Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
EFF se weergawe van demokrasie?

Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het haar duidelik by die politieke debat ingewurm en sowel pres. Cyril Ramaphosa as Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is in haar visier.

Dit was dus nie ’n verrassing toe die EFF Gordhan aangeval en druk op Ramaphosa uitoefen om hom te midde van Mkhwebane se bevindings af te dank nie. Ramaphosa sal ongetwyfeld dieselfde oproepe hoor ná Mkhwebane se bevindings teen hom Vrydag.

Judith February
Judith February.

Die EFF boks vir talle redes bo sy gewig, onder meer sy vermoë om die mag van vertoonpolitiek aan te gryp. Ná die verkiesing vroeër vanjaar het Julius Malema en sy rooi brigade wel meer setels in die parlement, maar hulle is nie die “koningmakers” waarop hulle voor die verkiesing gesinspeel het nie.

Dit het vir die EFF begin moeilik raak om homself te herskep as ’n konstruktiewe opposisieparty, en nes ’n kleuter val hy terug op ’n geskop en ’n geskree.

Dit was immers nog nooit vir die EFF regtig nodig om aan konstruktiewe politiek deel te neem nie. Gedurende die Zuma-jare was “Pay back the money!” ’n gerieflike en goedkoop slagspreuk, selfs terwyl sommige EFF-leiers glo self by die vermeende plundery by VBS Mutual Bank betrokke was.

Ons moet onsself dus afvra: Waarom die huigelary? Daar was al hoeveel berigte en bewerings oor Malema se bande met sigaretsmokkelaars en verdagte skenkings aan die EFF, en natuurlik bande met VBS.

Malema se Gucci-leefstyl en onverklaarde bronne van inkomste het al in 2010 die aandag getrek. En terwyl hy kerm oor die openbare skoolstelsel, sê hy dat hy sy seun na ’n private skool sal stuur, want die staat se skoolstelsel is “arm en wanfunksioneel”.

Wat veral ondenkbaar van die aanvalle op Gordhan is, is die rassistiese aard van sommige twiets waarin na sy etnisiteit verwys word. Dis onsmaaklik en het geen plek in ’n demokrasie nie.

Maar die werklike laagtepunt was die EFF se optrede tydens Gordhan se onlangse begrotingsrede in die parlement.

Intussen moet die parlement teen die EFF se boewery optree – só iets mag nooit weer gebeur nie.

Terwyl Gordhan gepraat het, het die EFF talle punte van orde geopper, ’n onvolwasse misbruik van die parlementêre proses. Uiteindelik het die voorsitter gevra of hulle Gordhan nie gaan “toelaat” om te praat nie.

Toelaat?! Dis die parlement en veronderstel om die hart van demokratiese oorleg te wees. En tog word ’n minister nie “toegelaat” om te praat nie?

Namate die geraasvlakke toegeneem het, het EFF-LP’s opgestaan en Gordhan omring. Dit was intimidasie en het die parlement onteer. Nóg ’n nuwe laagtepunt. Dit was ’n skandelike oomblik vir die EFF, en ongelukkig vir ons almal ook. Uiteindelik is die parlement se veiligheidspersoneel geroep en die boewery het geëindig. ’n Vroue-EFF-LP se harde kragwoorde aan Gordhan kon gehoor word.

Dít is die EFF se weergawe van demokrasie. Dis ’n skande, maar het ook ’n vreemde desperaatheid by die EFF gewys, want ’n mens gebruik net fisieke intimidasie as jy ’n redenasie nie logies kan wen nie.

Ná die tyd het Gordhan droogweg opgemerk dat dit die optrede is van mense wat staatskaping wil verdedig.

Hy is reg. Die EFF is nou stewig in daardie kamp en werk ongetwyfeld saam met die mense in die ANC wat van Ramaphosa, Gordhan en hul skoonmaakproses ontslae wil raak. Ons moet onsself daarop voorberei dat dié spektakel gaan voortduur terwyl die politiek tussen die openbare beskermer en Gordhan uitspeel. Baie is op die spel.

Intussen moet die parlement teen die EFF se boewery optree – só iets mag nooit weer gebeur nie. Die strengste moontlike sanksies moet so gou moontlik teen die betrokke EFF-LP’s ingestel word. Ons moenie geweld of dreigemente van geweld normaliseer nie.

Meer oor:  Eff  |  Judith February  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Dinsdag Aktueel  |  Menings  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.