Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Ek wens ek kon as burger van die land bedank’

Nadat twee oorsese toeriste onlangs by Graskop aangeval is, het Willem Landman gevoel asof sy wêreld in duie stort. Om apartheid te blameer is ’n abdikasie van verantwoordelikheid, skryf hy.

Willem Landman by Sossusvlei in Namibië. Foto: Willem Landman

In 1986 sterf my pa as ’n ontnugterde man. Apartheid moes tot ’n einde kom, maar hy het dit nooit meegemaak nie.

Ek was gelukkiger, want ek het 1990 en 1994 meegemaak.

Dit is nie meer so nie. Ons het in ’n nuwe ongeregtigheid versink – niks beter as apartheid nie, blóót met betrekking tot die vernietiging van mense se lewens. Geweld – persoonlik en struktureel – teen een en almal; korrupsie en ineenstortende dienslewering is endemies. En dan word onkunde en inkompetensie gerasionaliseer deur die demonisering van ander – “kolonialiste”, wittes, uitlanders.

As hierdie ongeregtigheid in een van sy gestaltes aan jou eie deur kom klop, voel jy dit soveel intenser, al hou die media ons deurgaans op hoogte daarvan.

Pier en Silvia enkele ure voor die aanval.

Ontmoeting in die Kalahari

Die toeval maak dat ek laas maand vir Pier en Silvia (hulle het gevra dat hul van nie genoem word nie) by ’n lodge aan die Namibiese kant van die Kalahari, naby die Mata Mata-hek van die Kgalagadi-oorgrenspark, ontmoet. Hy is ’n universiteitsdosent en hoof van ’n fotografieskool; sy ’n onderwyseres in ’n middelbare skool.

Van waar in Italië is julle? Turyn. O, sê ek, die kleed van Turyn. Turyn is meer as die Jesuskleed, glimlag hulle. Ons gesels oor ons reiservarings en fotografie.

“Wys my julle reisplan,” vra ek. “Dit lyk vir my na te veel ompaaie. Só gaan julle die Kgalagadi se leeus misloop. Besprekings word dikwels gekanselleer. Gaan praat met Sanparke by Mata Mata.”

Nadat ek die pad gevat het huis toe, kry hulle ’n bespreking in die park. Soos ek hulle aangeraai het, is hulle soggens die eerste om uit Twee Rivieren te ry, reguit na die watergate by Leeudril, Rooiputs, en Kij Kij, om die twee jong maanhaarleeus te soek. Hulle vind die twee en ’n luiperd klim reg by hulle uit ’n boom, seldsaam vir die Kgalagadi. En vele meer. Beter kon dit nie.

Een van die Kgalagadi-leeus. Foto: Willem Landman

Suid-Afrika se skadukant

Van die Kgalagadi is hulle Krugerwildtuin toe; eers na Graskop waar hulle in ’n gastehuis oornag. Ek het ’n ongemaklike gevoel gehad oor daardie reis van hulle dwarsoor die land. Wat kan Italianers weet van die lokvalle in ons rowersnes? Maar ek was ook ongemaklik met paternalisme.

Voordat ek aan hulle kon skryf om te vra hoe dit met hulle in die Kgalagadi gegaan het, skryf hulle eerste aan my. Hulle vertel my van Graskop. Anderkant die bevrydende ooptes van die Kalahari het Suid-Afrika se afskuwelike skadukant hulle voluit getref.

In die middel van die nag word hulle wakker geklop, twee vuurwapens word in hul gesigte gedruk, ’n skoot word teen die grond afgevuur, hulle word besteel van alles (ook die kosbare Kgalagadi-foto’s van die leeus en luiperd), hulle word uitgetrek en buitentoe gesleep na waar ander toeriste uit Israel reeds is. Uiterste aggressie.

Maar dwelms temper die rowers se waaksaamheid en hulle ontsnap in die mistigheid van die nag. Hulle vind ongemaklike heenkome in die polisiestasie totdat Samaritane hulle kom haal en versorg. ’n Israeliese vrou daarenteen word herhaaldelik verkrag.

’n Kgalagadi-luiperd. Foto: Willem Landman

En dan, onderaan hulle e-pos, hierdie verstommende verbintenis: “Somehow, among the darkest images of that night suddenly flashing before our eyes, we have resolved to defend the beautiful memories of our journey and the (South African) people who generously helped us at various stages. You are one of them.”

Ek weet dit kan enige plek in die wêreld gebeur, maar dis my land, en dis erger hier.

Dit voel asof my wêreld in duie stort. Ekstreme woede en magteloosheid. Maar die skaamte is die ergste. Ek wens ek kan dit van my afwas. Ek wens ek kon as burger van die land bedank. Ek weet dit kan enige plek in die wêreld gebeur, maar dis my land, en dis erger hier. Ek sit dit op Facebook, stuur e-posse aan 50 vriende. Die kommentaar stroom in. Dit help om skok en afsku te deel.

Daar is baie sulke stories. Sommiges baie erger. Elke dag. Wat maak ’n mens daarvan?

‘Dis nie meer my land nie’

Persoonlike reaksie val in twee uiterstes – uitwaartse en inwaartse emigrasie; land-uit of reis na binne. Oor laasgenoemde skryf ’n vriend: “Ek het sielkundig afskeid geneem; dis nie meer my land nie.”

Tussen-in lê graderings van emosies en onsekerhede. Elkeen vind ’n manier om dit te verwerk, met uiteenlopende sukses.

Waarom is mense so wreed? En hoe kan dit stopgesit word? Dit is groot vrae waarop daar legio invalshoeke is. Maar gesonde verstand onthul eenvoudige waarhede.

Die ideaal is ’n goeie samelewing waarin wetsgehoorsaamheid uit innerlike oortuiging of van nature kom. Alte dikwels werk dit egter nie so nie, maar is dit die voortdurende bedreiging van straf, in sy verskillende vorms, wat help om gedrag te temper.

Toe Adolf Hitler die SS vrypas gegee het om Jode en kommuniste uit te wis, het oënskynlik opgevoede en beskaafde Duitsers, veral in Pole en Rusland, in wreedheid sonder perke verval.

Om apartheid die skuld te gee, is soos om my lang-oorlede oupa te blameer vir my eie tekortkominge.

Toe die ligte in Manhattan tydens ’n kragonderbreking afgaan, het oënskynlike wetsgehoorsame New Yorkers, onder die dekmantel van die donker, oornag in rowers en diewe ontaard.

Ons is nie inherent slegter of beter as ander nie. Ons wetteloosheid is ten minste ten dele ’n direkte uitvloeisel van ’n kwarteeu se wanbestuur en verwaarlosing van polisiëring en alles wat daarmee saamgaan.

Om apartheid die skuld te gee, is soos om my lang-oorlede oupa te blameer vir my eie tekortkominge. Dit is ’n abdikasie van verantwoordelikheid. Apartheid van gister – hoe boos dit ook al inderdaad was – het nie die ANC gedwing om vandag van die grootste deel van ons polisiemag ’n verleentheid te maak nie.

Wet en orde in ’n see van middelmatigheid

Hoe skep ons wet en orde? Jy begin van voor af met polisiëring. Jy begin deur kundiges te raadpleeg; betrek die gemeenskap; stel ’n strategie op; implementeer en moniteer dit; maak aanpassings; beloon uitnemendheid.

Dit is geen skande om ander se kundigheid te betrek nie. Politici se ego en trots mag tog nie swaarder weeg as die vernietiging van lewens nie. Niemand sal minder van jou dink as jy langs hierdie weg sukses behaal nie. Inteendeel. Net soos die SAID (ten minste aanvanklik), kan wet en orde uitnemend wees, selfs in ’n see van middelmatigheid.

Maar wat staan ons gewone burgers te doen as dit nié gebeur nie? Gelukkig is ons geseënd met ’n benydenswaardige burgerlike samelewing en media. Ons moet eenvoudig individueel en kollektief voortgaan om binne ons vermoëns en geleenthede, op elke moontlike wettige wyse, ongeregtigheid uit te wys en te konfronteer.

Die buiteland moet voortdurend ingelig en in die stryd teen ongeregtigheid betrek word. Dit was immers die buiteland – insluitende Afrika – wat beduidend bygedra het tot die val van apartheid. Dit kan, en moet, weer gebeur.

Politieke ekonomie

Wet en orde is egter slegs volhoubaar binne die breër konteks van ’n gesonde politieke ekonomie. Met die ANC in ’n interne stryd gewikkel, word die ekonomie gekniehalter deur vasklou aan ’n uitgediende ideologie wat nêrens gewerk het nie.

Fondse en hulpbronne wat die lewe vir almal beter sou kon maak, word op astronomiese skaal in die bodemlose put van mislukkende staatsinstellings gestort. Broodnodige investering word afgeskrik.

Elke aspek van ons samelewing ly daaronder, insluitende wet en orde.

Wat kan ons as enkelinge doen te midde van die ideologiese stryd wat oor ons koppe woed?

Op die spel is uiteenlopende en aanvegbare konsepsies van hoe ’n goeie samelewing ingerig en opgebou behoort te word.

Wat kan ons as enkelinge doen te midde van die ideologiese stryd wat oor ons koppe woed? Om die politieke ekonomie op ’n gesonde en volhoubare koers te plaas, is immers veel komplekser as om spesifiek wet en orde te teiken.

Abdikasie of afgetrokkenheid is geen eerbare opsie nie. Ons morele opdrag kan net wees om voort te gaan om te doen wat goeie burgers doen: Binne jou vermoëns, doen wat reg en goed is en konfronteer ongeregtigheid, en die daders daarvan, by elke moontlike geleentheid.

Gelukkig staan dít vas: enige ideologie wat hoogmoedig toelaat dat mense mislei, verneder of verarm word, saai die saad vir sy eie ondergang. Dit was nog altyd so deur die geskiedenis. En dit lyk tog of die tekens daarvan by ons al hoe duideliker word.

*Landman is buitengewone professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Misdaad  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.