Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek weet skaars waar is noord hier op aarde
Emile Joubert

Hierdie stories van deur die ruimte reis na die planeet Mars is beklemmend. Veral noudat die menslike besetting van die Rooi Planeet binne die volgende eeu na ’n werklikheid begin lyk namate visioenêre soos Elon Musk en Jeff Bezos nie net na die sterre mik nie, maar die weg wil baan vir die besetting van Mars.

Nasa, die Amerikaanse ruimteagentskap, se Perseverance-tuig het onlangs op die planeet geland en danksy duidelike beelde die werklikheid van Mars teruggestuur na ons op Moeder Aarde.

Die wêreld het die tonele van die geheimsinnige planeet met verwondering aanskou. My onmiddellike gedagte was dat daardie landskap in die buitenste ruimte darem baie lyk soos dít wat enigiemand begroet op die pad tussen Calvinia en Brandvlei in die Noord-Kaap.

Dis egter nie die onwelkome fisieke voorkoms van Mars wat my benoud maak vir ’n moontlike uittog daarheen nie. Wel die feit dat as ek nie rigting op aarde kan vind nie, wat is die kans dat dit op die Rooi Planeet sal geskied?

Die bepaal van rigting, soos om jou oos van jou suid en noord van jou wes uit te ken, kom vir party mense natuurlik.

Meer so vir diere. Waar daardie manjifieke salm, die koning van visspesies, ná afloop van sy of haar uitdop in die rivier stroom af wikkel tot die see.

Sodra die blik-stem my vrae na pad en plek antwoord met “head north-east” moet ek eers my kompas, afgelaai op die selfoon, raadpleeg om die tog op ’n akkurate noot te begin.

Daar swem die salm vir jare, deurkruis strome en duisende kilometer se oseane, totdat dit tyd is om aan te teel. Dan kry die visse rigting en keer terug na die vasteland. Vind die presiese rivier waarin hy of sy uitgebroei is, beur op teen die woel-water om eiers te lê, bevrugting te skiet. En die volgende geslag salm word gebore om die spesie van presies dieselfde plek voort te sit.

Hoewel ek nie terugstaan by die soesji-tafels wanneer salmrolletjies aangebied word nie, ontwyk hierdie tipe aanvoeling vir rigting en posisie en plek my.

As lewenslange inwoner van die Kaapse middestad sukkel ek ná meer as ’n halfeeu om te verstaan dat rigting noord daar oor die see by Robbeneiland lê in stede van op die pad na Tygervallei. Tafelberg is ook nie wes nie, en ek voel steeds skuldig teenoor die horde rigting-vraende buitelandse toeriste wat deur my gebrek aan ’n innerlike kompas verwar is.

Die tegnologiese wonder van Google Maps se rigtingwyser help ook net so ver. Sodra die blik-stem my vrae na pad en plek antwoord met “head north-east” moet ek eers my kompas, afgelaai op die selfoon, raadpleeg om die tog op ’n akkurate noot te begin.

Om aan nie net ’n nuwe lewe op Mars te dink nie, maar ’n wêreld met ’n heeltemal nuwe stel rigting-verwysings, is rede om Musk se vlug die ruimte in te verpas.

Een wêreld is meer as voldoende vir hierdie lewe. Hier is daar meer as genoeg om jouself oor te verwonder, want alle paaie lei, uiteindelik, in die regte rigting.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Kaapstad  |  Mars  |  Reis  |  Aarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.