Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eindeksamen begin, maar is daar werk?

Eers ’n gelukwensing: Viyuonnefer von Willingh van die skilderagtige dorpie Kylemore is die eerste vroulike skoolhoof by Klapmuts Primêr. Ek is besonder trots op my oudleerling.

Uiteindelik is die matriekeksamen hier. Wat ses maande gelede onmoontlik gelyk het, is nou ’n werklikheid danksy die harde werk van onderwyslui. Op 4 Augustus het ek geskryf: “Die volgende paar weke gaan harde werk en opoffering vra van onderwysers. Maar ek twyfel nie dat hulle die pyp sal rook nie.” En hulle hét. Doemprofete wat die einde van die akademiese jaar voorspel het, het nie daarmee rekening gehou dat die meeste onderwysers hul taak steeds as ’n roeping beskou en met passie uitvoer nie.

Verskeie instansies en individue het gehelp: Sommige het maskers gemaak en ontsmettingsmiddels geskenk. Baie ouers en tannies het sommer net vir die leerlinge ’n pot kos gemaak. Talle oudonderwysers het gratis lesse aangebied. Ek sonder graag my eertydse wiskunde-onderwyser, Patrick Mettler, uit.

Dié afgetrede skoolhoof deel gereeld wenke oor wiskunde op sy Facebook-blad. Leerlinge kan gerus gaan loer hoe hy eksamenvraestelle uitwerk. Sy kennis en ervaring as wiskunde-eksaminator is goud werd. Hy en al die ander weldoeners verdien ’n klop op die skouer.

Maar dalk was die skolesluiting in Augustus een week te lank.

Aanstaande week sal 1 058 699 matrieks aantree vir die belangrikste eksamen van hul lewe: Die meeste tot nog toe in die geskiedenis van ons land. Lewensoriëntering en rekenaartegnologie is reeds afgehandel en op 5 November kom Engels aan die beurt. Leerlinge word aangemoedig om die Woza-matriekhulpdiens te gebruik.

Dié program help met studiemateriaal en -tegnieke en word op SABC3 (kanaal 122 op DStv), aanlyn platforms en radio uitgesaai. Wanneer matrieks op 15 Desember groet, sal dit met ’n mate van verligting wees. Hul deursettingsvermoë werp nou vrugte af.

Maar dalk was die skolesluiting in Augustus een week te lank. Baie leerlinge het nooit teruggekeer skool toe nie. Diegene wat nie matriek voltooi nie gaan moeilik werk kry, wat gaan bydra tot ons land se hoë jeugwerkloosheidsyfer. Die siklus van armoede duur voort.

Daarom maak die Youth@work-program van Partners for Possibility (PfP), vir my soveel sin. Die nieregeringsorganisasie help met die gepaste plasing van matrieks in ’n werk.

Dit word reeds met sukses in 343 skole landwyd aangebied en word eersdaags uitgebrei na Stellenbosch, Ceres en Franschhoek. Skoolhoofde word uitgenooi om PfP se inligtingsessie op 4 November by die Laerskool A.F. Louw in Stellenbosch by te woon deur met Jessica Batts in verbinding te tree by Jessica@Symphonia.net.

Maar vir nou is ons fokus op die komende matriekeksamen. Voorspoed aan alle matrikulante. Aan ons onderwysers: Geniet die kort blaaskans. Dis welverdiend.

  • Le Cordeur is ’n professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en voormalige skoolhoof van die Hoërskool Kylemore in Stellenbosch.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Skoolhoof  |  Onderrig  |  Koronavirus  |  Klasse  |  Eindeksamen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.