Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek waak teen musiekkassette se wederkoms

Musiekkassette is besig om weer gewild te word, berig die Britse koerant The Guardian. Verskeie kunstenaars reik deesdae weer hul albums ook op kassette uit.

Bun Booyens

Ek weet nie of ek moet lag of huil nie, want die musiekkasset is een van die items wat die meeste plesier én pyn tot my lewe toegevoeg het. (Die ander een was ’n bottel Olmeca Tequila by ’n Rodriguez-konsert, maar kom ons laat dit eerder daar.)

Dit is maklik om te onderskat watter rol kassette – tapes, het ons dit genoem – in die 1970’s en ’80’s in jong mense se lewe gespeel het. Die impak was waarskynlik ewe groot as die koms van die draagbare transistorradio in die 1950’s, toe tieners skielik hul musiek oral saam met hulle kon neem.

Die koms van die kasset het dinge een trappie hoër gevoer. Jy kon nou jou musiek – jou eie liedjies – saamdra en luister waarna jy wou. Nou was jy nie meer uitgelewer aan die radio se “DJ” nie.

Die kasset se eintlike forte was dat jy ’n mixtape kon maak, een met, sê maar, lewendige liedjies vir die langpad, ’n ander een met Deep Purple en Uriah Heep vir ’n hoë-impak-partytjie, en dalk een met Simon & Garfunkel, Bread en Carole King as agtergrondmusiek vir ’n stemmige kaasfondue.

Al moet ek dit self sê, ek was ’n meester van die mixtape – fyn gekose liedjies, in die regte volgorde en saamgestel om net mooi die 30 minute op een kant van ’n C60-kasset vol te maak. Net ’n barbaar sou ’n liedjie in die middel afsny of ’n gesuis aan die einde los.

Party van my kassette het destyds kultus­status op kampus bereik. Ek het selfs bootlegs daarvan teëgekom. (Die mense het dan gedog ek is met die helm gebore, want ek kon ná elke liedjie vir hulle sê watter een kom volgende.)

Die tekortkominge van ’n kasset is oorbekend. Ná ’n lang somer voor in jou kar het dit begin lol en het die band in jou Blaupunkt se heads verstrengel geraak. Dan moes jy dit loswikkel sonder om dit te beskadig of rek, versigtig, amper soos ’n militêre sappeur wat ’n bom ontlont.

Tydens ’n lang toer het enige motor amper noodwendig met net twee diensbare kassette opgeskeep gesit.

Kry jy als ongeskonde los, het jy die band weer met ’n potlood op sy spoeletjie teruggekatrol en dan met jou wysvinger so ’n paar keer teen die kant van die kasset getik-tik om te sorg dat als daar binne weer mooi los is.

Tydens ’n lang toer het enige motor amper noodwendig met net twee diensbare kassette opgeskeep gesit. Ek onthou hoe ’n vriend Smokie’s Greatest Hits iewers tussen Groot-Brak en George by die kar se venster uitgegooi het. Selfs die lankmoedigstes onder ons kon “Living Next Door to Alice” net 40 keer trotseer en niks meer nie.

Wanneer ’n “mix”-kasset uiteindelik die gees gegee het – BASF s’n was veral berug – was die verlies groot, want elkeen was uniek. Jy het ’n klein tydkapsule verloor. ’n Stukkie van jou jeug se klankbaan was tot niet.

Meer oor:  Bun Booyens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.