Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek is een van dié Afrikaners
Zaza Fichardt Pieterse

Toe gebeur daar twee dinge wat ’n mens uit die depressiegolwe in ons land oplig. Te heng met die bitter smaak van die name Jacob Zuma of Ace Magashule in die mond.

Vir die eerste keer sê jy: “Ek is een van die Afrikaners.”

Vir die eerste keer weet jy niks sal Afrikaans onderkry nie.

Trekboere, pioniers, gekolonialiseerdes, vryburgers, dwarstrekkers en vredemakers word hulle genoem in Hermann Giliomee se puik TV-program Die Afrikaners.

Dit is hulle storie: nie om vry te spreek of te veroordeel nie, maar om te probeer verstaan. En sowaar, net daar skop jou moedeloosmoeg hart aan die gang: “Ek is een van die Afrikaners.”

Anders as van jou maters het jy nie als gesluk nie.

Nié oor ’n Voortrekkerrokkie by ’n monument of omdat ’n hoge, selfvoldane omie kom sê het jy en jou wit volk is volgens die sinode van Dordt uitverkore nie. Ja, baie hoge omies het jou lewenspad as Afrikanerdogter in die kerk, politiek en samelewing gekruis. Anders as van jou maters het jy nie als gesluk nie.

Jy het nie respek gehad vir die kerkman wat die vrouedominee weggewerk het omdat sy swart en bruin Christene in die kerk wou verwelkom nie. So ’n ou noem jy ’n skynheilige; ’n bliksem. En jou “ware Afrikaner-vriende” kies sy kant!

Nog so ’n ou hok jou Engelse koshuisvriendin vir ’n maand omdat sy op ’n Sondag brei. En “vriende” wil nie jou ete-uitnodiging aanvaar nie, want Patrick Lekota of Bantu Holomisa gaan ook daar wees.

Totsiens Afrikaner, totsiens Afrikaans.

En al hierdie mense sê: “Ek is ’n Afrikaner.”

Totsiens Afrikaner, totsiens Afrikaans.

Maar dan kom Giliomee met die regte Afrikaner: ’n gewone mens in unieke omstandighede in ’n unieke land.

En ’n swart vrou, Thuli Madonsela, maak jou op Facebook verder Afrikaner: The reason the Afrikaner nation was able to build themselves into a nation was to forget­ the past and to find ways to empower themselves.

Oor hul onderdrukking en verhongering in die kampe skryf sy: . . . but they rose because they moved­ beyond the hatred of their own enemies. Instead of toi toing they built their own schools, taught and trained their kids to work hard and farm the land, and . . . real values of respect.

Dít, saam met Giliomee se Die Afrikaners, is die mooiste wat jy in ’n Afrikanerdogter-lewe vol toesprake van hoge omies beleef het. Want so gaan die pêrel van Afrikaans, met sy roerende leesgoed van ouds en nou, ook herleef, bevry van die stigmas van hoge omies en Steve Hofmeyrs.

ZAZA PIETERSE is ’n oud-onderwyseres in Engels en Latyn en tans vryskutskrywer.

Meer oor:  Menings  |  Taal  |  Afrikaans  |  Afrikaner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.