
Johan van Wyk
Niemand in hierdie verbygaande wêreld is onmisbaar nie. Maar ek sal sukkel om gewoond te raak aan Sterre en planete op RSG sonder dr. Japie van Zyl, pas op ’n jeugdige 63 heengegaan in Amerika waar hy onder meer aan Nasa se Jet Propulsion Laboratory as ruimte-ingenieur verbonde was en internasio-nale erkenning verwerf het.
Soos baie mense het ek Sondagaande die tele-foon van die mik gehaal om ongesteurd te kon luister hoe hierdie briljante, nederige, gebore Suidwester die groot, verborge geheimenisse van die ruimte en die mens se oerstrewe om dit te oorwin met sy tipiese Suidwes-aksent verklaar.
Dat hy dit nie in Engels gedoen het nie, moes vir die nou slegs Stellenbosch University, waar hy in Afrikaans studeer het, sy rektor en dié se meelopers, wat hulle so onvermoeid beywer om Stellenbosch te verengels, effens pynlik gewees het.
Laat dit vir hulle ’n les wees dat die wêreld, ten spyte van jou opleiding in Afrikaans, maar ten koste van Suid-Afrika, vir jou ooplê danksy die hoë stan-daard waarvoor voorheen Afrikaanse universiteite bekend was. Dit vul my tegelyk met trots en woede.
Baie mense in Namibië en Suid-Afrika sal Dirk Mudge polities gesproke as ’n kolos wou onthou. Ander as een met voete van klei.
Trots vir wat Japie van Zyl as Afrikaner in die buiteland bereik het, woede omdat my enigste seun in Hongkong vlieg omdat die ANC onbevoegde, korrupte mense toegelaat het om die SAL tot in die grond te bestuur en te besteel, en om alles te kroon, nou die bankrot, gestroopte geraamte met geleende miljarde uit die dood wil laat herrys. Vir sulke sotterny kan ’n mens maar net jou kop skud.
In ’n week van gevelde seders het nog ’n Suid-wester in murg en been, die veteraanpolitikus Dirk Mudge, ons toe ook verlaat, op ’n geseënde 92, toevallig saam met Japie van Zyl. Sy heengaan het my herinner aan hoe ’n destydse Vrystaatse politikus, Humphrey Simes, deur ’n bewonderende kollega as die “kolos van Seinheu-wel” (sy kiesafdeling) in die provinsiale raad besing is, bedoelende sy diensvaardigheid. Postuurgewys was hy alles behalwe ’n kolos.
Baie mense in Namibië en Suid-Afrika sal Dirk Mudge polities gesproke as ’n kolos wou onthou. Ander as een met voete van klei.
Ek sal hom onthou as ’n aantreklike, sjarmante, welsprekende, goedgemanierde, well dressed man met wie politieke minderes graag skouers geskuur en aan wie se lippe mooi, jong vroue soos bye om ’n blom op onthale gehang het toe Windhoek in die aanloop tot onafhanklikheid in die vroeë 1980’s ’n toksiese broeines van agterdog, onmin, broedertwis en politieke verraad was.
Ek sal ook nie vergeet hoe hy tydens die vrugtelose beraad met Swapo in 1981 in Genève met ’n bottel Bell’s-whisky aan my kamerdeur in die deftige Hotel President geklop het nie. Toe hy ná ’n paar rondtes loop, het hy met ’n vonkel in sy oog gesê: “Jy skryf nogal oulik, jammer jy is aan die verkeerde kant.”
Wat anders kan ek sê as: “Give that man a Bell’s!”