereg, soos dit in die Transvaal (en vroeër die ZAR) toegepas is, ook Swaziland s’n geword.

Op 22 Februarie 1907 het die Romeins-Hollandse gemenereg, soos dit in die Transvaal (en vroeër die ZAR) toegepas is, ook Swaziland s’n geword.

Dus ook artikel 16 van Karel se placaat (of wet) van 4 Oktober 1520, wat bepaal dat onder meer advokate, prokureurs, sekretarisse, dokters en chirurge se tariewe vir dienste gelewer in die reël ná afloop van twee jaar wegval as ’n eis dan nog nie ingestel is nie. Dieselfde geld “koopmanschap” of goedere “ter slete gelevert”.

In sy uitspraak in die saak Little v. Rothman (1895) het die ZAR se toentertydse hoofregter, JG Kotzé, die uitdrukking “ter slete” in die 1520-placaat só uitgelê: “Die selfstandige naamwoord ‘sleet’ is aan ‘slyten’ ontleen, wat be­teken ‘om te verbruik’ asook ‘om in klein hoeveelhede te verkoop’.

“ ‘Koopmanschap ter slete gelevert’ is goedere wat deur die kleinhandel verkwansel word of wat in klein maat vir verbruik verkoop word.”

Anderhalf jaar terug het Eswatini se appèlhof dié ou Hollands bepieker en besluit dat steenkool wel onder ’n bepaalde kontrak “ter slete” gelewer is. Met verreikende gevolge.

Ná ’n harde Saterdagmiddag se delf laat Siyanda stralend blyk dat hy die mure van tyd en taal óór is. Hy meen die regters had op Karel-van-weleer se wet ’n vaste greep. Eeue én myle se slytasie ten spyt, is daar soms hardnekkige lewe in vreemde plekke.

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Jean Meiring  |  Woorde  |  Eiendomsreg  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.