Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek sál my Spur steun – as almal se vriend

Kom ons praat oor die onderwerp waaroor min gematigde mense wil of mag praat uit vrees dat hulle gedreig of doodgeskreeu word: Dit is die boikot teen Spur.

’n Groep regses het dit reggekry om gewone, goeie mense op loop te jaag teen Spur omdat dié groep kastig iets teen wit mense het. Dit is nadat Nico Viljoen vir Lebohang Mabuya gekonfronteer het by ’n tafel waar sy saam met ’n klompie kinders in die restaurant gesit het en ’n video oor die voorval wyd gesien is. Hyself het sedertdien soos mis voor die son verdwyn.

Hierdie boikot oor ’n man (toevallig wit) wat hom bitter sleg gedra het en deur Spur by al sy eetplekke belet is, het, volgens berig is, daartoe gelei dat minstens twee restaurante hul deure moes sluit en baie hul werk verloor het – en dit sluit baie wit mense in, ook Afrikaners.

Wat dink julle, die boikotters, dink hulle vandag? Hulle dink eenvoudig dat wit, bevoorregte Afrikaners my my werk kos omdat hulle ’n man wat hom soos ’n buffel gedra het se skorsing op swart mense wil wreek.

Dit gaan oor die arrogante, verhewe siening van witheid.

Die gevolg? Dit kweek rassehaat. Die aanstigters is besig om presies te word soos die studente wat universiteite afbrand en stakers wat skole, motors en geboue opblaas. Jy brand óók die land af – net met ’n veldbrand op sosiale media.

Ek veg al lank hier teen die bose plan om Afrikaans by universiteite te vernietig, teen plaasaanvalle en die plundery van ons land deur Jacob Zuma en al die kroeks in die regering. En ja, ook waar wit mense onregverdig ’n teiken word. Toe was die boikotters tjoepstil.

As jy Afrikaans wil red, sal jy boeke en CD’s koop en Afrikaanse skole ondersteun. Dit gaan dus hier nie oor ons taal nie. Dit gaan oor die arrogante, verhewe siening van witheid: Ek kán, ek sál, ek mág. Dis my geld.

Dirk Hermann van Solidariteit se stelling dat sy vakbond nie die Spur-boikot ondersteun nie, maar dat hy sy “lus om daar te eet verloor het”, is kommerwekkend. Dit gee brandstof vir die veldtog. Ek, as Solidariteit-lid, eis: Neem nou standpunt daarteen in, Solidariteit en AfriForum. Daar is baie gematigde Afrikaners wat geweldig aanstoot neem aan die boikot en die verregse, bebaarde aanhitsers met hul smalende video’s vol haatspraak op Facebook.

Daar is ’n Spur in die sentrum naaste aan my huis in ’n oorwegend Afrikaanse woonbuurt. Met die boikot begin Afrikaners dus hul eie woonbuurte terroriseer. Vou die Spur, vou die hele sentrum en baie mense is hul werk kwyt. Julle begin kwesbare mense se werk én lewe in gevaar stel. Die Spur steun die Blitsbokke vol (Afrikaanse) helde én krieket en rugby vir (Afrikaanse) kinders op die platteland.

Die boikot druis lynreg in teen Solidariteit se #OnsBou-veldtog.

Ek sal my Spur steun. En met die swart en wit kelners en gaste vriendelik wees, soos hulle altyd is. Dis hoe ek my woonbuurt wil sien.

Afrikaners is beslis nie almal so nie.

Meer oor:  Charles Smith  |  Rassisme  |  Spur  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.