SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Menings
‘Ek is sewe jaar oud, en ons is op pad see toe’

My ma wys na die twee tennisrakette op die stoel langs die yskas. “Maak jouself handig,” sê sy. “Vat daai vir jou pa lat hy dit inpak.”

Ek tel die rakette op, stoot die sifdeur oop, en draf oor die blinkgedoude grasperk na waar my pa gebukkend by ons Valiant se kattebak staan.

Ek is sewe jaar oud, en ons is op pad see toe. Suidkus toe.

Dana Snyman.

“En dit?” My pa beduie na die rakette.

“Ma sê dit moet saamgaan, Pa.”

“Waar dink jou ma moet ek dit sit?”

Om hom op die grond is ’n klomp goed wat nog ingepak moet word: Ma se hoedetas, ’n plastieksak vol Mills & Boon-boekies . . .

“Sê vir jou ma hier’s nie plek nie.”

Ek draf terug kombuis toe.

“En nou?” My ma wys na die rakette.

“Pa sê daar’s nie plek nie, Ma.”

“Nonsens! Sê vir jou pa daai goed gaan saam. Finish en klaar.” Op die stoof agter haar kook eiers in ’n pot borrelende water.

Om hom op die grond is ’n klomp goed wat nog ingepak moet word: Ma se hoedetas, ’n plastieksak vol Mills & Boon-boekies?.?.?.

Ek laat kraak die sifdeur weer oop. My pa se broek het afgesak, tot waar ’n mens die kloof tussen sy boude kan sien. “Ma sê die rakette moet in, Pa.”

“Lyk my dis weer een van daai dae,” sê my pa toe my ma uit die kombuis roep: “Daai rakette gaan saam, Engel!”

“Hier’s nie plek nie, Gogga!” roep my pa terug.

“Dan sal ek dit maar by my voete hou, my man.” My ma kom staan in die agterdeur.

“Die mandjie met die padkos kom by jou voete, my vrou. En die sak met jou haardroër en krullers in. Die rakette was laas jaar ook saam, en ons het nie een keer tennis gespeel nie.”

“Daai rakette gaan saam, my man. Dis al wat ek sê.”

My pa sien nie hoe Simon in sy blou oorpak om die hoek van die huis gestap kom nie, met ’n ou, leë oliekannetjie in die hand.

“Moet jy altyd jou sin kry, my vrou?” sê hy.

“Dokter het gesê jy moet oefening kry, my man.”

“Ek sal gaan stap.”

“Stap is nie genoeg nie.”

“Dan moet jy maar self kom pak, my vrou. Ek weet nie meer nie.”

“Goed, reg, dan los ons dit.” My ma kyk na my. “Bring daai rakette hier, Seun. As jou pa ’n hartaanval kry, is dit sy eie skuld.”

“Nee, Seun, gee hier.” My pa vat die rakette by my. Sy gesig is rooi. “Jou ma kry altyd haar sin.”

Hy vat die rakette en begin die goed in die kattebak rondskuif, dan kom staan Simon met die oliekannetjie by hom.

“Ag, Vader tog,” sê my pa toe hy Simon gewaar. “Wat’s dit tog nou weer, my skepsel?”

“Ek vra die water van die see, baas.”

Simon hou die kannetjie na my pa toe uit. By die kerk slaan die klok vier, vyf, ses keer.

Meer oor:  Dana Snyman  |  See
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.