Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
EFF se beloftes voorspel gevaar
Amanda Gouws

Ek was aangenaam verras toe ek begin lees het aan die EFF se verkiesingsmanifes.

Dit begin met sake soos kennisverkryging en -verdieping, kennisskepping, kennisoordrag en die ontwikkeling van ’n kultuur van innovasie. Navorsing en ontwikkeling moet teen 2024 2,5% van die bruto nasionale produk toegedeel word. Dis mos iets waarmee enige akademikus kan saamleef.

Ek was nog meer verbaas oor die “vroue-vriendelikheid” van die manifes. In die opgradering van rekenaar- en wetenskaplaboratoriums, byvoorbeeld, gaan 5 000 werksgeleenthede geskep word – 2 500 daarvan vir vroue.

In landbounavorsing en diereteling word 7 000 werksgeleenthede voorsien (3 600 vir vroue en die jeug), 4 000 werksgeleenthede in die gesondheidsorgsektor (2 500 vir vroue en die jeug), 4 000 werksgeleenthede in die skep van ’n digitale liasseerstelsel vir alle gesondheidsrekords (2 500 vir vroue en die jeug), en 2 000 werksgeleenthede in die farmaseutiese bedryf (1 000 vir vroue en die jeug). Jy kry die prentjie.

Ek het nóg 18 sektore getel, waarvan die helfte van die werksgeleenthede aan vroue sal gaan.

Die EFF sal ook die salarisse van alle vroue-sportspanne met 200% verhoog, en 50% van alle beelde om helde te vereer, moet van vroue wees.

Die EFF sal ook die salarisse van alle vroue-sportspanne met 200% verhoog, en 50% van alle beelde om helde te vereer, moet van vroue wees. Verder sal die EFF ’n fonds stig om swart skrywers te bemagtig, spesifiek vroue, en 50% van die staatsdiens se advertensies sal hanteer word deur maatskappye in swart besit, spesifiek swart vroue.

Die party beloof ook om openbare hospitale te verbeter sodat daar in elke streek ’n hospitaal met minstens 450 beddens is wat grootliks vroue bedien rondom kraam, ginekologie en pediatrie. En so gaan dit aan.

In dié stadium het ek al my entoesiasme vir die EFF se fokus op vroue verloor. Die manifes en sy beloftes lyk of dit geskryf is deur mense wat geen begrip van ekonomiese realiteite het nie, nog minder wat verstaan dat verkiesingsbeloftes geanker moet wees in ’n politieke realiteit wat dit moontlik maak om die beloftes na te kom.

Die waansin van die EFF kan ook uit ander beloftes gesien word: die bou van ’n gemeenskapsbiblioteek in elke kiesafdeling teen 2023; die bou van opnamestudios vir alle kunstenaars in elke munisipaliteit; die EFF-regering sal 5 000 sagteware-ingenieurs teen 2022 in diens neem; internettoegang vir almal teen 2024; alle openbare spoorvervoer sal teen 2021 opgeknap wees; die bou van stormwaterdreinering in elke straat teen 2022; die bou van buitemuurse mini-teaters in elke kiesafdeling teen 2022; en die bou van twee grasvelde en ’n swembad by elke skool teen 2023.

In dié stadium het ek al my entoesiasme vir die EFF se fokus op vroue verloor.

Die EFF sal boonop Zimbabwe teen imperialistiese bedreigings beskerm en Swaziland in ’n demokrasie omskep!

Nadat pres. Cyril Ramaphosa sy staatsrede gelewer het – ’n staatsrede wat ons hoop gee dat iets aan korrupsie gedoen gaan word en groter ekonomiese bestendigheid dalk moontlik gaan wees – was Julius Malema se reaksie dat Ramaphosa die EFF se verkiesingsmanifes gesteel het.

Dit sou lagwekkend gewees het as dit nie so gevaarlik was nie. Die EFF weet die beloftes in sy manifes kan nie nagekom word nie. Maar as ’n populistiese party wat aangehang word deur grootliks kiesers wat dalk laer vlakke van opvoeding het, kan dit geglo word en kan dit stemme trek.

En al kry die party nie veel meer steun as in die vorige verkiesing nie, blaas dit die vuur van onvergenoegdheid aan sodat wanneer die EFF nie die verkiesing wen nie, dit wel sosiale opstand kan aanwakker omdat geen ander party dié beloftes kan nakom nie. Dit is hoogs onverantwoordelik.

Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Eff  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.