Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Willie Spies: EFF se magspel is uitstekend
Willie Spies

Daar is ’n vreemde dubbelslagtigheid by die EFF. Dit het weer geblyk uit die wyse waarop die party hom geskaar het by die vorige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, maar nou ook by die omstrede huidige OB, adv. Busisiwe Mkhwebane.

Die EFF het in die laaste maande van Madonsela se ampstermyn daarin geslaag om hom voor te hou as ’n pleitbesorger vir die onafhanklikheid van die grondwetlike instellings, waaronder die kantoor van die OB.

Daar was sedert die aanstelling van Mkhwebane in 2016 min openbare twyfel dat sy ’n pion van oudpres. Jacob Zuma is. Haar loopbaan het nie getuig van onafhanklike regspraktyk met wye ondervinding nie. Al haar aanstellings was in staatsinstellings: eers as staatsaanklaer, daarna as navorser by die Menseregtekommissie en ondersoeker by die destydse OB, adv. Lawrence Mushwana, en uiteindelik in verskeie staatsdepartemente en ook die Suid-Afrikaanse ambassade in China.

Maar haar aanstelling bo-oor die kop van veel beter gekwalifiseerde kandidate – wat drie regters, die dienende adjunk-OB en ’n regsprofessor ingesluit het – het destyds die DA se wenkbroue laat lig, maar nie dié van die EFF nie.

Die werklike rede vir die EFF se optrede is eerder daarin te vinde dat die party die hefbome van mag in Suid-Afrika baie goed verstaan.

Die EFF het tot die verbasing van die meeste waarnemers haar aanstelling ondersteun, en verdedig dit sedertdien met selfs meer passie as wat die geval met haar voorganger was.

Hul eie weergawe sou seer sekerlik wees dat hulle bloot glo in die onafhanklikheid van die grondwetlike instellings en dit konsekwent verdedig. Maar dis nie ’n waarskynlike weergawe nie, want die EFF verdedig inderdaad nié die land se grondwetlike instellings, waarvan die regbank een van die hoekstene is, konsekwent nie.

Hiervan spreek die minagting en brutale rassisme waarmee die EFF pas gereageer het op die uitspraak van regter Sulet Potterill in die dringende aansoek van min. Pravin Gordhan teen die OB boekdele.

Die werklike rede vir die EFF se optrede is eerder daarin te vinde dat die party die hefbome van mag in Suid-Afrika baie goed verstaan en daardie hefbome baie doeltreffend gebruik om eiebelang, en veral eie materiële belang, te bevorder.

Dit was teen 2016 duidelik dat die Zuma-era einde se kant toe staan.

Dit was teen 2016 duidelik dat die Zuma-era einde se kant toe staan. Met die aanstelling van Mkhwebane in ’n posisie met ’n ampstermyn van sewe jaar was dit duidelik dat sy as pion van die Zuma-faksie die lewe vir Zuma se teenstanders moeilik sou maak. Zuma se teenstanders in die ANC is uiteraard ook die EFF se teenstanders, want dit is dié mense wat die onbenydenswaardige taak geërf het om die land te ontworstel aan die greep van staatskaping, wanbestuur, plundering en sistemiese korrupsie.

Die EFF het hom reeds bewys as ’n party wie se leiers inherent net so – of selfs meer – korrup is as die ANC, die party waaruit hy ontstaan het. Daarvan getuig die onthullings oor VBS Bank, Julius Malema se geskiedenis met tenderkorrupsie, en die gunste wat Floyd Shivambu uit die einste Johann Rupert, wat so deur die party gehaat word, wou bewimpel.

Tans gaan die Tshwane-metroraad gebuk onder vernietigende arbeidsonrus. Werkers eis ook 18%-verhogings nadat dit rugbaar geword het dat die topbestuur van die hoofstad onder leiding van die nou afgedankte munisipale bestuurder, Moeketsi Mosola, verhogings van 18% kry. Mosola het blykbaar munisipale bestuurder geword in ruil vir die EFF se steun aan die DA twee jaar gelede.

Die party speel dus die magspel baie goed – vir eie misdadige voordeel.

Die dubbelslagtigheid in sy optrede moet so verstaan word.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Willie Spies  |  Thuli Madonsela  |  Eff  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.