Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek gaan die bliksems watch

Hy het gewik en geweeg of hy verlede Woensdag moes gaan stem, skryf Danny Titus, maar hy het uiteindelik tog twee kruises gaan trek.

Danny Titus

Die sesde Suid-Afrikaanse demokratiese verkiesing het gekom en gegaan. Politieke partye en hul leiers het ewe skielik die verkiesingspette opgesit: Hul kiesers was weer belangrik, saam met die beloftes wat sonder ophou gemaak is. Ons almal moet ons verstand gebruik wanneer ons na die lang lys van partye kyk, sê oud-president Thabo Mbeki. Ons moet vra: Wat verteenwoordig die partye?

Wat verteenwoordig hulle wat die toekoms van die land betref? Gee hulle enige hoop?

Net hier val die hele lot vir my plat.

Die land het 'n party nodig wat sy beloftes sal nakom na die verkiesing, gaan Mbeki voort. Hy verwys na armoede in Suid-Afrika. Wanneer jy arm mense besoek en ware armoede ervaar, wil jy huil, sê hy.

Dan besef jy die verpligtinge wat ons vir die partye wat ons verkies oplê. Dit weeg swaar.

Die argumente teen Mbeki se stellings is egter sterk. Sy party – wat tans die regerende party is – het die land se koffers besteel, ons ekonomie uitgekalwe en ons staatsondernemings heel opgevreet. Dit was juis my bitter dilemma met die verkiesing. Die valsgeit, die skynheiligeit. Hoe kon Mbeki so ’n vroom gesig opsit terwyl ons land so ver agteruit gegaan het en die skelms steeds hul tande slyp om pres. Cyril Ramaphosa te ondergrawe? En dit ook nog deur faksie(s) binne die ANC?

Ek moet vir Ramaphosa stem, maar nie vir sy party nie, maar om die twee van mekaar te skei, is nie vir my moontlik nie.

My dilemma byt dieper: Ek wil die ANC afstraf, soos Nederlanders sal sê. Hulle moet voel dat my demokratiese stemreg die mag het om hul onbevoegdheid, arrogansie en korrupsie af te straf.

Maar ek kan dit nie doen nie, want ek wil bitter graag vir Ramaphosa ’n sterk meerderheid gee om hom te beskerm teen dié wat hom wil ondergrawe. Dié wat hom wil herroep, soos hulle met Mbeki gedoen het.

Ek moet vir hom gaan stem, maar nie vir sy party nie, maar om die twee van mekaar te skei, is nie vir my moontlik nie. Ek wou nie eens gaan stem het nie. 10 miljoen Suid-Afrikaners, hoofsaaklik jongmense, het nie eens geregistreer om te stem nie. Die politici se gekwaak staan hulle gewoon nie aan nie.

My laatlammer is negentien jaar oud. Sy is ’n tweedejaarstudent in politieke studies. Vanjaar was haar eerste nasionale verkiesing. Sy stem, sê sy, omdat ek en haar oorlede ma so hard vir die reg baklei het.

Woensdag sluit ek en sy aan by die stemry. Die tou is langerig, maar strek nie te ver nie. ’n Oudkollega van Unisa kom groet. ’n Vryheidsfront Plus-vriend, met sy VF-hempie, knoop ’n geselsie aan. Hy is opgewonde oor die opkoms van die kleiner partye.

Wanneer ’n NP-president hoop vir die ANC sien tydens ’n verkiesing, getuig dit hoe ver ons al gekom het.

Die ry loop stadig, die reënwolke dreig en ek het aangetrek vir warmer weer. Woensdagaand praat oudpres. FW de Klerk op die televisie en meen alles is nie so duister vir Suid-Afrika nie. Daar is lig in die tonnel. As die ANC wen en Ramaphosa kom sy beloftes na, sal dit weer goed gaan in Suid-Afrika. Wanneer ’n NP-president hoop vir die ANC sien tydens ’n verkiesing, getuig dit hoe ver ons al gekom het.

Dis amper soos my vrou wat my in Nederland gevra het oor die weerman se voorspelling.

“Hy’t gesê môre styg die temperatuur na nul.”

Ek kom voor in die ry, die masjientjie skandeer my ID-boekie en ons ontvang ons stembriewe.

Van my provinsiale stem was ek seker. Ek vou die nasionale stembrief oop en trek my kruisie. Ons stap uit. Die verligting spoel oor my.

Die bliksems! Hierdie keer gaan ek julle watch.

* Dr. Titus is direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Danny Titus  |  Demokrasie  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.