Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
FW: ‘Ek sou dit weer doen’
Oudpres. FW de Klerk en sy vrou, Elita, vroeër vanjaar op ’n geleentheid van die FW de Klerk-stigting. Foto: GALLO IMAGES

Oudpres. FW de Klerk het tydens ’n webinaar van die Afrikanerbond vrae beantwoord oor kwessies soos die verdwyning van die Nasionale Party en planne om die Wes-Kaap van Suid-Afrika af te stig, berig Johanna van Eeden.

Die Nasionale Party (NP) se verdwyning destyds het ’n leemte gelaat in Suid-Afrika se partypolitieke landskap vir ’n nasionaal-demokratiese party.

Só het oudpres. FW de Klerk, voormalige leier van dié party, verlede Woensdag gesê tydens ’n vir­tuele vraag-en-antwoord-sessie met die Afrikanerbond (AB). De Klerk het die NP beskryf as “net regs van die sentrum” en dit vergelyk met Angela Merkel se Christelike Demokratiese Unie in Duitsland en die Konserwatiewe Party in Engeland.

De Klerk het die verdwyning van die NP, wat in April 2005 amptelik ontbind is, as ’n “jammerte” beskryf. “Waaraan is dit toe te skryf? Aan swak leierskap van dié wat my opgevolg het.”

De Klerk het op die geleentheid ook terugskouend gekyk na mylpale in die destydse onderhandelingsproses wat uiteindelik sou lei tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Die wiele vir magsoordrag is aan die rol gesit met sy geskiedkundige toespraak tydens die parlementsopening op 2 Februarie 1990, waarin De Klerk politieke hervormings aangekondig het.

Hoekom? Omdat as ons dit nie gedoen het nie, sou Suid-Afrika in ’n groot, reuse-krisis verval het. Die bloed sou in die strate gevloei het.

Gevra of hy dinge anders sou doen as hy vandag terugkyk, het hy gesê hy sal weer “al die groot besluite” van destyds neem.

“Hoekom? Omdat as ons dit nie gedoen het nie, sou Suid-Afrika in ’n groot, reuse-krisis verval het. Die bloed sou in die strate gevloei het. Ter wille van wat? Ter wille van ’n beleid . . . wat moreel onregverdigbaar was, ’n beleid wat nie daarin kon slaag om geregtigheid vir almal te bring nie.”

De Klerk het benadruk destydse besluite “was nie die gevolg van druk nie”, maar die gevolg van ’n “gewetenskrisis” waardeur die NP en kerke in die land gegaan het.

“Ons kon nie die toekoms, ook van die Afrikaner, bou op wat moreel verkeerd was nie. Daarom het ons die pad van geregtigheid gekies.

“En al die groot besluite wat ek geneem het, sou ek weer neem, met al die kennis wat ek vandag het. Maar baie kleiner besluite, baie strategiese besluite hier en taktiese besluite daar, sou ek sekerlik beter kon hanteer as wat ons dit inderdaad hanteer het as ek geweet het wat ek nou weet.”

‘Ek het Mandela gewaarsku’

De Klerk het die NP se onttrekking uit die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) op 30 Junie 1996 beskryf as “een van die groot mislukkings” van die onderhandelingsproses. Hy het gesê die NP het hom destyds beywer “vir ’n vorm van magsdeling op uitvoerende gesag -vlak” – iets wat bereik sou kon word met die steun van die destydse Demokratiese Party en die Inkatha-Vryheidsparty. “Met hul ondersteuning sou ons meer as 33% . . . van die stemme gehad het en sou ons so ’n model kon opeis en afdwing in onderhandelinge.

“Sonder hul steun is ons alleen gelaat . . . en ek het vir pres. (Nelson) Mandela gewaarsku ek gaan uittree uit die Regering van Nasionale Eenheid as hulle nie toegee aan ons matige eise in die verband nie. Ons het nie geëis dat die blankes of die minderheidspartye ’n vetoreg moet hê nie.

“Ons het net geëis dat daar ’n konsensus-soekende model moes wees waarna alle sake van nasionale belang verwys word . . . voordat enige toekomstige regering ná die eerste vyf jaar besluite sou kon neem. Dit het hulle afgewys.”

De Klerk glo Suid-Afrika het vandag – soos destyds – ’n situasie nodig “waarin daar gesoek word na konsensus en waar daar nie meerderheidsoorheersing is nie, maar of die ANC ooit te vinde sal wees om so ’n model in te stel sonder om die Grondwet te wysig, is te betwyfel”.

Het die ANC met integriteit onderhandel? Volgens De Klerk kan hy nou met die insig wat tyd bied, sien dat die ANC destyds, soos nou, ook in faksies verdeel was.

Hy onderskei tussen ’n “sterk element” onder leierskap van Mandela “wat ooreenkomste wat bereik is beskou het as ’n besondere moment in die geskiedenis van Suid-Afrika en as die beginpunt van ’n nuwe bedeling waarvan die Grondwet die grondslag sou vorm”.

Maar volgens De Klerk was daar ook ’n faksie wat “bybedoelings gehad het”. En dis dié “negatiewe element” wat volgens hom onder oudpres. Jacob Zuma die oorhand in die ANC gekry het. De Klerk het gesê ’n mens sal moet wag en kyk wat die uitslag van die huidige faksiegevegte in die ANC gaan wees. Hy het uitgewys dat pres. Cyril Ramaphosa ’n kernrol gespeel het in die opstel van die Grondwet “en dat sy uitlatings tot dusver daarop dui dat hy die Grondwet in stand wil hou.”

Sou Ramaphosa se faksie die oorhand kry, “sal die pad vorentoe beter lyk as wat dit gelyk het onder Zuma”, het De Klerk gesê.

Die NP en korrupsie

Hy het toegegee daar was ook onder die NP korrupsie in Suid-Afrika, maar dit is volgens hom “nie verdra” of “oënskynlik toegelaat” nie.

“Dit is beveg deur vervolging waar daar getuienis was van ’n misdaad. Twee van my oudkollegas het tronkstraf uitgedien omdat hulle hulle skuldig gemaak het aan korrupsie terwyl hulle ministers of adjunkministers was.”

De Klerk het gesê hy verwelkom nuwe verwikkelinge in die jongste tyd waarin daar deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke toegeslaan is op korruptes.

“Die tydperk waarin ons verval het in ’n absolute moerás van korrupsie – wat toegesmeer is, wat aangemoedig is, deur selfs die hoogste amp in die land – daardie tyd is hopelik verby.”

Groepsregte en afstigting

Volgens De Klerk is dit “onbillik” om te sê dat groepsregte heeltemal verdwyn het.

Die bepalings in die Grondwet wat die kulturele regte van gemeenskappe beveilig, beskerm en wil bevorder “is net ’n ander woord vir groepsregte”, het hy gesê.

Dit is volgens hom net nie groepsregte genoem nie, omdat die woord in die konteks van die tyd ’n “rassistiese basis” gehad het. Hy het onder meer na die groepsgebiedewet verwys en gesê om tydens onderhandelings na “groepe” te verwys was “vir baie . . . soos ’n rooi doek vir ’n bul”.

Die NP kon dus nie daarin slaag om “die konsep groep” in die Grondwet ingeskryf te kry nie, “maar ons het wel groepsregte – in aanhalingstekens – beveilig gekry tot die mate wat dit wel in die Grondwet rondom kulturele regte, taalregte en gemeenskaplike regte vervat is”.

In dieselfde asem het De Klerk gesê hy dink nie planne om die Wes-Kaap van die res van die land af te stig “kan werk nie”.

Hy meen dit is nie grondwetlik moontlik nie, maar veral nie “verstandig” nie.

Volgens hom is die Wes-Kaapse ekonomie “onlosmaaklik verweef met die ekonomie van die land” waarvan die setel steeds in Gauteng is. “Ek is oortuig daarvan dat die Wes-Kaap hom nie moet losmaak van die res van die land nie. Wat ons eerder moet doen, is om ander sentra van uitnemendheid te skep in die res van die land.”

Regstellende aksie en Trump

De Klerk het gesê hy is bly om te sien dat daar ook uit swart geledere erkenning kom vir die feit dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie misluk het. “Ek glo ons moet bly debat voer oor hoe om die onregte van die verlede te hanteer.”

Dis nodig om standpunt in te neem teen die “ANC se resep vir ongebalanseerde regstellende aksie en SEB”, maar aanvullende voorstelle is nodig oor wat gedoen kan word “om die meer as 50% van ons bevolking wat onder die broodlyn leef se posisie in die lewe te verbeter en hoop in hul harte te plaas, ten minste vir hul kinders as dit dan nie vir hulself is nie.

“Ons moet uitreik na almal in Suid-Afrika wat in nood is en besef ons kan nie in afsondering maar net voortgaan nie.”

Hy het gesê maatskaplike probleme soos armoede en werkloosheid is deels die rede vir misdaad in die land, maar dat die geweld wat daarmee gepaardgaan “totaal onaanvaarbaar, skokkend en diep ontstellend” is.

Dié “buitengewone geweld” kom volgens De Klerk nie net by plaasaanvalle voor nie, maar ook in huisrooftogte en misdade in townships.

Wat verwikkelinge in die internasionale politiek betref, het De Klerk dit verwelkom dat Joe Biden die Amerikaanse presidentsverkiesing gewen het.

Hy het Donald Trump as “gevaarlik, nie net vir die internasionale gemeenskap nie, maar vir sy eie mense” bestempel en gesê hoewel Trump ’n “paar goed reg gedoen het”, is hy onstabiel.

“Ek is nie opgewonde oor Biden nie. Hy inspireer my glad nie. Ek is 84 en hy is so ietwat jonger as ek. Ek dink dit sou ’n ramp wees as ek nou president van Suid-Afrika moes word en daarom dink ek miskien kon hulle iemand sterker en jonger en meer lewenskragtig gevind het.

“Maar kom ons hoop dat hy jonk bly vir sy ouderdom.”

Van Eeden is meningsredakteur van Beeld en Die Burger.

Meer oor:  Joe Biden  |  Johanna Van Eeden  |  Donald Trump  |  Fw De Klerk  |  Nasionale Party  |  Ja-Stem  |  Korrupsie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.