Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
EFF-optrede herinner aan dié van Nazi’s

Die EFF se optrede teen Clicks verlede week het ontstellende ooreenkomste getoon met dié van die Nazi’s in die 1930’s en hou niks goeds vir rasseverhoudinge in die land in nie, skryf Pieter Labuschagne.

Lede van die SA dwing in April 1933 die boikot van ’n Joodse winkel in Berlyn af deur voor die ingang stelling in te neem. Foto: Getty Images

Die EFF se betogings voor winkels van Clicks wat in sommige gevalle tot vandalisme gelei het, is net weer ’n bewys van dié party se radikalisme.

Verlede week se optrede van die EFF het ook ontstellende ooreenkomste getoon met dié van die Sturmabteilung (SA) van die Nazi’s in die 1930’s in Duitsland toe boikotte van Joodse winkels afgedwing is.

Die enigste verskil was die omvang van die skade wat aan winkels aangerig is.

Die EFF het bewys dat hy onder aanhitsing van sy leier, Julius Malema, nie sal skroom om sy radikalisme te verskerp vir maksimum politieke gewin nie.

Lede van die EFF het mense verlede week verhinder om by dié Clicks-winkel in Johannesburg in te gaan. Foto: Reuters

Net soos die geval in die 1930’s in die Weimar-republiek was, bly die meeste demokrasieë huiwerig om teen dié soort intimiderende boewery op te tree.

Sulke huiwering skep ’n ruimte vir verdere opportunistiese radikale optrede in die toekoms met die EFF se radikalisme wat reeds ’n herkenbare patroon op die politieke toneel gevorm het.

Malema se aanhitsing van sy ondersteuners wat tot geweld kan lei word meestal nie gestraf nie en neem ook in só ’n ruimte toe.

Malema se “klagstaat” sluit reeds die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar in asook die aanranding van polisielede en goedkeuring van die bullebakgedrag deur ander EFF-ampsdraers teen onder meer joernaliste.

Vir baie gematigde Suid-Afrikaners lyk dit asof die EFF en sy leier onrusbarende onaantasbare status en ’n vrypas om rassehaat aan te blaas, verkry het.

Malema kan natuurlik vir die aanhitsing tot geweld op grond van die bepalings van die Wet op die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite (Wet no. 33 van 2004) aangekla word.

Dié wet verbied uitdruklik die aanhitsing en aanwending van geweld om eiendom te vernietig.

Baie Suid-Afrikaners kan egter vergewe word as hulle dink Malema en sy makkers sal nooit suksesvol vir aanhitsing of geweld vervolg word nie.

Vir baie gematigde Suid-Afrikaners lyk dit inderdaad asof die EFF en sy leier onrusbarende onaantasbare status en ’n vrypas om rassehaat aan te blaas, verkry het.

Die Duitse voorbeeld

Nog ’n toneel uit April 1933 toe die Nazi’s se Sturmabteilung Joodse winkels in Berlyn geboikot het. “Duitsers, beskerm julself,” lui een van die plakkate. “Moenie van die Jode koop nie.” Foto: Getty Images

In die Duitsland van die 1930’s het die paramilitêre SA gereeld op georkestreerde wyse voor Joodse winkels stelling ingeneem en mense probeer verhoed om daar te koop.

Optrede teen Jode in Duitsland het op 9 en 10 November ’n hoogtepunt bereik op die sogenaamde Kristallnacht toe die SA en lede van die publiek landwyd in ’n verwerplike daad van erge rassisme honderde Joodse winkels beskadig en selfs sinagoges afgebrand het.

Die winkels se vertoonvensters is gebreek en daar het soveel stukke glas in die strate gelê dat die nag as die kristal- of glas-nag bekend gestaan het.

Die Nazi-owerhede het stilswyend en goedkeurend van langs die kantlyn toegekyk en niks gedoen om gewone landsburgers te beskerm nie.

EFF-lede versper die ingang na ’n winkel van Clicks in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Verlede week het die EFF, in wat sommige waarnemers as ’n oorreaksie beskou, ’n spesifieke winkelgroep in opdrag van die opportunistiese Malema in die visier gehad ná ’n sjampoe-advertensie met rassistiese ondertone.

Die deure van talle winkels is gevolglik gesluit, daar was berigte dat brandbomme na winkels gegooi is, vandale het winkelrakke omgekeer, vensters is gebreek en veral wit mense is geïntimideer.

Winkels kon nie sake doen nie en werkers, wat juis bekommerd is oor werksekerheid te midde van grootskaalse werkloosheid, moes selfs berading kry.

Dit het uiteraard ook tot hernieude rassepolarisasie gelei.

Die regering het, behalwe vir ’n flou veroordeling deur een of twee ministers, ook maar van langs die kantlyn toegekyk.

EFF-lede betoog voor Clicks se winkel in Sandton City. Foto: Dennis Delport

Enkele EFF-lede is wel in hegtenis geneem, maar die kanse is straks goed dat hulle weer skotvry daarvan sal afkom.

Die rassistiese advertensie was uiteraard verkeerd, maar rassisme moet met die bestaande grondwetlike strukture, meganismes en hofprosedures beveg word.

Oomblikke van wrywing in die samelewing kan eenvoudig nie boewery en intimidasie regverdig nie.

Die EFF weet dat hy maksimum blootstelling in die media sal kry.

Die optrede van die EFF het soveel verkeerde boodskappe uitgestuur, veral in ’n kritieke tyd wanneer die land se ekonomie probeer kop optel. Watter buitelandse beleggers sal in die land belê as ’n politieke party opportunisties en na willekeur besighede skade kan berokken?

Die vraag is natuurlik waarom die EFF en sy leierskorps hul so geredelik en naatloos wend tot wat dikwels as boewery bestempel kan word.

• Die EFF blaas die geringste voorval buite verhouding op omdat die leierskorps weet dat hulle soos in die verlede met sulke optrede gaan wegkom en dat daar min direkte gevolge vir hul dade sal wees.

• Die EFF weet dat hy maksimum blootstelling in die media sal kry. Die betogings by winkels van Clicks was vir amper ’n week hoofnuus op televisie en in die koerante. Hier is dit ontstellend dat die EFF niks positief reggekry of ’n probleem opgelos het nie; hy het wel gewys dat hy nie sal skroom om die land roekeloos vir eie gewin die afgrond in te sleep nie.

Radikalisme en ’n liberale demokrasie

Lede van die Sturmabteilung van die Nazi’s plak ’n kennisgewing op die venster van ’n winkel vas wat Duitsers vra om Joodse ondernemings te boikot. Foto: Getty Images

’n Liberale demokrasie bied talle vryhede aan sy burgers: hulle het politieke vryhede en mag betoog, hulle het vryheid van spraak en ander basiese regte.

Dit bied egter ook ruimte vir radikale partye om sulke regte te vertrap en dit, soos die EFF, uit te buit vir publisiteit en politieke gewin.

Radikale partye gedy gewoonlik in ’n demokratiese stelsel met sy versoenende en liberale ruimtes. Die demokrasie gee aan sulke partye die ruimte en vryheid om te groei en ook die demokrasie te ondergrawe – net soos ’n indringerplant wat tot binne ’n boom groei, maar dit geleidelik verswelg.

Die pad vorentoe

Die EFF se uiterste sienings oor veral ras en aanhitsing tot geweld wat ongestraf bly, versterk net rassehaat en verdeling tussen rassegroepe in die land.

Die tyd het aangebreek dat die regering sy fluweelhandskoene uittrek en die politieke boelie op sy plek sit.

Die grootste verloorder sal die land wees.

Dit is egter jammer dat Clicks, nadat hy tot in die grond in geboelie is, toegegee het aan druk van die EFF en ná “onderhandelinge” geskenke uitgedeel het.

Dit help alles met die skepping van ’n verkeerde klimaat waarin die EFF gaan gedy en verder gaan groei.

Die grootste verloorder sal die land wees – ons kan nie langer ’n party verduur wat die rede vir sy bestaan grond op dit wat ons as land verdeel nie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Clicks  |  Sturmabteilung  |  Eff  |  Nazi's  |  Julius Malema  |  Suid-Afrika  |  Duitsland  |  Rassisme  |  Vandalisme  |  Sosiale Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.