Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek moet kies tussen Lorna en Phindi

Dis Vrydagaand en tyd om die dorp rooi te verf! Wilmarie Pekeur skryf oor ’n aandjie uit en die verwikkeldheid van brose verhoudings.

Foto: ISTOCK

Twee weke voor lockdown maak Presley’s – ’n gewilde uithangplek op die dorp – weer sy deure oop. Sakkie Lochner, die eienaar, het die plek gerevamp.

Lorna pleit by my die Vrydagaand om saam te gaan. Sy weet ek is ’n huishen. Maar ek besluit om te gaan vir insurance. Vir my neef, Cardo, om seker te maak hy bestuur veilig terug huis toe, onder die invloed. En vir Lorna, ons antie, om ’n ogie oor haar te hou. Vandat my oom haar gelos het vir sy jôler is sy op ’n missie om ware liefde te vind.

Tienuur stop Cardo met ons by Presley’s se parking. Die nagklub sit skuins agter Absa-bank. ’n Grys gebou in die hoek. “Kry julle toemaaktyd hier buite, nè,” sê Cardo. Lorna gee hom ’n honderdrandnoot. Petrolgeld. Cardo wys duime. Hy steek ’n sigaret aan en loop van ons af weg. Hy gaan staan by ’n groep ouens langs ’n Golf met oop deure.

“Brêkgat,” sê Lorna en skud haar uitgeblowde hare. Lorna is nie op haar mond geval nie – sy sê wat sy dink. Ons stap tot by die ingang.

By die deur staan twee bouncers, fris gebou. Hul swart kaalkoppe blink in die gebou se buiteligte. Sakkie staan by hulle. Hy’s so groot soos die uitsmyters. Sy wit maag peul uit soos brooddeeg onder sy Jeep-T-shirt. Dit lyk of hy die mense wat inkom, tel soos skape. Hy sê iets vir die twee wagte. Die trein mense wat wag, praat luidrugtig, angstig om in te gaan. Ek sukkel om vir Sakkie te hoor. “Vanaand . . . lus vir m**d,” maak ek uit. Die drie manne lag. Ek kyk vir Lorna, maar sy smile in die eienaar se rigting. Ek talm. Ek wil iets sê. Maar die klubgangers agter ons stoot ons na binne.

Phindi

’n Reënboog van strobe lights verwelkom my en Lorna aan die binnekant. By die bar koop sy vir haar ’n Black Label. Vir my ’n Coke. Sy verdwyn in die donker van die kuierplek. Ek gaan sit op ’n stoel en hou almal dop. Oral bondel mans en vroue saam en gesels. Bottels se doppies val kort-kort op die vloer soos dit oopgemaak word.

Ek gaan kyk by Cardo. Hy gooi op langs sy kar.

Ek staan in die ry vir die toilet. Een van die meisies kan nie hou nie. Sy pee voor die toiletdeur. Die nuwe teëls blink van urine. Almal trap vinnig agteruit. Ek steier agteroor. Die vrou agter my keer my net betyds van ’n val. Ons maak kennis, haar naam is Phindi. Ek en Phindi sit en wag by ’n tafel terwyl iemand die vloer mop.

Phindi vra die bar lady om vir my nog ’n Coke te bring. Vir haar ’n dubbel whisky met sodawater. Sy betaal. “Why do coloured people feel they’re better than us?” begin sy. “We’re in this together, Nana,” sê sy. Ek lag ongemaklik. Ek weet nie wat om te antwoord nie. Ek kyk rond, op soek na Lorna. “My dad died in the mine. His remains are still there. Too unsafe to go in,” gaan Phindi aan. Sy vat ’n groot sluk van haar drankie. Ek kyk vir haar. Sy lyk in ’n sad trans. Ons gesels nog. Oor boeke: Americanah– ons altwee se gunsteling. Oor Toni Morrison. Ons praat tot ons wêrelde een word.

Lorna

Lorna kom kyk waar ek is. Haar karamelwange al pienk. Ek stel haar voor aan my nuwe vriendin. Lorna kyk vlugtig in Phindi se rigting. Toe druk sy my meteens teen haar vas. Avon se As­pire-parfuum prikkel my neus. “Kyk na jou belongings,” fluister sy in my oor. Sy stop ’n vyftig­rand in my hand voor sy buitekant toe loop. Ek is skaam om Phindi in die oë te kyk.

Wilmarie Pekeur

“Jerusalema” dreun deur die gebou. Phindi trek my op. Sy leer my die song dans. Ons lag, want ek begin die steps met die verkeerde voet. Een van Cardo se vriende kom aangedans. Phindi vra hom om ’n video te maak van my en haar. Hy skud sy kop. Hy swaai my in die rondte, tot aan die anderkant van die dansvloer. Tot Phindi se gesig fade in die rook van die smoke machine.

Dis halfvier. Die musiek hou op. Die ligte gaan aan. In en om Presley’s staan mense soos verlepte plante. Lorna is missing. Ek gaan kyk by Cardo. Hy gooi op langs sy kar. “Ek wil ry,” sê hy. Ek hardloop terug om vir Lorna te soek. Een van die bouncers ruk ’n vrou hardhandig uit by die deur. Dis Phindi. “Party over, Sisi,” sê die man voor hy oorslaan na Xhosa. Phindi strompel na ’n Quantam-taxi wat hard rev. Ek wil haar help. Maar Cardo toet. Ek roep na Lorna. Sy en Sakkie kom uit om die hoek van die club. Phindi val voor die taxi. Lorna kom aangeslinger.

Ek moet kies tussen haar en Phindi se pyn.

“Hy’t gedink hy gaan score,” sê Lorna. Haar hare taai gemince. “Meantime het ek hom net uitgesuip.”

  • Pekeur is van Worcester en het die afgelope twee jaar die skryfskool by die Breytenbach-sentrum op Wellington onder leiding van Rachelle Greeff bygewoon.
Meer oor:  Wilmarie Pekeur  |  Lockdown  |  Presley’S
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.