Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
EFF is gevaar vir demokrasie

Hoewel die EFF se bedoelings soms met die openbare belang strook, hou die party ’n ernstige gevaar vir demokrasie in, skryf Christi van der Westhuizen.

EFF-parlementslede ontwrig die staatsrede. Foto: Jaco Marais

In die frustrasie oor die vertraging van die lewering van die staatsrede kan ’n mens maklik miskyk dat die speaker van die parlement, Thandi Modise, uiteindelik ’n werkwyse ontwikkel het om die EFF se oorname van sittings hok te slaan.

Die herrie oor FW de Klerk se apartheidstandpunt, so suksesvol deur Julius Malema van stapel gestuur, kan ’n mens dit ook laat mis.

Die EFF is doeltreffend daarmee om die nasionale diskoers te bepaal, soos die De Klerk-fiasko weer eens wys. Soms werk dit ten goede uit: In hierdie oomblik van verhoogde sosiale polarisering is dit belangrik dat De Klerk in die openbaar oor sy moreel aanstootlike standpunt aangevat is. Dit is ook goed dat hy en sy stigting die standpunt – ná beroepe deur die Tutu- en Mandela-stigtings en Thabo Mbeki se ingryping – teruggetrek het.

Malema se tirade oor De Klerk was ’n byvertoning: Gordhan was die eintlike teiken van sy onderbreking van die sitting.

Die openbare belang is ook met die EFF se “betaal-terug”-veldtog teen Jacob Zuma gedien. Uiteindelik het die party die parlement weer ’n relevante instrument in Suid-Afrika se demokrasie gemaak.

Gedurende die EFF-onderbreking aan die begin van die staatsrede-sitting was dit opvallend hoe parlementslede van alle partye die een ná die ander hul punte met parlementêre reëls gerugsteun het.

Voordat die EFF die parlementêre reëls begin inspan het om hul agenda te dryf, het die gemiddelde LP min van ’n benul van die reëls gehad. Hulle het selde daarna verwys, en dit oënskynlik as die speaker en hoofswepe se spesialiseringsgebiede behandel.

Die EFF se kragdadige gebruik van parlementêre prosedure noodsaak nou dat almal op die hoogte van die raamwerk vir parlementêre optrede moet wees, wat ’n goeie ding is. Dit verloop nie altyd glad nie, soos onervare ANC-LP’s se onderbrekings tydens Malema se toespraak in die debat oor die staatsrede vandeesweek gewys het, maar dra by tot die demokratiese aard van die parlement.

Gevaar vir demokrasie

EFF-lede op pad om uit die parlement te stap. Foto: Jaco Marais

Hoewel die EFF se bedoelings soms strook met die openbare belang, hou die party ’n ernstige gevaar vir demokrasie in. Dit lees ’n mens uit die party se demagogiese leierskap, die sterk waarskynlikheid van korrupsie, en die politieke aanwending van geweld en stigmatiserende spraak.

Laasgenoemde is weer eens geïllustreer met Malema se gebruik van die term “Jamnadas” in sy onderbreking van die staatsrede en sy toespraak vandeesweek. Dit is Pravin Gordhan se middelste naam, wat weens Malema se snouende gebruik die afgelope maande ’n kollektiewe belediging vir Indiërs op sosiale media geword het.

Malema se tirade oor De Klerk was ’n byvertoning: Gordhan was die eintlike teiken van sy onderbreking van die sitting, soos hy ook vooraf aangekondig het.

Malema en kie. se vyandigheid teenoor Gordhan strek terug tot die vroeë 2000’s toe hy (Gordhan) die korrupte netwerk in Limpopo, wat met Malema geassosieer was, geblokkeer het.

Die EFF is gewoond daaraan om uitgegooi te word, wat deel is van hul spektakel-politiek. Maar daar was geen geweld deur mans in wit hemde nie.

Die veldtog teen Gordhan wys dat die EFF, en spesifiek Malema, gelei word deur ’n magsbeheptheid wat om selfverryking sentreer. Dit is waarom Modise se benadering gedurende die staatsrede-sitting so belangrik was. LP’s se gebruik van die reëls van die parlement moet in die nasionale belang wees. Indien nie, moet stappe gedoen word.

Modise se benadering was eerstens om die EFF geleentheid te gee om hul punte van orde te maak solank dit volgens prosedure geskied. Die oefening het geïllustreer hoe gewone EFF-LP’s blindelings hul leier volg – tipies van demagogiese partye – en ’n kabinetsminister sonder enige geldige gronde wil laat ontslaan. Net Malema en Floyd Shivambu sal by sy ontslag baat, hulle nie. Steeds het hulle aangekarring.

Nadat die EFF alle moontlike punte gemaak het en steeds voortgegaan het om die staatsrede te onderbreek, het Modise die stap gedoen wat Malema se ergste nagmerrie is. Sy het die huis verdaag, en daarmee is die EFF se vertoning en propaganda-makery voor die TV-kameras kortgeknip.

Die EFF is gewoond daaraan om uitgegooi te word, wat deel is van hul spektakel-politiek. Maar daar was geen geweld deur mans in wit hemde nie. Skielik was dit onduidelik wat volgende gaan gebeur. Die party is van balans gegooi.

Cyril se invloed

Christi van der Westhuizen

Dit is hier waar ’n mens die invloed van pres. Cyril Ramaphosa se politiek bespeur, veral as ’n mens Modise en Baleka Mbete se swak hantering van ander sittings onthou. Siniese Suid-Afrikaners is dik vir Ramaphosa se praatjies oor konsensus en sosiale kompakte.

Maar naas die reg om van mekaar te verskil, is die vorming van konsensus ter wille van oplossings in die gedeelde belang ook deel van demokrasie.

Met die hervatting van die sitting het Modise drie stappe afgekondig. Eerstens sal élke party die kans kry om hul standpunt oor die situasie te lug. Tweedens sal partye hulself kan verskoon as hulle nie vir die staatsrede teenwoordig wil wees nie. Derdens sal die staatsrede plaasvind.

Malema het die skrif aan die muur gesien. Hy het juis vroeër ontstoke geraak oor LP’s se opmerking dat die EFF-posisie ’n minderheidsposisie is. In sy reaksie het hy vir die eerste keer in sy lewe ’n pleidooi om individualisme gelewer: EFF-LP’s praat as individue, nie slegs as lede van ’n minderheidsparty nie.

Ten spyte van die EFF-retoriek oor vrouebemagtiging, is Malema so patriargaal soos die volgende Zuma-aanhanger.

Sy argument het nie sin gemaak nie, maar hy het dit duidelik nie geniet om aan die ware status van sy party herinner te word nie.

Modise se uitnodiging aan alle partye om standpunt in te neem, het almal herinner dat die “wil van die nasie” deur ’n baie groter groep LP’s verteenwoordig word, en dat die EFF-posisie in vergelyking ’n luidrugtige dog klein minderheid vorm, selfs al is hulle die derde grootste party in die parlement.

Dus het Malema vinnig opgespring om sy laaste eier te lê, en die EFF-zombies is vort. Uiteraard moes hulle op pad uit waterbottels gooi na vroue-LP’s, want hulle kon nie anders hul gewone geweld-fix kry nie. Dit het ook as herinnering gedien dat, ten spyte van die EFF-retoriek oor vrouebemagtiging, Malema so patriargaal soos die volgende Zuma-aanhanger is.

Dit het hy ook bevestig met sy opmerking in sy toespraak vandeesweek – net nadat hy van huishoudelike geweld beskuldig is – dat hy die ANC “aan die skrotum” beet het.

* Van der Westhuizen is medeprofessor aan die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie van die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Eff  |  Thandi Modise  |  Julius Malema  |  Cyril Ramaphosa  |  Fw De Klerk  |  Staatsrede  |  Demokrasie  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.