Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek groet Zuma met swaar hart

Terwyl Suid-Afrikaners nie gou genoeg kon afskeid neem van die ramp genaamd Jacob Zuma nie, is die spotprenttekenaars van die land minder opgewonde.

Die bedanking van die oudpresident verlede week laat menige spotprenttekenaar skielik met erge onttrekkingsimptome.

Om skielik voor ’n tekenbord te gaan sit sonder die betroubaarste onderwerp van die afgelope dekade, gaan nie maklik wees nie. Om die waarheid te sê, in die spotprent-heelal sal die gelyke van Zuma nie sommer weer gesien word nie.

Die opkoms van JZ die spotprent­legende was om die minste te sê meteories.

Nog voordat ons die inkpenne behoorlik gedoop het, was daar al seksskandale, poligamie en kinders by dosyne. En die alomteenwoordige stortkop, oop gulp en fopspeen het gevolg.

Dit was egter net die begin, want daarna het satiriese juwele gekom soos die middelvinger-bril-druk, die verspotte laggie, die Zuma-dans (soms ook die dans en val) en natuurlik die groot-getal-tongknoop.

Zuma se algemene voorkoms en gesig het hom ’n baie gewilde onderwerp vir kunstenaars gemaak om te teken: die oë, spasie tussen die tande en die nou bekende vorm van sy kop . . .

Hy was van die begin af maklik om as karikatuur vas te vang. Unieke gelaatstrekke soos syne skep oneindige moontlikhede vir die tekenaar. Daarom het sy fisieke trekke met verloop van tyd ook hul eie lewe in spotprente gekry.

So kan die Zuma-kop op sy eie dien as die trefreël in ’n spotprent. Daar is nie baie spotprentkarakters wat daarop kan aanspraak maak nie. Net om dié rede verdien die Zuma-karakter al ’n ereplek.

Ek voel kwesbaar as ek daaraan dink dat ek voortaan op saai nuusdae sal moet klaarkom sonder die Zuma-reddingsboei. Die hoop beskaam darem nie dat hy weer sal kan uithelp as sy dag in die howe aanbreek.

Tot dan sal die spotprentbedryf tevrede moet wees met pres. Cyril Rama­phosa of “Die Buffel”.

Al is dit vroeg, lyk die buffel-metafoor belowend. Dit is klaar duidelik dat die president se karikatuur ook gaan ontwikkel soos dié van sy voorganger. Ramaphosa die boer of gesofistikeerde sakeman kan byvoorbeeld ontgin word.

Die “nuwe begin” met Ramaphosa aan die stuur slaan ’n belowende rigting in en die land voel goed.

Maar in die spotprentwêreld lyk dinge anders . . .

Daar, meneer die president, het u baie groot (skerppunt)skoene om vol te staan . . . he-he-he!

Meer oor:  Spotprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.