Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
EFF se maklike seges bereik min

Met sy “vegters” wat H&M-winkels verniel het in reaksie op ’n advertensie van dié winkelgroep (waarin ’n swart seun ’n kappietop dra met die woorde “Coolest monkey in the jungle”), het die EFF daarin geslaag om die aandag op hom te vestig. Maar wat het hy werklik bereik?

Ja, dit het ons almal aan die praat gekry, maar dit gaan hier ook oor ’n mengelmoes ander kwessies, insluitende die aard van protes en ras in postapartheid-Suid-Afrika.

Judith February

Dis ironies dat die meeste werkers van hierdie winkels swart is en húlle die gemors moet skoonmaak. Hierdie onverskillige miskenning vertel ons iets oor die EFF se geveinsdheid.

Ons moet aanvaar die “aap”-verwysing is ’n onaanvaarbare rassistiese metafoor. Tog sal dit naïef wees om te glo overte of subtiele rassisme, die perpetuering van stereotipes of uitbuiting in die een of ander vorm kom nie in ander kettingwinkels ook voor nie.

Dit kan op etlike maniere manifesteer, en ons moet dit álles veroordeel om ’n ware gesprek oor ras en ongelykheid te ontlok. Dít behels nie net om ernstige vrae aan maatskappye en werkgewers te stel nie, maar ook om te verstaan dat hierdie emosionele kwessies is wat die kernwaarde van menswees, naamlik waardigheid, raak.

Ons moet ook moeiliker vrae vra, soos of die (meestal swart) werkers ’n billike loon verdien, oor hul werksure en -omstandighede, en of hulle teen arbitrêre afdanking beskerm word.

Ja, daar is arbeidswette, maar word aan die letter en veral die gees daarvan voldoen? Dit is lui om aan te neem dat slegs H&M ’n euwel van kapitalisme en globale ekonomiese magte is net omdat hy met ’n rassistiese advertensie vorendag gekom het.

Waar gaan die EFF se nihilistiese houding dus eindig? Dink die party dis haalbaar om elke winkel in elke sentrum te sluit?

Die EFF se neiging om debat te smoor of ’n politieke oomblik vir korttermynwins uit te buit, is niks nuuts nie. Dit het in 2008 begin met Julius Malema se nou reeds berugte uitlating: “Ons is bereid om die wapen op te neem en ter wille van (pres. Jacob) Zuma te moor!”

Klassieke populisme maak dikwels aanspraak op maklike seges in die aangesig van kompleksiteit en moedig of blaas geweld aan.

Malema self vertolk ’n dubbele rol. Die EFF het etlike hofsake oor Zuma se skending van die Grondwet geïni­sieer of ’n aandeel daaraan gehad.

Maar Malema se verdediging van die Grondwet is opportunisties. Sy standpunt oor grond en die slagspreuk “As jy ’n mooi stuk grond sien, vat dit”, is opruiend, en hy weet dit.

Dis debatteerbaar of die EFF sukses met sy Zuma-teenstand behaal het. Hy het ’n party met net een pyl in sy koker geword wat slagspreuke skreeu, maar mank gaan aan planne vir werklike regering in ’n land ná Zuma.

Gewelddadige ontwrigting of die aanmoediging daarvan het derhalwe ’n EFF-patroon geword. Met watter doel? Word rassisme met die verwoesting van H&M-winkels “opgelos”?

Die bestryding daarvan verg meer as leë retoriek – dit verg beleidsveranderings, belegging in onderwys en om die grondwetlike instrumente te gebruik. Gewelddadige protes soos hierdie is opportunisties en help nie.

Hierdie kwessie sal op die een of ander wyse opgelos word, maar ons het steeds geen ware vordering gemaak met die strukturele ongelykheid in ons ekonomie en die wyse waarop dit met ras saamval nie.

Die EFF sukkel om relevant te wees in ’n vinnig veranderende Suid-Afrikaanse politieke landskap.

Klassieke populisme maak dikwels aanspraak op maklike seges in die aangesig van kompleksiteit en moedig of blaas geweld aan.

Dít is presies wat die EFF met die sluiting van H&M-winkels doen.

Meer oor:  H&M  |  Judith February  |  Betoging  |  Rassisme  |  Eff  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.