Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Ek is lief vir my taal, maar liewer vir my land’

Sy voel, droom en vry in Afrikaans. Maar dis nie meer ’n universiteit se plig om asem in ’n taal te blaas nie, skryf Carryn-Ann Nel.

Carryn-Ann Nel

Afrikaans is die taal van my hart. Dis die taal waarin ek leef, lees, lag en soms vloek as dit moet.

Dis die taal waarin ek my polismense bel om vir my woord vir woord te verduidelik wat “dividende” beteken; dis die taal waarin ek Deon Meyer se boeke verslind; dis die taal waarin ek my Facebook-vriende vertel wat vandag gebeur het.

Ek het vroeg reeds geweet dat ek ’n joernalis wou wees – en in Afrikaans. Hierdie taal waarin my ouers besluit het om my en my suster groot te maak – terwyl daar ander familielede was wat Engels gekies het – het later nie net ’n voertuig vir kommunikasie geword nie. Dit was die taal waarin ek myself uitgeleef en waarin ek my wêreld verwoord het. Ek bid, droom en vry in Afrikaans.

Indien ek ooit soos in ’n sepie iewers in ’n hospitaalbed moet wakker skrik en aan geheueverlies moet ly en iemand vra my wat ek van myself onthou, sal dit wees dat ek Afrikaans is.

Waarom is ek dan so bly, selfs verheug, oor die uitspraak van die konstitusionele hof, wat beslis het dat Engels die onderrigtaal by die Universiteit van die Vrystaat moet wees, al lui dit basies die doodsklok vir Afrikaans se hoër funksies?

Omdat ek nie glo dat my taal mense moet skei nie. En dit gebeur. Ongelukkig gebeur dit. En ons kan dit nie weg smeek nie. Wat ons wel kan doen, is om aan te hou om die taal aan die lewe te hou.

Ons geskiedenis leer ons dat magshebbers mense in Afrikaans onderdruk het, hulle kwaad gemaak het en Afrikaans op hulle afgedwing het terwyl hul eie moedertale nie dieselfde voorkeur geniet het nie.

My taal is te kosbaar om te laat gaan, maar Afrikaans kan nie meer 'n rede wees hoekom mense kwaad raak vir mekaar nie.

Vir daardie rede laat Afrikaans 30, 40 jaar later steeds 'n slegte smaak in baie mense se mond. Vir daardie rede verdeel Afrikaans steeds baie mense in ons land.

In my grootwordjare het dit my kwaadgemaak toe ek dit besef - dat politici hierdie onreg gedoen het mét my taal en áán my taal. My taal, met sy towerwoordeskat: poenankies, blatjang, grillerig, aitsa, rinkink, kafoefel, pantoffel, mapstieks.

My taal is te kosbaar om te laat gaan, maar Afrikaans kan nie meer 'n rede wees hoekom mense kwaad raak vir mekaar nie. En dit is waar ek en jy inkom. Ons, die taalsprekers, die wagte, die mense wat nog met ons kinders, kleinkinders, familie, peetkinders die taal praat, moet aanhou asem in die taal inblaas. Dis nie meer ’n universiteit se plig nie.

Ek en jy, wat die taal praat, skryf, sing, lees, bid, droom – óns moet dit doen.

Engels gaan altyd ’n taal wees waarin ons moet leer. Ek het in Engels gestudeer om vandag as ’n Afrikaanse joernalis te kan werk. En ek het heel oukei uitgedraai.

Ons politiek en ons geskiedenis het gemaak dat die gebruik en voortbestaan van Afrikaans alleen in ons hande is.

Ek is lief vir my taal, maar ek is liewer vir my land.

* Carryn-Ann Nel is 'n redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Carryn-Ann Nel  |  Afrikaans  |  Konstitusionele Hof  |  Uitspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.