Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek sal dié komitee mis, maar nie die pers pak

Ek moet bieg ek is ’n bietjie teleurgesteld dat die ad hoc-komitee wat die SAUK-raad ondersoek vandag effektief ophou bestaan wanneer hy sy verslag in die Nasionale Vergadering ter tafel lê.

Die getuienis het al die elemente van ’n mafia-riller met politieke intriges gehad, wat Hollywood-vervaardigers hul lippe sou laat aflek – ’n eksentrieke megalomaan in ’n pers pak, bedenklike saketransaksies, gróót geld, politieke inmenging en staatskaping. Maar dit – en die lekker kopie wat dit opgelewer het – is nie hoekom ek die komitee gaan mis nie. Wat ek gaan mis, is die gevoel dat die parlement vir eens doen wat rég is. In die meer as twee en ’n half jaar wat ek vanuit die parlement berig, is sy oorsigrol nog nie so ernstig opgeneem soos in dié komitee nie. Hy het in die vakansie gesit, en Donderdag om 14:00 tot Vrydag 03:15 vergader. Maar dit is nie net dié toewyding wat opgeval het nie. Waar het jy al gesien dat ’n ANC-LP aan ’n minister sê “ek plaas die blaam vir die mislukte regering van die SAUK vierkantig op jóú skouers”?

Dit het die onstuitbare dr. Ma­khosi Khoza aan Faith Muthambi, onbeholpe minister van kommunikasie, gesê. Dit was nie net Khoza wat haar oorsigrol met oorgawe gespeel het nie. Elke lid van die komitee het ’n uitstekende bydrae gelewer, en die meeste van die tyd was politiekery nie deel van die komitee se modus operandi nie.

Maar die werk begin eintlik nou eers.

Vincent Smith se voorsitterskap behoort ’n bloudruk vir ander komiteevoorsitters te wees. (Rosemary Capa van die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling en Lumka Yengeni van die portefeuljekomitee oor arbeid behoort die eerste twee te wees om by hom te leer.)

Maar die werk begin eintlik nou eers. Die ad hoc-komitee het die SAUK se siekte gediagnoseer, in sy verslag die medisyne voorgeskryf, maar iemand anders moet die medisyne toedien. Heelwat van die werk om die SAUK reg te ruk, gaan op die skouers van die tydelike raad, en daarna die nuwe raad, val. Daarom is dit noodsaaklik dat bekwame mense, vir wie politieke gedienstigheid ’n vloekwoord is, aangestel word. Dit behoort tog eintlik voor die hand liggend te wees, maar soos die komitee se ondersoek gedui het, het dit nie gebeur toe vorige rade aangestel was nie. Dus het die ad hoc-komitee aanbeveel dat die nuwe raad in ’n oop proses aangestel word.

Dis kommerwekkend dat die portefeuljekomitee oor kommunikasie voete sleep met die aanstel van die tydelike raad. Die komitee vergader weer vandag en dan tel hulle hopelik spoed op. Dit moet darem genoem word dat van die ANC-LP’s in die portefeuljekomitee, wat Mu­thambi op die hande gedra en gedienstig voor “mnr. Hlaudi” gekniel het, uit die komitee verwyder is.

  • Ek het telkens vergaderings van die portefeuljekomitee oor kommunikasie woedend verlaat, soveel so dat my kantoorhoof, Janet Heard, my aangesê het om eers ’n sigaret te gaan rook en te kalmeer voordat ek begin skryf. Hopelik gaan ek voortaan die komitee verlaat met dieselfde gevoel as waarmee ek die ad hoc-komitee groet: Dat daar darem so ’n bietjie hoop vir die parlement is en dat die SAUK reggeruk kan word sodat dié uitsaaier sy werk behoorlik kan doen. Gerber is ’n parlementêre verslaggewer.
Meer oor:  Jan Gerber  |  Uit Die Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.