Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek soek ook ’n siekbrief vir ‘werkooreising’
Blou Willem

Lanklaas het ’n koerantberig my so vinnig siek laat voel soos die storie dat werkooreising (oftewel die verlies aan werklus of overgesetsynde “burnout”) nou amptelik deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as ’n siektetoestand verklaar is.

Volgens dié lustelose siekberig word die verlies aan werklus al jare lank deur navorsers bestudeer, maar kon hulle nog nooit voorheen hul wasige bevindinge publiseer nie omdat hulle waarskynlik te moeg was.

Ek het self dadelik moeg gevoel nadat ek die artikel gelees het, na my bloedbelope oë in die spieël gestaar en toe versigtig gaan sit en myself getoets aan die amptelike simptome.

En helaas, volgens die International Classification of Diseases (ICD-11) kwalifiseer ek loshande en lostande vir siekverlof want ek is uitgeput, het minder energie as Medoepie, ek het ’n groter geestelike afstand van my werk, my professionele vaardighede is minder as ooit en dit vat my ten minste twee uur om soggens by die werk te kom, al werk ek van die huis af.

Nou moet ek nog net vir Oudok oortuig om vir my ’n siekbrief te gee en dan dink wat ek daarmee sal maak.

Omdat ek vir myself (en dikwels vir my ander helftetjie) werk, sal ek waarskynlik die siekbrief by haar moet ingee of vir myself onder my kopkussing moet wegsteek.

En Oudok, jy hoef hom net vir so ses weke uit te maak en nee, Oudok, my brose toestand het absoluut niks met die Wêreldbekerkrieket te doen nie.

Ja nee, ’n siekbrief is vir jou ’n lekker ding al daar van eksamendae af.

Ja nee, ’n siekbrief is vir jou ’n lekker ding al daar van eksamendae af. Ek wonder net altyd waar die 42 000 onnies wat elke dag stokkies draai die 42 000 dokters kry om vir hulle siekbriewe te gee.

Oom Johnny het sy eie siekbriefstorie. Ja, eintlik die teenoorgestelde van ’n siekbrief, naamlik ’n brief van die dokter om te verklaar dat jy orraait vir aksie is. ’n Maat van Oom Johnny ondergaan so ’n jaar of twee gelede ’n dubbele hartvatomleidingoperasie. Ná so drie maande wil die man darem weer die are toets en sy eie vroutjie bietjie van nader leer ken, maar sy is versigtig. “Nee ou man, dis te uitputtend vir jou, netnou dooi jy hier in my arms,” gee sy vir hom warm tong en koue boud.

So gaan die ou maar dokter toe en verduidelik van sy dilemma met sy Emma. Die kardioloog luister aandagtig en trek toe sy pen nader en skryf: “Geagte mevrou Nel, hiermee bevestig ek dat meneer Nel in staat is tot enige matige fisiese aktiwiteit, insluitende katelkapperjolle” (of watter mediese term hy ook al gebruik het).

Die ou is soos blits uit by die spreekkamer, maar kom ’n rukkie later terug en vra of hy net so tussenin weer gou vir dok kan sien.

“Het jy iets vergeet, meneer Nel?” vra die kwak.

“Ag, Dokter, kan u dalk net asseblief die aanhef waar u sê ‘Geagte mevrou Nel’ verander na ‘Heil die Leser’ toe?”

Meer oor:  Blou Willem  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.