Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Einde van lewe vra baie van ons
Laetus O.K. Lategan

Die einde van die lewe is ’n begrip en gesprek wat liewer vermy word.

Dit klink só finaal.

In die mediese literatuur word hierna verwys as die versorging van mense wat in hul laaste lewensfase is. Baie van hierdie mense is nie meer in staat om hulself te versorg of besluite oor hul lewe te neem nie. Dit geld nie net bejaardes nie.

Die einde van die lewe is nie sonder uitdagings nie. Die uitdagings hou verband met onder meer die gehalte en waarde van die lewe; surrogaat­­­besluitneming en bystand by die neem van ’n eie lewe. Die bekende gesprekke hieroor is rondom genadedood en einde-van-die-lewe-bystand.

Ten spyte van ou debatte oor die einde van die lewe, word elke mens opnuut gekonfronteer met wat die einde van die lewe vir hom of haar beteken. Dit is hier waar werklikheid en oortuiging teen mekaar vasloop.

Die kerk het ’n rol te speel in die einde-van-die-lewe-gesprekke.

Die werklikheid van die mediese diagnose bots dikwels met die diep gevestigde oortuigings oor die einde van die lewe wat as hoop verwoord word. Albei is belangrik in die behandeling van pasiënte.

Maar die diagnose kan nie verander word net om die hoop meer hoopvol te maak nie. Net so kan oortuigings nie afgemaak word asof dit nie vir ’n mens betekenis het nie. Die samespel tussen mediese diagnose en die verwagte hoop kan nie as onbe­langrik afgemaak word nie.

Die kerk het ’n rol te speel in die einde-van-die-lewe-gesprekke. Pasiënte worstel dikwels met die verband tussen sonde en siekte. Jesus is met hierdie vraag gekonfronteer (Joh. 9:2). Die oortuiging was dat Hy die einde van die lewe kan omdraai. Ná Lasarus se afsterwe sê Marta vir Jesus as Hy daar was, sou Lasarus nie gesterf het nie (Joh. 11:21).

Die vraag oor God se betrokkenheid of aandeel in siekte is bekend. Job vra die vraag (Job 23:3). Sy ontdekking is dat die lewe gebeur sonder ’n verkla­ring daarvoor. ’n Oorsaaklike verband tussen wat ons “lewe” noem en die ervaring van lewensgebeurtenisse bestaan eenvoudig nie.

Mense bly broos. Uit die mond van Job se vriend, Elifas, hoor ons van die mens wat in kleihuise woon en wat soos ’n mot pap gedruk kan word (Job 4:19). Elifas gaan verder en vergelyk die einde van die lewe met ’n ryp koringgerf wat op sy tyd na die dorsvloer gebring sal word (Job 5:26). Die onafwendbaarheid van die einde van die lewe.

Die vraag oor God se betrokkenheid of aandeel in siekte is bekend.

Die gesprekke rondom die einde van die lewe maak ons opnuut bewus dat oor lewe nie net in biologiese terme gepraat kan word nie.

Die Christelike etiek, gegrond op die Bybel en die kerklike belydenis, is oortuig dat lewe uit die hand van God kom. Daarom is lewe heilig en moet dit beskerm word. Hierdie heiligheid geld ontwikkelende én kwynende lewe.

Daarom kan ’n Christelike etiek aborsie en genadedood nie sommer goedpraat nie. Maar die oortuiging word voortdurend uitgedaag: Is aborsie ’n groter fout as oorbevolking en armoede? Moet lewe ten alle koste bewaar word? As ons reg op lewe het, het ons ook seker reg op dood? Bystand om ’n einde te bring aan jou lewe skuif al hoe hoër op die agenda.

Die einde van die lewe vra baie van ons. Dit begin met vrede wat met hierdie werklikheid gemaak moet word. Dit gaan verder om te sê dat al is lewe ook hóé kwynend, moet dit gerespekteer en versorg word. Lewe is nie ’n kledingstuk wat weggegooi kan word net omdat dit nie meer “goed genoeg” is nie.

Lewe moet geag word.

Die einde van die lewe vra steeds die gesindheid dat God jou lewe sal onder­soek en kyk of jy op die regte pad is (Ps. 139: 23-24).

Meer oor:  Godsdiens  |  Lewe  |  Geloof  |  Dood  |  Sielsgoed  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.