SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
‘EFF, AfriForum voëls van eenderse vere’

Die EFF’s en AfriForums van die wêreld blyk vasbeslote te wees om ons al verder uitmekaar te dryf. Ons moet liewer by die boere leer, skryf Liezel de Lange.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het in die parlement aangevoer dat dit die “grootste historiese wanbegrip van ons tyd is” dat wit mense grond gesteel het.Foto: Deaan Vivier

’n Boer maak ’n plan – ten spyte van die regering.

Dis is hul stemme wat (uiteindelik) die afgelope weke opklink te midde van die vurige debatte oor grondhervorming en die omstrede plan om grond sonder vergoeding te onteien.

Terwyl sommige groepe hul allerbeste probeer om Suid-Afrikaners aan die linker- én regterkant by stiksienige en onwrikbare kampe in te jaag, is daar (genadiglik) diegene wat praat, luister én wat self al moue opgerol en ’n wesenlike bydrae tot bemagtiging en opheffing gemaak het.

Dís die boere wat ’n paar weke gelede die een ná die ander op Landbouweekblad se grondberaad op Bela-Bela op die verhoog geklim en vertel het hoe hulle hul werkers en ander opkomende boere help met alles van grond en kapitaal tot kennis en implemente soos trekkers.

Op dieselfde verhoog het ’n klomp swart boere (opkomende boere sowel as groot, gevestigde kommersiële boere) kom vertel hoe die regering hulle in die steek gelaat het deurdat hulle nie titelaktes vir hul grond kry nie, sukkel met toegang tot lenings en dat kundige leiding heeltemal ontbreek. Talle het hier vertel dat dit juis die wit boere was wat die hand uitgesteek het om te help.

Julius Malema, leier van die EFF.Foto: Deaan Vivier

Bell Pottinger se rasverdelingstrategie

Daar is geen twyfel dat die regering ons mense liederlik gefaal het wat (ook) grondhervorming en bemagtiging betref nie. Soos in talle ander staatsdepartemente het dienslewering omtrent tot stilstand gekom in die bykans dekade lange plundering van die staatskas deur oudpres. Jacob Zuma se trawante.

Nou sit Suid-Afrika met die gebakte pere.

Julius Malema, die EFF-leier, laat geen geleentheid verbygaan om die rassekaart te speel, gemoedere op te jaag en verdeeldheid te saai nie.

Die oordrag van grond vir hervorming het geval van ’n hoogtepunt in die 2007-’08-boekjaar van 500 000 ha (in die laaste stuiptrekkings van oudpres. Thabo Mbeki se administrasie) tot ’n skamele 150 000 ha in 2015-’16 en bykans niks in 2016-’17 nie.

Vir 2008-’09 het geld vir die hervorming 0,45% van die nasionale begroting teenoor 0,2% in 2015-’16 beloop.

Nóg ’n tragiese nalatenskap van die Zuma-era is verslegtende verhoudinge tussen die verskillende rasse in ons land. Nie net weens die frustrasies van swak dienslewering nie, maar ook omdat rassisme aktief aangeblaas is: Die sade van Bell Pottinger se rasverdelingstrategie het ongelukkig op vrugbare grond geval.

Wankelrige rasseverhoudinge is ook tekenend in die manier waarop die gronddebat bedryf word. Julius Malema, die EFF-leier, laat geen geleentheid verbygaan om die rassekaart te speel, gemoedere op te jaag en verdeeldheid te saai nie.

Liezel de LangeFoto: Mary-Ann Palmer

‘Grootste historiese wanbegrip van ons tyd’

En net soos wat Malema se konfronterende styl onverdraagsaamheid aanvuur, het Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, na alle waarskynlikheid nie verlede week met sy voorlegging aan die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee versoening óf ’n omvattende oplossing vir grondhervorming (tot voordeel van alle Suid-Afrikaners) in gedagte gehad nie.

Hy het hier aangevoer dat dit die “grootste historiese wanbegrip van ons tyd is” dat wit mense grond gesteel het.

Nie almal interpreteer die geskiedenis op dieselfde wyse nie, maar een ding wat ons nooit, ooit mag doen nie, is om die wandade van die verlede te probeer misken nie.

Ons durf nie die pyn wat kolonialisme en daarna apartheid ons swart broers en susters aangedoen het, geringskat nie.

Sommige grond, soos Roets gesê het, het in wit hande beland danksy aankope, ooreenkomste en oorloë. Maar daar was ook grondoordrag weens die Wet op Naturellegrond van 1913 en die Groepsgebiedewet van 1950 – albei deel van ’n baie groter proses om ons landsburgers te ontmagtig.

Ons durf nie die pyn wat kolonialisme en daarna apartheid ons swart broers en susters aangedoen het, geringskat nie. “Jy het nou vandag hier gehoor hoe mense hul harte verhard weens wat jy vandag gesê het,” het ’n woedende Steve Swart, ACDP-LP, op Roets se voorlegging gereageer. “Julle vat ons terug . . . Jy het nie kommentaar gelewer op een klousule van die Grondwet nie, maar die ANC en EFF aangeval. Dit is presies soos die BLF (Black First Land First) gister, wat my as wit mens aangeval het.”

Dan Kriek, president van Agri SA, is aan die voorpunt van boere se pogings om oplossings te vind en tot ’n vergelyk met die regering te kom. Foto: Willem Law

Die ekonomie is in ’n toestand en die gronddebat vuur die probleme verder aan. Rapport het die naweek berig dat grondpryse reeds met sowat ’n derde geval het. Meer as die helfte van ons jeugdiges sit sonder werk en die allemintige gaping tussen ryk en arm hou aan groei – ’n onvolhoubare situasie wat iewers tot sosio-ekonomiese uitbarsting gaan lei.

Ons mense kry swaar en hulle raak desperaat. Ons moet oplossings vind sonder om verdeeldheid en bitterheid verder aan te jaag. Die EFF’s en AfriForums is voëls van eenderse vere en blyk vasbeslote te wees om ons al verder uitmekaar te dryf. Ons moet hulle in hul spore stuit.

Die gesprekke die afgelope tyd tussen die regering en georganiseerde landbou, met mense soos Dan Kriek van Agri SA aan die stuur, het ’n baie beter kans om ons nader aan oplossings te bring as vurige dreigemente en miskennings (van die linker- én regterkant van die spektrum) wat die gemoedere aanblaas.

Laat die boere van Bela-Bela die soort mense wees wat ons leefwêreld help verander en mag die ekstremiste tot randeiers gerangeer word.

Meer oor:  Julius Malema  |  Ernst Roets  |  Dan Kriek  |  Grondberaad  |  Eff  |  Agrisa  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.