Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek dra ’n swaar geheim met my saam
Piet Matipa

Ek moet vir jou iets sê, maar jy moet belowe om vir niemand te vertel nie.

Nee, regtig – sê belowe.

Moenie jou hand wegsteek nie. Ek wil nie hê jy moet jou vingers kruis nie. Dit is in elk geval so laerskoolagtig om dit te doen.

Ek moet weet of ek jou kan vertrou.

’n Geheim versprei so vinnig soos ’n siekte wat orige mense beetkry wie se stokperdjie skuinslê is.

Jy dink jy sê vir een, daardie een sê ’n ander en as jy jou brillense uiteindelik skoonvee, sit jy met ’n pandemie.

Daarom moet jy vir my jou erewoord gee.

Die beste manier om ’n geheim te bewaar is seker om ’n gespierde wag, wat geen nonsens vat, voor jou mond te sit, maar waar kry jy sulkes?

Om met ’n geheim rond te loop is soos om ’n vol blaas te hê.

Jy glimlag en maak asof niks verkeerd is nie, maar jy is baie bewus van die kraan wat lek.

Ek het probeer om my geheim weg te dink. Die brein is egter nie soos die oë nie.

Die oë is eenvoudiger: As jy nie iets sien nie, dan ontwrig dit nie jou wese nie.

Ek smul lekker aan die kos van verskeie kitsrestaurante, omdat ek nie sien hoe hulle dit berei nie.

Wat die oog nie sien nie, maak die maag nie naar nie – proe die ironie.

Die brein werk anders, wanneer jy besluit om nie oor iets te dink nie, dink jy daaroor.

Die verstand adverteer die nare gedagtes soos daai lastige advertensies wat so nou en dan opduik terwyl jy besig is om mense in stilte op sosiale media te teister.

Ek het nou kookpunt bereik soos die verdomde melk wat elke keer in die mikrogolf oorkook.

My kraan lek al lank en my armspiere het nog nooit op gedaag om die kraan toe te draai nie.

Jaaaa, ek weet jy is nuuskierig oor my geheim en ek sal vir jou sê as ek seker is ek kan jou vertrou.

Mense met ’n sappige geheim in hul besit, kwyl om dit soos ’n aflosstokkie vir ander aan te gee.

Hoekom rol jy jou oë? Nou gaan ek niks vir jou sê nie. Ag, okei jy het my arm gedraai. Ek gaan jou sê.

Hier kom dit, kom nader. Wag dat hulle eers verbyloop, ek wil nie hê hulle moet ook hoor nie.

Daai een se ore lyk groot genoeg om tot hier te hoor. Die ander een langs hom se bek lyk losser as ’n tuinhekkie.

Mense is darem nuuskierig, as die woord “huh?” in geld omgeskakel kon word, sou Suid-Afrika ’n eerstewêreldland wees.

Almal se ore is soos ’n DStv-skottel en daarna word almal se monde liefdadigheidsorganisasies. Dit gee, gee, gee net inligting.

Okei, hulle is weg nou kan ek vir jou sê.

Ek het gisteraand iets viesliks gedoen. Ek het op Nicholis Louw en Shine4 se “Net die een vir my” gedans en ek het dit baie geniet, maar sjuut . . .

Meer oor:  Piet Matipa  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.