Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
EFF eindelik ‘die grootste wenner’

In die eerste aflewering van Netwerk24 se Topvyf-reeks word die gevolge van vanjaar se verkiesingsuitslae vir die EFF, die VF Plus en die IVP en hul leiers ontleed. Vrydag is die twee grotes, die ANC en die DA, aan die beurt.

Die EFF is die grootste wenner in vanjaar se verkiesing.

Talle waarnemers meen dat die party wel nie te waffers gevaar het nie omdat hy nie die steun van sowat 14% behaal het wat in meer as een meningspeiling van hom verwag is nie en dat hy heel moontlik nou sy plafon bereik het.

Julius Malema, EFF-leier.

Ek is nie so seker daarvan nie.

Die EFF se steun het van 6,35% in 2014 tot 10,79% gegroei, ondanks hardnekkige gerugte wat sy leiers nou al jare lank met korrupsie verbind.

Die EFF se steun het met meer as vier persentasiepunte gegroei, ondanks bewerings voor die verkiesing wat van sy leiers met hul uitspattige leefstyl verbind met die VBS-skandaal, waarvan die weerloosstes onder die weerloses die slagoffers was. (Iets wat bewys dat die sjampanje-so­sialiste van die EFF se rooi oorpakke nie juis dui op werklike empatie met die armes en die werkersklas nie.)

Julius Malema se party kon sy steun opstoot, ondanks die fascistiese en soms ontstellend militaristiese aard daarvan, wettelose optrede van sy ondersteuners met byvoorbeeld die plundering van H&M-klerewinkels, sy dikwels boefagtige optrede in die parlement wat dui op ’n minagting van die demokrasie, sy aanmoediging van onwettige grondbesetting, sy onwerkbare ekonomiese beleid, wat onder meer die nasionalisering van grond behels, en sy skaamtelose onverdraagsaamheid teenoor minderheidsgroepe, soos Indiërs en wit mense.

Dit is nog betekenisvoller dat die EFF sy steun kon opstoot, die DA in drie provinsies uit die amptelike opposisiebanke kon hou én ’n duik in die ANC se steun in Soweto kon maak sonder sy grootste stemwerwer in oudpres. Jacob Zuma en ondanks die swakker as verwagte registrasie onder jong kiesers – potensieel een van sy grootste steunbasisse.

Daar is waarnemers wat glo die EFF het ’n plafon bereik omdat kiesers vanjaar weer gewys het dat hulle nie juis ’n aptyt het vir radikale partye nie. Ook daarvan is ek nie so seker nie. Radikale partye het kiesers inderdaad nie in die verlede juis opgewonde gehad nie, maar die EFF het vanjaar meer as tien keer soveel steun gekry as die PAC in 1994.

Ons sal in die vyf jaar tot die volgende verkiesing baie meer van die EFF hoor as wat vroeër die geval was. Hy sal eerstens breëbors wees oor die feit dat sy 10,79% van kiesers se steun die ANC sal help om ’n tweederdemeerderheid in die parlement te kry sodat art. 25 van die Grondwet verander kan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Verwag dat die EFF sommer groot politieke munt daaruit gaan probeer slaan.

Die EFF se getal LP’s sal danksy sy groter steun van 25 tot 43 toeneem. Hy sal dus baie meer aandag as voorheen kry en hard in die DA se nek blaas.

Sy volgelinge het ook rede om nog meer op sosiale media bedrywig te wees en as die EFF die jonges onder hulle so ver kan kry om Twitter net een dag vir ’n stembrief te verruil, sal sy steun verder toeneem.

Die EFF is vanjaar tot net meer as 10% beperk omdat pres. Cyril Rama­phosa die steun van weifelaars kon teruglok. As Ramaphosa sy verkiesingsbeloftes kan nakom, sy party kan verenig, korrupsie doeltreffend kan be­veg, die ekonomie laat groei en die ANC as ’n werkbare gematigde alternatief teenoor die radikale EFF kan stel, sal Malema-hulle steun aan die regerende party afstaan.

Malema is ’n charismatiese leier op wie die EFF sterk staatmaak. Maar sonder hom en die kerngroepie van ander leiers om hom sal die EFF nes baie ander partye wat op die fascistiese model en sentristiese beheer gebou is in faksiegevegte verval en in duie stort.

Gebeur dit nie en misluk die ANC ook weer soos in die era van Zuma en ontgogel die swart middelklas en laat die ekonomie stagneer, kan die EFF sy steun oor vyf jaar met heelwat meer as vier persentasiepunte opstoot.

  • Van der Westhuizen is Netwerk24 se stemmeredakteur.
Meer oor:  Julius Malema  |  Eff  |  Rubriek  |  Menings  |  Politiek  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.