Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek verlang na toeka se bioskope

Dis so lank terug dat ek omtrent niks van Victor Hugo se klassieke drama kan onthou nie. Wat ek wel onthou, is ’n jong Gina Lollobrigida (nou 91) se eertydse, verruklike mosbolletjies – en dat die pragtige meisie met die heuningblonde hare langs my in die agterste ry van die lankal vergete Alhambra-teater in Kaapstad my hand vaster gegryp het wanneer die boggelrugklokkespeler deur die nokke van die nou swartverbrande Notre Dame in Parys gesluip het.

Die destydse Alhambra-teater in Kaapstad. Foto: Wikipedia

As dit nie vir die stoelleunings was nie, was sy pens en pootjies op my skoot. Niks dryf ’n meisie vinniger in jou arms in die agterste ry van ’n donker bioskoop nie as ’n bangmaakfliek soos The Hunchback of Notre Dame, danksy die brand nou uit vergeelde filmargiewe van die verre verlede ontruk.

Al was die Alhambra met sy koepeldak vol klein liggies wat soos sterretjies geskitter het, nie te donker nie. Maar wel donker genoeg om die kat in die donker te kon knyp sonder om die suspisie van ’n nuuskierige plekaanwyser (usherette) met ’n flitslig te wek.

Of was dit in 1958 in die Lantern in Voortrekkerweg, Parow, toe nuut gebou en die voorste rolprentteater in Kaapstad se noordelike voorstede? Die voorportaal was luuks en imposant, die rooi fluweelstoele sag, die skerm reusagtig, die klank goed. En jy kon rook.

En hoe het ons nie gerook nie! Gedurende ’n double feature (twee vollengte-rolprente ná mekaar vir die prys van een) het ’n rookwolk in die projektor se ligbaan gehang. Ná ’n vertoning was die asbakkies in die rugleunings van die rye sitplekke propvol sigaretstompies. Sedertdien tot die buitenste duisternis verdoem, sal die blote gedagte aan dié rokery mense nou die horries te gee.

Verstommend genoeg het niemand juis gekla nie. Die rede was waarskynlik omdat net mooi omtrent almal gerook het. Ook nie net sigarette nie, maar ook sigare en pyp. In my pyprookdae het ek in die dramatiese storttoneel in Alfred Hitchcock se bangmaakprent Psycho (met Anthony Perkins) die steel van my Dr. Macnab, gestop met ’n mengsel Boxer en Navy Cut, morsaf gebyt.

Ek dink dit was in my koshuisdae in die Palladium in Lady Greystraat in die Paarl, toe die Paarl se “vlooifliek”, waar jy nie net na hartelus kon rook nie, maar in die agterste ry ook vir die Springbokspan kon vry.

Johan van Wyk.

Of soos in die vergange bio-cafés, waar jy op ’n skinkbordjie gehaak aan die rugleuning van die ry voor jou ’n milk­shake of ’n ice cream soda in jou sitplek kon kry. Kaapstad het ’n hele paar gehad. Een wat ek onthou, was die Roxy. Die rede? Sy usherettes het die kortste rokkies gedra. Jy kon hul kantbroekies sien wanneer hulle met ’n skinkbordjie in die paadjies op en af gewip het.

Elke voorstad het toe sy eie bioskoop gehad. Nog gewildes was die Grand in Maitland en die Adelphi in Seepunt. Die vier grotes in die Kaapse middestad was die Alhambra, Metro, Colosseum en Van Riebeeck.

Anders as na die bio-cafés en die vlooiflieke het jy veral op ’n Saterdagaand, amper soos op ’n Sondag kerk toe, gestewel en gespoor bioskoop toe gegaan. Selfs op die platteland toe elke dorp sy eie bioskoop gehad het.

Ek verlang terug na Calvinia se Palladium elke keer wanneer DStv se ten duurste en tot die dood toe herhaalde snert my dryf om eerder met my hond langs die see te gaan stap.

Meer oor:  Johan Van Wyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.