Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
EFF en OB loop albei op dun ys

Een persoon wat waarskynlik genot put uit die EFF se ontwrigting van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se begrotingsrede verlede week in die parlement, is die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane. Want haar knaende vervolging van Gordhan pas mooi in by die EFF se hatigheid jeens hom.

Dit ten spyte daarvan dat die EFF by monde van sy leier, Julius Malema, onlangs verklaar het sy party werk aan ’n plan om Mkhwebane uit haar pos te verwyder.

Mkhwebane skaats op dun ys met haar veldtog teen Gordhan. Baie mense en politieke partye reken sy het nie ’n behoorlike begrip van wat sy doen nie en wanvertolk haar magte.

Sy word verder verdink van ’n politieke agenda. Daar is ook kommer dat sy die geloofwaardigheid van haar kantoor ondermyn of heeltemal aftakel.

Dit behoort ’n bron van groot kommer te wees vir alle Suid-Afrikaners. Haar voorganger, Thuli Madonsela, het baie hard gewerk om die persepsies van die kantoor van die OB blink te poets. Hierin het sy merkwaardig geslaag.

Die EFF se terugkeer na ’n politiek van ontwrigting het nogal verras. Dit is nie goeie nuus vir Suid-Afrika nie. Dit het ’n einde gebring aan die oënskynlike wapenstilstand tussen die EFF en die parlement sedert pres. Cyril Rama-phosa aan die bewind gekom het.

Die nuwe leiers van die parlement onder leiding van die speaker, Thandi Modise, het egter die EFF-aanval met ’n ferm hand hanteer. Dit is hoe dit hoort.

Die EFF moet tot die besef gebring word dat die vryheid wat hulle in die parlement geniet perke het.

Die EFF moet tot die besef gebring word dat die vryheid wat hulle in die parlement geniet perke het. In die verlede is hulle toegelaat om weg te kom met die soort ontwrigting wat die Nasionale Vergadering lamgelê en die land in die verleentheid gebring het.

Of die EFF nou daarvan hou of nie, dit is nie onredelik nie om van alle lede van die parlement te verwag om hulle met eerbiedigheid te gedra in die huise van die parlement. Die chaos wat verlede week in die Nasionale Vergadering afgespeel het, mag onder geen omstandighede geduld word nie.

Al die politieke partye het ’n verantwoordelikheid om koppe bymekaar te sit en uit te pluis hoe om die EFF tot ander insigte te bring oor sy gedrag in die parlement. Dit wat die EFF met Gordhan probeer doen het, was buffelagtig en uiters onhoudbaar, selfs vir radikale politici.

Die EFF kan sy standpunte na goeddunke verander en stel. Hy het egter geen reg om ’n kollega met fisieke geweld te dreig of om hom van sy reg om sy punt te stel, te ontneem nie.

Dis dan juis die doel van die parlement om ’n forum vir gesprek en onderhandeling te wees, nie vir ’n geskel en intimidasie nie. ’n Spreekbeurt in die parlement is die reg van elke lid van die instelling.

Dit is moeilik om simpatie te hê met Mkhwebane. Sy is klaarblyklik op ’n destruktiewe pad, wat gevaarlik is vir die integriteit van haar kantoor.

Daar heers ook groot kommer oor Mkhwebane in politieke kringe. Die Ahmed Kathrada-stigting het ná die publikasie van haar bevindinge teen Gordhan haar daarvan beskuldig dat sy haar met die aanstig van “faksie-politiek” besig hou. Die SAKP het haar erger dinge genoem, onder meer dat sy soos ’n gehuurde skerpskutter optree.

Ander politieke partye, insluitend die VF Plus en die DA, is krities oor Mkhwebane se hantering van haar pos. Sy moet dus versigtig wees om nie haar verhouding met LP’s te versuur nie.

Die taak van die OB is om klagte teen openbare figure te ondersoek. Maar wat van die klagte teen haar – wie waak oor die bewakers?

Dit klink na ’n vraag wat die OB gerus haarself kan afvra met betrekking tot haar optrede.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Pravin Gordhan  |  Ob  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.