Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek en ’n ou, ou liedjie, van lewer, swel en vee
Prof. Gerhard van Huyssteen

As Gerhard Steyn sy “Baby ­tjoklits” uitgeblêr het, het ons altyd lekker saam gesing-skree: “Baby, ek like jou soos sinus / My hart klop tjoklits as jy naby is / Baby / Baby tjok­lits.”

Vreemd dat jy van iemand hou “soos sinus”, dag ek altyd, maar dalk is dit maar een van daai rare goed van Afrikaanse lirieke.

As hy in dieselfde liedjie “Jy weet ek doen, jy weet ek doen” kan sing, dan kan ’n mens seker maar iemand “like soos ­sinus” ook.

Eers veel later moes ek leer dat hy eintlik sing: “Baby, ek like jou soos jy is . . . ”

Dié verskynsel – waar jy woorde in liedjies verkeerd interpreteer as gevolg van homofonie – staan bekend as ’n mondegreen.

Dié term is in 1954 deur ­Sylvia Wright geskep; sy het as meisietjie altyd “They hae slain the Earl o’ Moray / And Lady Mondegreen” gesing, terwyl dit eintlik “They hae slain the Earl o’ Moray / And laid him on the green” moet wees.

As hy in dieselfde liedjie ’Jy weet ek doen, jy weet ek doen’ kan sing, dan kan ’n mens seker maar iemand ‘like soos ­sinus’ ook.

Wat sal ons ’n mondegreen in Afrikaans noem?

Ons soek ’n lekker gepaste Afrikaanse term. Gaan skryf in by varsgebek.org en hê ’n kans om groot pryse te wen.

’n Klomp mense deel op Facebook hul ervarings met my:

  • Verreweg die algemeenste ene wat tot verwarring gelei het, is die ou psalm “Op berge en in dale”.

Die nuusleser Daniëlla van Heerden het “Oom Bernard dra sandale” gesing (met ander mense se variasies “Oom Bertus se sandale”), terwyl menig ’n kind ook “Op berge met sandale” gesing het.

  • Die musiekensiklopedie Daantjie Badenhorst het “Loof Hom met die tromme, loof Hom met die hark, loof Hom met die stukkende sandale” ­gesing.
  • Frikkie Lombard van WAT-faam se oorlede vriend Randall Wicomb het vertel van ’n mannetjie wat hom op die lughawe gesien het, sy ma aan haar rokspant gegryp het en geseg het: “Kyk, daar is die ou wat sing van die hoer op die kaai!” Die lirieke was “daar is ’n roering op die kaai”.
  • Die skrywer en joernalis ­Ilza Roggeband het lank gedink Abel Kraamsaal sing “sonde in die biesies” in die liedjie “Kaalgat in die reën”, maar dit is “sonder inhibisies”.
  • Dit laat ’n mens ook dink aan die meem van Kobus Galloway (Idees vol vrees) oor waarom Francois van Coke en Karen Zoid die bakkie gerol het. Want “geen suspensie, geen beheer”.
  • Die reisende joernalis ­Gilda Swanepoel se oorlede, baie kamp vriend het op skool altyd gesing: “En hoor jy die magtige dreuning, oor die veld kom ’n bruid gesweef.”
  • Haar reisende kollega ­Fanie van der Merwe het op troues altyd gesing: “Lank sal hul ­lewe, lank sal hul lewe, lank sal hul lewe in Pretoria, in Pretooooo-rieee-jaaaa, in Pre-tooooo-rieee-jaaaa”!
  • Ook Anna Davel het as kind by troues die kat aan die stert beetgehad met “Kinders by rosyneeeee”. Ek wonder hoeveel mense het al van ­Anna se lirieke op dieselfde manier verfomfaai . . .

Ek dink my gunsteling is die TV-aanbieder en sielkundige Elmarie (ook bekend as Amalanka Chardonnay), wat as meisietjie Nick Taylor se “Liefde is ’n stille rivierstroom” soos volg geïnterpreteer het: “Liefde, liefde gestêlêlê weesknoof, hat nooit eindela, liefde gestêlêlêlê!”

Sy sing dit steeds graag so . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.